Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
OORSIG: Só lyk SA se jongste syfers; Britse premier in waakeenheid

Volg Netwerk24 se regstreekse dekking oor die jongste verwikkelinge rakende Covid-19 hier.

  • Meer as 70 000 mense is reeds volgens die gesaghebbende Johns Hopkins-universiteit dood in die Covid-19-pandemie.
  • Die Britse premier, Boris Johnson, is Maandagaand laat na die waakeenheid van die St. Thomas-hospitaal in Londen geskuif. Hy is Sondagaand gehospitaliseer weens voortdurende Covid-19-simptome. 
  • Japan sal binnekort 'n noodtoestand afkondig in 'n poging om die verspreiding van die Covid-19-virus te vertraag.
  • Die infeksie- en sterftesyfer in Spanje het Maandag steeds 'n afwaarste kurwe getoon.
  • Die pandemie is die grootste uitdaging nóg vir die Europese Unie sedert sy ontstaan, het Angela Merkel, Duitse bondskanselier, gesê. 
koronavirus, maandag 6 april 2020

Boris het suurstof gekry 

SkyNews se Beth Rigby het Maandagaand laat berig Boris Johnson het suurstof ontvang voordat hy na 'n waakeenheid in die St. Thomas-hospitaal in Londen verskuif is.

Johnson is Sondagaand opgeneem nadat hy 11 dae tevore bekend gemaak het dat hy positief vir die Covid-19-virussiekte getoets het. 

Johnson het selfs vroeër Maandag getwiet om te sê hy word goed versorg en dat hy besig is om te werk.

Volgens berigte het sy toestand laatmiddag verswak, maar die premier is nie op 'n ventilator geplaas nie. 

Talle politici het Boris Johnson Maandagaand beterskap op Twitter toegewens. 

06 Apr. 21:35:35

Boris vra Dominic om sy plek in te neem

Volgens berigte is Boris Johnson nie aan 'n ventilator gekoppel nie en het hy gevra dat Dominic Raab, die minister van buitelandse sake, sy plek inneem.

"Die premier ontvang uitstekende sorg en bedank al die NHS-personeel (lede van die nasionale gesondheidsorgstelsel) vir hul harde werk en toewyding," het 10 Downing Street in 'n verklaring gesê.



SA se jongste syfers

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Maandag in 'n verklaring gesê die infeksies met die Covid-19-virussiekte het met 31 tot 1 686 gestyg. 

Die sterftesyfer in die land is nou 12 ná die dood van 'n 57-jarige man in die Wes-Kaap wat op 5 April gehospitaliseer is.

Boris in waakeenheid

Boris Johnson, die Britse premier, se toestand het versleg en hy is as 'n voorsorgmaatreël na 'n waakeenheid in die St. Thomas-hospitaal in Londen geskuif. 

Johnson het 11 dae gelede bekend gemaak dat hy positief vir die Covid-19-virus getoets het. Hy het homself in isolasie in 'n woonstel langs die premierswoning, 10 Downing Street, geplaas. 

Hy het vroeër Maandag ook op Twitter geskryf dat hy uitstekende sorg ontvang.


Grafte in New York se parke?

Mark D. Levine, voorsitter van die stad New York se gesondheidskomitee, het op Twitter gesê sprake dat tydelike grafte in parke in die stad gegrawe sal word, is net in 'n beplanningsfase en sal nie nodig wees indien die sterftesyfer in die stad afplat nie.

Volgens Levine sal die grafte op 'n ordelike wyse gegrawe word en sal dit slegs gedoen word om tonele soos dié in Italië te voorkom toe die weermag lyke uit die straat en kerke moes verwyder.

Levine sê die situasie is tans soos 'n "voortdurende 9/11''. 


Lees die volledige berig by SkyNews.
06 Apr. 21:10:09

Amerika ontken buitery van maskers

Amerika “dra geen kennis” van ’n besending gesigmaskers wat na Duitsland op pad was maar toe glo volgens beamptes in Berlyn deur Amerika op ’n lughawe in Bangkok onderskep is nie, het ’n woordvoerder van die Amerikaanse ambassade in Thailand gesê.

Dit kom nadat Andreas Geisel, Duitse minister van binnelandse sake, Vrydag gesê het dat ’n besending van 200 000 maskers wat van die maatskappy 3M na Duitsland onderweg was, is in Bangkok “gekonfiskeer” en na Amerika herlei is.

Geisel het dit “ ’n daad van moderne seerowery” genoem.

“Die VSA het geen stappe gedoen om enige voorraad maskers wat vir Duitsland bestem was te herlei nie en dra ook geen kennis van so ’n versending nie,” het Jillian Bonnardeaux, die ambassade se woordvoerder, Sondag aan Reuters gesê. 

06 Apr. 20:24:23

Hoogste sterftesyfer nóg in Frankryk

Die hoogste sterftesyfer nóg in Frankryk sedert die uitbreek van die koronavirus-pandemie is die afgelope 24 uur aangeteken, berig die BBC. 

Altesaam 833 mense is in hospitale en verpleeghuise dood, het die Franse minister van gesondheid, Olivier Véran, Maandag aangekondig.

Frankryk het naas Italië en Spanje die hoogste sterftesyfer ter wêreld. 

"Ons het nog nie die piek van die pandemie bereik nie," het Véran gesê. 


06 Apr. 19:59:32

1,3 miljoen bevestigde gevalle wêreldwyd

Die infeksiesyfer vir die Covid-19-virussiekte het Maandagaand die 1,3 miljoen-perk verbygesteek, volgens data wat die Johns Hopkins-universiteit insamel. 

Vroeër Maandag het reeds 70 000 mense wêreldwyd gesterf. 

Die meeste van die sterfgevalle was volgens die data van die universiteit in Italië (16 523), gevolg deur Spanje (13 169), Frankryk (8 078) en Brittanje (5 371). 

Boris twiet uit hospitaal

Boris Johnson, Britse premier, is in 'n "goeie luim" nadat hy Sondag 'n gemaklike aand in die hospitaal deurgebring het, het 10 Downing Street Maandagaand in 'n verklaring gesê.

Die premier is Sondagaand na die St. Thomas-hospitaal in Londen gebring weens 'n hardnekkige hoë koors. Johnson het 11 dae gelede bekend gemaak dat hy positief vir Covid-19 getoets het.

Volgens 'n woordvoerder van 10 Downing Street, die premier se ampswoning, werk Johnson in die hospitaal en hou hy die leisels van die Britse regering steeds vas. 

Die woordvoerder wou geen nader besonderhede gee oor wanneer Johnson ontslaan sal word nie. 

Meer oor:  Koronavirus  |  Covid-19-Virus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.