Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Regering se planne vir entstof nog nie gefinaliseer

Terwyl die staat onder kritiek deurloop weens sy entstof-strategie, het hy steeds nie sy planne gefinaliseer vir die eerste besending van een miljoen dosisse entstof wat teen volgende Sondag op tuisbodem verwag word nie.

Hoewel vrae bestaan oor of entstowwe doeltreffend sal wees teen die nuwe 501Y.V2-variant wat ’n tweede vlaag van infeksies in Suid-Afrika aandryf, meen wetenskaplikes dit moenie die regering verhinder om so gou as moontlik entstof te bekom nie.

Die eerste een miljoen dosisse is van die Serum-instituut in Indië bekom wat die AstraZeneca-entstof vervaardig. ’n Verdere 500 000 dosisse sal na verwagting in Februarie deur dieselfde instituut gelewer word.

Al dié entstowwe, waarvan ’n mens twee dosisse moet ontvang, is vir gesondheidsorgwerkers geoormerk.

Dit is deel van die eerste fase van die regering se driefase-plan om 40 miljoen Suid-Afrikaners teen einde vanjaar in te ent.

Popo Maja, woordvoerder van die nasionale departement van gesondheid, het Dinsdag gesê dat alles voorlopig op koers is en dat die eerste besending voor die einde van die maand in Suid-Afrika sal arriveer.

Hy erken egter die regering werk nog aan aspekte soos of die entstof ingevlieg sal word, waar dit geberg sal word, hoe dit vervoer sal word en hoe die toediening daarvan sal werk.

Prof. Alex van den Heever, hoof van die Skool van Regeerkunde aan die Universiteit van die Witwatersrand, sê die gebrek aan voorafbeplanning laat vrae ontstaan oor of die regering die publiek oor die verkryging van entstof om die bos probeer lei.

“Dit wys dat die regering daaroor gelieg het dat hy die afgelope sewe maande naarstigtelik besig is met bilaterale onderhandelings, hoewel hy eintlik niks gedoen het nie.”

Pres. Cyril Ramaphosa het onlangs aangekondig dat Suid-Afrika 20 miljoen dosisse wil bekom deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se Covax-projek en deur ’n taakspan van die Afrika-Unie.

Dit wys dat die regering daaroor gelieg het dat hy die afgelope sewe maande naarstigtelik besig is met bilaterale onderhandelings, hoewel hy eintlik niks gedoen het nie.

Die res sal verkry word deur bilaterale onderhandelings met ontwikkelaars, hoewel nog geen van hierdie ooreenkomste onderteken is nie.

Tedros Adhanom Ghebreyesus, direkteur-generaal van die WGO, het Maandag volgens Reuters gesê dat 39 miljoen dosisse entstof reeds in 49 ryker lande toegedien is.

Meer as 44 bilaterale ooreenkomste is verlede jaar onderteken en 12 is vanjaar onderteken.

Prof. Shabir Madhi, bekende entstofkundige, het vroeër gewaarsku Suid-Afrika gaan sukkel om vir die volgende ses maande genoeg entstof te bekom omdat ontwikkelaars reeds voorraad aan lande beloof het wat betyds ooreenkomste gesluit het.

Die Suid-Afrikaanse regering wil egter nie enige besonderhede verklap oor hoe die onderhandelings vorder nie, want volgens die regering is dit aan nie-openbaarmakingsooreenkomste onderhewig.

“Ek glo nie dat die ooreenkomste eens bestaan nie, want ander lande het hul mense op die hoogte gehou van hoe onderhandelings vorder,” beweer Van den Heever.

Ek glo nie dat die ooreenkomste eens bestaan nie, want ander lande het hul mense op die hoogte gehou van hoe onderhandelings vorder.

Khaya Xaba, woordvoerder van die vakbond Nehawu, sê sover is daar vir hulle geen rede om te twyfel dat die eerste miljoen dosisse entstof vir gesondheidsorgwerkers voor die einde van die maand gelewer sal word nie.

“Gesondheidsorgwerkers is baie bekommerd dat hulle Covid-19 sal kry en dit sal hulle meer gerus maak as hulle ingeënt kan word.”

Siviwe Gwarube, DA-woordvoerder oor gesondheid, sê wêreldwyd is daar onsekerheid oor hoe die ontstaan van unieke en onvoorspelbare variante van Covid-19 die doeltreffendheid van entstowwe sal raak, en hoe die scenario homself gaan uitspeel.

Volgens haar moet die regering goed belê in navorsig om te bepaal watter entstowwe die doeltreffendste teen die 501Y.V2-variant werk.

“As die Suid-Afrikaanse regering moet hy egter ’n berekende risiko neem om entstowwe te bekom om ons gesondheidsorgwerkers so gou as moontlik mee in te ent.

“Ons moet die kans waag om weer terug te keer na ’n vlak van normaliteit, hoewel daar geen waarborge is nie.”

Meer oor:  Alex Van Den Heever  |  Shabir Madhi  |  Covid-19  |  Koronavirus  |  Entstof  |  Vlak 3
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.