Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
OORSIG: Vakansies dalk ingeboet om skooljaar te red

WAT JY TOT DUSVER MOET WEET

  • Inperking in Suid-Afrika is met twee weke verleng tot einde April.
  • 2 003 gevalle in Suid-Afrika is al aangemeld met 24 bevestigde sterftes.
  • Afrika: Met infeksies wat na plattelandse gebiede versprei, maan die WGO die prentjie raak al hoe donkerder vir die vasteland.
  • Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, bring die portefeuljekomitee oor gesondheid vanaand op die hoogte van die jongste verwikkelings.
  • Die sterftesyfer wêreldwyd het Vrydagaand 100 000 oorskry.



10 Apr. 21:16:15

Vakansies dalk ingeboet om skooljaar te red

Teen einde April sal Suid-Afrika se leerlinge reeds 40 dae van onderwys gemis het, sê Angie Motshekga, minister van basiese onderwys.

Sy het Vrydagaand in ’n telefoniese onderhoud op eTV-nuus Suid-Afrikaners weer verseker dat die 2020-skooljaar ondanks die uitbreking van die Covid-19-virussiekte suksesvol afgehandel sal word.

“Een van die planne is om vakansies in Junie en September te laat vaar.

"Dit is egter in dié stadium net ’n oorweging.

“Ons het verskillende scenario’s bestudeer ten opsigte van wat moontlik is en sal ons voorstel volgende week aan die kabinet voorlê."

10 Apr. 20:56:07

Op 9 Januarie sterf eerste mens aan Covid-19 en teen Vrydagaand is 100 000 mense wêreldwyd dood

Op 9 Januarie is die eerste mens aan Covid-19 dood - in Wuhan in China.

Dit het 83 dae geneem vir 50 000 sterftes om aangeteken te word en net nóg agt dae vir die syfer om Vrydagaand tot 100 000 te styg.

Die daaglikse sterftesyfer het die afgelope week toegeneem met tussen 6% en 10% en daar is Donderdag wêreldwyd byna 7 300 sterftes aangeteken.

Die 100 000 sterftes wat Vrydag aangeteken is uit 1,6 miljoen gevalle, dui op 'n sterftesyfer van 6,25%, maar baie kenners meen die ware syfer is laer weens gevalle met ligte of geen simptome. Wanneer geïnfekteerde mense nie simptome het nie, word hulle nie in die totaal ingesluit nie.

Sommige lande, soos Italië, Frankryk, Algerië, Nederland, Spanje en Brittanje rapporteer dat meer as 10% van alle bevestigde gevalle gesterf het.

* Die land wat die swaarste getref is, is Italië met 18 849 sterftes, die VSA is volgende met 17 923 sterftes en derde is Spanje met 15 970 sterftes. - Reuters

10 Apr. 19:43:13

Italië verleng inperking tot in Mei

Italie het pas sy inperkingstyd verleng tot 3 Mei.

Dit sou aanvanklik op 13 April geëindig het.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie het Vrydag gewaarsku lande moenie te gou hul inperkingsmaatreëls verslap nie omdat dit weer 'n skerp styging in gevalle kan meebring as dit nie goed deurdag is en behoorlik beheer word nie.

Dit kom nadat Spanje besluit het om werknemers in sekere nie-noodsaaklike bedrywe soos konstruksie van Maandag af toe te laat om terug werk toe te gaan. 15 843 mense in Spanje het weens die virus gesterf.


10 Apr. 19:30:23

Dalk slaan SA 'n ander koers in ...

Mkhize sê die feit dat minder mense as verwag met Covid-19 in hospitale beland, kan daarop dui dat inperkingsmaatreëls vrugte afwerp en dat Suid-Afrika ’n ander koers inslaan as lande wat massas pasiënte moes behandel.

Volgens hom kan die komende winterseisoen, asook die opheffing van die staat van inperking, weer ’n styging in die koers van infeksies veroorsaak. 

Hy sê wanneer die staat van inperking opgehef word, moet gemeenskappe maskers ontvang, groot siftingsprosesse sal moet voortgaan, kontakte sal nagespoor moet word, infeksiebrandpunte moet geteiken word, terwyl mense steeds ’n gesonde afstand sal moet handhaaf. 

