Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Regsbrief ook vir MRK om verbod op sigarette op te hef

Nou staan die “gewone outjie” op vir homself en sy grondwetlike regte, want dit voel asof die groot tabakmaatskappye, wat hulle al die jare ondersteun, hulle gefaal het.

Gewapen met die Grondwet en ander landswette, sowel as verslae van psigiaters en dokters, het die belangegroep The Smokers Against Lockdown Cigarette Ban – South Africa, Maandag ’n aanmaningsbrief van hul prokureur by onder meer die Uniegebou en die Menseregtekommissie (MRK) se kantoor afgelewer.

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, pres. Cyril Ramaphosa en die MRK het tot Woensdagmiddag om die verbod op die verkoop van tabakprodukte te lig.

Indien nie, sal die rokers se regspan, anders as die ander wat ook besig is met regsprosesse oor dié aangeleentheid, inderdaad die hooggeregshof met ’n dringende aansoek nader, waarsku Christie Briel, hul prokureur.

“Wat hierdie saak onderskei van die ander, is dat die aanmaning ook op die MRK beteken is, én daar is reeds sowat 30 individue wat ook al klagte hieroor by hom ingedien het,” verduidelik sy.

Die prokureursbrief sê die “protesgroep” het byna 40 000 lede op sosiale media en ’n versoekskrif teen die tabakverbod het reeds meer as 600 000 handtekeninge.

Rokers het ook grondwetlike regte

Die prokureursbrief verwys dan na die Grondwet wat bepaal dat alle Suid-Afrikaners fundamentele menseregte het. Dit is van toepassing op alle wette en die wetgewer, die uitvoerende gesag, die regbank en alle staatsentiteite is onderworpe daaraan.

Voorts het elke burger die reg tot privaatheid, wat insluit die reg dat hul persoon of huis niédeursoek word nie, nie op eiendom beslag gelê word nie en die privaatheid van hul gesprekke (communication) nie geskend word nie.

“Hierdie regte mag net beperk word as dit binne die raamwerk van die Grondwet is,” lui die brief.

Voorts, sê Briel, is daar reeds streng wetgewing oor die verkoop van sigarette, sowel as waar mense mag rook. Luidens dié wetgewing het die parlement juis bevind dat die gebruik van tabakprodukte “wydverspreide verslawing” veroorsaak.

Tog het Dlamini-Zuma, desnieteenstaande ’n bestaande wet van die parlement wat sy self aangevoer het, ’n nuwe tabakverbod ingestel.

Daarby, hoewel sy en die wetgewer bewus is daarvan dat rook ’n “wydverspreide verslawing” is, het hulle die verbod ingestel met onmiddellike effek en sonder om enige maatreëls in te stel om verslaafdes by te staan.

“Dit is wreed en ongewone gedrag en ’n duidelike boodskap van die gebrek aan empatie wat ons regering met rokers het.

“Intussen is alkohol nou vrylik beskikbaar, en dit is ’n welbekende feit dat alkoholgebruikers meestal ook rokers is. Wat gaan gebeur as dronk, oproerige verslaafdes nie toegang tot sigarette het nie?” word in die brief gevra.

Briel noem ook talle voorbeelde van hoe die verbod, sowel as hoe dit toegepas word, die grondwetlike regte van die “11 miljoen rokers in Suid-Afrika” skend.

Rokers hou aan rook

“Mense het nié opgehou rook nie. Rokers is nie onkundig oor die gevare nie, maar daar is ’n oorvloed redes hoekom hulle rook, net soos alkoholgebruikers en koffiedrinkers aanhou met daardie produkte, hoewel hul van die gesondheidsgevare bewus is,” lui die brief.

Daar is 1 450 getuigbriewe gereed vir ’n hofsaak rakende die negatiewe gevolge van die tabakverbod, onder andere mense wat hul eie lewe geneem het en voormalige dwelmverslaafdes of mense met sielkundige probleme vir wie dit ’n ondersteuningsmiddel of wettige plaasvervanger vir medikasie en dwelms geword het.

“Ons het verklarings van mediese kundiges wat onder meer sê dat:

  • mense met psigiatriese toestande ’n toename in angs en depressie en selfs selfdoodgedagtes sedert die verbod ervaar;
  • pasiënte wie se toestande gestabiliseer het, insinkings kry; en
  • mense hulself uit mediese geriewe ontslaan in ’n poging om tabakprodukte in die hande te kry.”
  • Een voorbeeld is van die dogter van ’n pasiënt met demensie. Haar pa gaan met rasse skrede agteruit, omdat sigarette sy enigste steunpilaar was.

“Weens sy psigiatriese toestand verstaan hy nie die staat van inperking nie en raak aggressief as hy nie sigarette kry nie.

“Sy familie kan nie die swartmarkpryse bekostig nie en die situasie vererger so dat die dogter vrees dat haar pa tot sterwe gaan kom voordat die verbod gelig is,” lui die brief.

Briel voeg by dat selfs rokers, wat nie aan enige psigiatriese toestande ly nie, simptome van depressie toon weens die ongegronde redes wat vir die verbod verskaf word, oor hoe hulle deur geregsdienaars behandel word en omdat die regering hulle nou dwing om soos misdadigers op te tree om sigarette te bekom.

‘Geen bewyse’

Luidens die aanmaningsbrief is daar geen “rasionaal” agter die regering se besluit oor tabakprodukte nie.

Briel voer aan daar is geen mediese bewyse dat die rookverbod die verspreiding van Covid-19 beperk of die las op gesondheidsdienste verlig nie.

Sy verwys hier na bevindings van die

Wêreldgesondheidsorganisasie wat dit bevestig, sowel as mediese studies in Frankryk.

“Rokers het die reg om te kies wat hulle in die privaatheid van hul huise doen, selfs as dit hul gesondheid beïnvloed, solank dit nie inbreuk op die openbare belang maak of wetgewing oortree nie.

“Rokers kry nie gelyke behandeling nie, want die private gebruik van marijuana is steeds wettig in die privaatheid van jou huis, sowel as die gebruik van alkohol,” sluit die brief af.

Meer oor:  Nkosazana Dlamini-Zuma  |  Vlak 3  |  Inperking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.