Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
OORSIG: WGO-hoof kap terug ná Trump se kritiek

IN 'N NEUTEDOP:

  • LYKSHUISE: Alle metro-owerhede en distriksmunisipaliteite landwyd moet binne 48 uur aan die nasionale departement van gesondheid ’n lys van geskikte en goedgekeurde lykshuise stuur waarheen die lyke van die slagoffers van die Covid-19-pandemie geneem kan word.
  • MINISTER SE BLAPS: Stella Ndabeni-Abrahams, minister van kommunikasie en digitale tegnologie, is deur pres. Cyril Ramaphosa op twee maande se spesiale verlof geplaas omdat sy die regulasies van die staat van inperking oortree het. Sy moet alle Suid-Afrikaners ook om verskoning vra. 
  • BRITSE PREMIER: Boris Johnson word steeds in 'n Londense hospitaal weens Covid-19-komplikasies behandel.

JONGSTE SYFERS IN SA

  • Daar is tans 1 845 bevestigde gevalle van Covid-19 in die land.
  • Die departement van gesondheid sê 18 mense het weens die virus gesterf.
koronavirus, 8 april

JONGSTE SYFERS WÊRELDWYD

  • Die dodetal wêreldwyd het Woensdagoggend die 82 000-kerf verbygesteek, volgens data van die Johns Hopkins-universiteit. 
  • Meer as 1,4 miljoen mense het reeds die virus opgedoen.

08 Apr. 22:46:46

Die syfers Woensdag om 22:50 volgens die Johns Hopkins-universiteit se data: 

1 495 051 

mense is wêreldwyd met die Covid-19-virus besmet

87 469

is reeds wêreldwyd dood

317 640

kon al van die Covid-19-virus herstel

08 Apr. 22:45:25

Brittanje sê gou oor inperking

Britse kabinetslede sal Donderdag die verlenging of verslapping van die inperkings in die land bespreek.

Boris Johnson, Britse premier, het op 23 Maart toe hy die inperkingsmaatreëls in die land afgekondig het, gesê dié maatreëls sal elke drie weke heroorweeg word. Eerskomende Maandag is die eerste drie weke van inperking in die VK verby.


08 Apr. 22:27:05

Vryheid in Wuhan

Inwoners van die Chinese stad Wuhan, waar die koronavirus in Desember verlede jaar die eerste keer aangemeld is, kon Woensdag ná 'n reisverbod van 76 dae weer vrylik reis. Meer as 55 000 mense sou na verwagting Woensdag per trein, pad en vliegtuig uit die stad reis.  Foto: AP

AU steun ook die WGO

Die Afrika-Unie (AU) steun die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se direkteur-generaal, dr. Tedros Adhanom Ghebreyesus, se hantering van die koronavirus-pandemie.

Pres. Cyril Ramaphosa het Woensdagaand in 'n verklaring as voorsitter van die AU Ghebreyesus se hantering van die koronavirus-pandemie geloof.

Ramaphosa het vroeër Woensdag reeds sy steun vir Ghebreyesus getwiet nadat pres. Donald Trump van Amerika Dinsdag in 'n twiet die WGO se hantering van die pandemie gekritiseer en gesê het dat dié organisasie te veel op China fokus. Trump het ook gesê Amerika sal sy finansiële steun aan die WGO in heroorweging neem.

Ghebreyesus het Woensdagaand op 'n mediakonferensie in Genève, Switserland, gesê die pandemie moenie 'n politieke speelbal word nie. 

Hy het gesê hy steur hom nie aan rassistiese aanmerkings en doodsdreigemente nie.

''Ek is trots daarop om swart te wees.''

Met verwysing na gerugte dat entstowwe vir Covid-19 in Afrika getoets sal word, het hy gesê wanneer mense in Afrika beledig word, word 'n grens oorgesteek.

08 Apr. 21:56:35

Muhammed Essop sit in Lenasia, suid van Johannesburg, en wag om vir die Covid-19-virussiekte getoets te word. Teen Woensdag is reeds 63 776 toetse gedoen.  Foto: AP 

08 Apr. 21:53:03

SAL se vliegtuie ingespan vir noodsaaklike vragvlugte

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se vragafdeling, SAA Cargo, het te midde van die behoefte aan noodsaaklike invoergoedere vir die eerste keer tot nog toe ’n passasiersvliegtuig ingespan om vrag te vervoer.

Klik hier om die volledige berig te lees.
08 Apr. 21:52:06

So versprei Covid-19 van gebedsbyeenkoms

Verreweg die meeste gevalle van Covid-19 in die Vrystaat en die Noord-Kaap kan teruggespeur word na die Jerusalem-gebedsbyeenkomste wat vroeg in Maart in Bloemfontein gehou is.

Vyf buitelandse geestelike leiers wat dit bygewoon het, is later almal positief getoets, en bekendes soos die evangelis Angus Buchan, sy vrou, Jill, eerw. Kenneth Meshoe, leier van die ACDP, en Steve Swart, ACDP-LP, is daar aangesteek.

Klik hier om die volledige storie te lees.
08 Apr. 21:49:25

SAL vat 200 Brasiliane huis toe

’n Groep Brasiliane wat in Suid-Afrika gestrand was, is nou veilig tuis nadat hulle uit die land gerepatrieer is.

Hulle is Maandag met ’n vlug van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) uit die land.

Tlali Tlali, SAL-woordvoerder, sê meer as 200 passasiers was op die vliegtuig en het veilig in São Paulo in Brasilië geland.

“Ons het in Johannesburg met 119 passasiers vertrek en nog 130 in Kaapstad opgetel voordat die vliegtuig na Brasilië is,” sê Tlali.

Klik hier om die volledige berig te lees.
08 Apr. 21:45:47

4 sterftes in KZN-hospitaal het virus dalk daar opgedoen

Die vier pasiënte van die Netcare St. Augustine's-hospitaal in Durban wat aan die Covid-19-virus dood is, het dit vermoedelik in dié hospitaal gekry.

“Ons is seker twee van die pasiënte het dit in die hospitaal opgedoen omdat hulle asimptomaties was toe hulle opgeneem is. Hulle het ook geen reisgeskiedenis gehad wat daarop kon dui dat hulle moontlik die virus onder lede het nie,” het dr. Richard Friedland, uitvoerende hoof van die Netcare-groep, Woensdag aan Netwerk24 gesê.

“Die ander twee se dood word nog ondersoek, maar ons kan hulle nie klassifiseer as pasiënte van buite nie (pasiënte wat reeds simptome gehad het en daarom hospitaal toe gekom het), wat beteken dat hulle dit heel moontlik in die hospitaal opgedoen het.”

Mediese personeel stap vandeesweek buite die St. Augustine's-hospitaal in Durban. Foto: AP 

Klik hier om die volledige berig te lees.
08 Apr. 21:41:33

Die oorskot van 'n Covid-19-slagoffer word uit die Kingsbrook- Joodse mediese sentrum in Brooklyn, New York, verwyder. Foto: Reuters 

Meer oor:  Suid-Afrika  |  Wêreldwyd  |  Covid-19  |  Korona  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.