“Ons sal daarmee moet volhou totdat mense immuniteit opbou of 'n entstof ontwikkel word,” sê Mkhize.

10 Apr. 19:19:32

Skooljaar sál voltooi word, al moet vakansietyd ingeboet word - Angie

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het Suid-Afrikaners opnuut verseker dat die 2020-skooljaar ondanks die uitbreking van die Covid-19-virussiekte, suksesvol afgehandel sal word. 

Motshekga het in ’n telefoniese onderhoud aan eNCA gesê een opsie is om die skoolvakansies te verkort en sodra dit moontlik is klasse vir gr. 12’s en gr. 8’s eerste in te faseer. 

Intussen kan leerlinge aan aanlyn werksessies deelneem om op datum te bly met hul werk. Die departement van basiese onderwys bied tans onderrigpakkette en -programme vir leerlinge op sy webtuiste aan sowel as lesse op televisie en aanlyn. 

Motshekga het reeds kort voor die verlenging van die nasionale staat van inperking beloof dat alles moontlik gedoen sal word om te verseker dat die sowat 600 000 matrikulante ondanks die huidige onsekerheid oor wanneer skole sal heropen, wel vanjaar hul eindeksamens sal aflê. 

Sy het toe ook gesê die skoolkurrikulum kan herorganiseer word, indien nodig.  “Ons kan dit nie bekostig om die handdoek in te gooi met die huidige skooljaar nie, vir veral matrikulante. Matrikulante sal gereed wees. Ons sal seker maak hulle skryf hul eindeksamens,” het Motshekga toe gesê.

10 Apr. 19:11:14

Op die virtuele vergadering met die portefeuljekomitee oor gesondheid, praat dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, oor die Durbanse hospitaal - St. Augustine’s - wat gesluit is nadat drie mense daar dood is.

Volgens hom het 66 mense daar positief getoets.

48 verpleegsters was positief, asook 15 pasiënte. 

“Dit is baie duidelik dat daar was ’n pasiënt-zero was met wie gesondheidsorgwerkers vermoedelik in aanraking gekom het en dit het toe tussen verpleegsters, ander personeel en na pasiënte versprei.

10 Apr. 19:01:11

Kruin van Covid-19 in SA in September verwag

Dr. Anban Pillay, direkteur-generaal van die departement van gesondheid, sê op ’n virtuele vergadering van die parlementêre portefeuljekomitee oor gesondheid projeksies wys Suid-Afrika sou die kruin van die Covid-19-pandemie in Julie sonder die staat van inperking bereik het. 

Projeksies wys egter die piek sal nou in September bereik word. Volgens hom sal sekere infeksiebrandpunte in Gauteng, die Wes-Kaap, die Vrystaat en KwaZulu-Natal teen September die ergste getref word en voorbereidings moet getref word. 

Hy benadruk dat die inperkingsmaatreëls gehelp het om die koers van infeksies te laat afplat. Dit styg egter nie stadig genoeg dat die gesondheidstelsel nie oorweldig sal word nie. 

Volgens Pillay wys siftingstoetse in gemeenskappe dat die virus nie so wydverspreid is as wat aanvanklik verwag is nie. 1 501 mense is in gemeenskappe getoets en 29 het positief getoets. 

Hy sê die regering het 1 644 plekke vir kwarantyn in die verskillende provinsies aangewys. Meer as 800 kontakte kon nog nie nagespoor word nie, maar selfoontegnologie word ingespan om hulle op te spoor en hul bewegings te monitor.

10 Apr. 18:54:56

Die jongste Covid-19-statistieke wêreldwyd - meer as 100 000 sterf

Daar is teen Vrydagaand 100 371 mense dood;

1 652 643 mense het die virus; en

369 927 mense het herstel.

Volgens die John Hopkins University Tracker is Italië die ergste geraak met 18 849 sterftes, gevolg deur die VSA met 17 923 en Spanje 15970

10 Apr. 16:48:09

Byna 'n 100 000 mense wêreldwyd het al gesterf weens Covid-19, wys die jongste syfers.

10 Apr. 16:34:11

Lidmate van die Nkanyezi Christian Assembly of God in Meadowlands, Soweto, kom op Paas-Vrydag bymekaar om te bid. Foto: Felix Dlangamandla

Meer oor:  Coronavirus  |  Koronavirus  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.