Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
OORSIG: Bly tuis; ons staar 'n ramp in die gesig
  • Daar is tans 709 Covid-19-gevalle in Suid-Afrika.
  • Meer as 450 000 gevalle van Covid-19 is al wêreldwyd aangemeld.
IN 'N NEUTEDOP:

Vir die volgende 21 dae mag jy nie:

  • Jou huis of erf verlaat nie, tensy jy ’n noodsaaklike diens moet verrig of bekom, ’n maatskaplike toelaag moet gaan haal, of in ’n mediese noodsituasie verkeer (’n ongevalle-pasiënt) of mediese behandeling vir ’n kroniese toestand moet ontvang.
  • Saamtrekke word verbied. Daar word voorsiening gemaak vir begrafnisse wat deur ’n maksimum van 50 mense bygewoon mag word. Nagwake word verbied.
  • Niemand mag tussen provinsies beweeg nie.
  • Niemand mag tussen stede of verskillende munisipale streke beweeg nie.
  • Alle ondernemings sal hul deure sluit, tensy hulle ingesluit word op die lys van noodsaaklike dienste.


Volg Netwerk24 se dekking oor die jongste van die koronavirussiekte Covid-19 en sy gevolge hier.

25 Mrt. 22:44:41

‘Pryse durf nie opgaan,’ waarsku kommissie

Tembinkosi Bonakele, voorsitter van die Mededingingskommissie, het Suid-Afrikaanse handelaars Woensdagaand weer gewaarsku om nie die prys van noodsaaklike produkte tydens die nasionale staat van inperking te verhoog nie.

Klik hier om die volledige storie te lees.

Inperking: Regulasies soos in Staatskoerant gepubliseer

Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering, het Woensdag amptelik die regulasies vir die staat van inperking wat Maandagaand deur pres. Cyryl Ramaphosa aangekondig is, in die staatskoerant gepubliseer. Die regulasies is in terme van artikel 3 van die Wet op Rampbestuur van 2002 gepromulgeer en maak onder meer voorsiening daarvoor om die beweging van mense drasties te beperk – behalwe in gevalle waar hulle ‘n noodsaaklike diens bied of benodig, ‘n maatskaplike toelaag moet gaan haal of chroniese of lewensnoodsaaklike mediese hulp benodig.

Klik hier om die Staatskoerant te lees.
25 Mrt. 22:10:17

Koronavirus-man van KZN vas vir poging tot moord

’n Sakeman van KwaZulu-Natal is in hegtenis geneem omdat hy nie volgens instruksie onder kwarantyn gebly het nadat hy positief vir die koronavirus getoets het nie. Volgens brig. Vish Naidoo ondersoek die polisie in Ladysmith nou ’n saak van poging tot moord teen die man.

Klik hier vir die volledige artikel.
25 Mrt. 22:09:35

Stap met hond, elmboog lig is uit vir 21 dae

Vergeet daarvan om van Vrydagoggend af vir die volgende drie weke met die nasionale staat van inperking met jou hond te gaan stap. Bheki Cele, minister van polisie, sê jy moet maar met jou hond om die huis stap om haar of hom oefening te gee. En dié mense wat soggens of saans wil gaan draf?

Klik hier vir die volledige artikel

Die Four Season-hotel in New York sal huisvesting verskaf aan gesondheidsdienspersoneel. Die goewerneur van New York, Andrew Cuomo, het op Twitter sy dankbaarheid uitgespreek. 

Koningin Elizabeth, wat in selfisolasie in Windsor-kasteel is, maar steeds met haar pligte voortgaan, het Woensdag haar weekliks audiënsie met die Britse premier, Boris Johnson, gehad. Die twee het telefonies met mekaar gepraat. Buckinghampaleis het Woensdagaand dié foto van die koningin en Johnson op sosiale media uitgereik. 

Kik hier om na Netwerk24 se podsending - Wanneer gaan die koningin haar stilte oor Covid-19 breek - te luister.
25 Mrt. 21:36:30

Spaanse dodetal hoër as dié in China

Nog 700 sterftes het Woensdag Spanje se sterftesyfer opgestoot na 3 434, hoër as die sterftesyfer in China waar die koronavirus in Desember uitgebreek het.  Die sterftesyfer in China was 3 163. Italië se sterftesyfer is steeds naas China die hoogste, met 7 053 sterftes. 

Die polisie het Woensdag wag gestaan buite 'n ysskaatsbaan in Madrid wat inderhaas die liggame van slagoffers van die virus moet huisves.

25 Mrt. 21:32:54

Meer as 'n duisend al dood in Frankryk

Nóg 231 mense is dood aan die koronavirus in Frankryk. Dit bring dié land se sterftesyfer weens die virus nou op 1 331 te staan. 

Frankryk is in die tweede week van 'n staat van inperking.

Tans word net die sterftes van mense in hospitale bygewerk, maar volgens die regering sal sterfgevalle in tehuise vir bejaardes binnekort bygewerk kan word. Dit sal vermoedelik tot 'n groter styging in die sterftesyfer lei, berig Al-Jazeera. 

Daar is tans 25 233 koronagevalle in Frankryk. 


25 Mrt. 21:03:38

Paaie in New York toegemaak 

Die stad New York het Woensdag dringende maatreëls aangekondig om die verspreiding van die koronavirus te vertraag. 

Inwoners is gevra om hulle vrywillig van enige kontaksport in openbare parke te weerhou.

Strate word ook afgesper.

Goewerneur Andrew Cuomo sê hy hoop meer mense sal gevolglik sosiale distansiëring toepas deur in die strate te loop. 

New York is tans die episentrum van die virus in Amerika, met meer as 30 800 mense wat positief vir die virus in die staat getoets het en meer as 17 800 wat positief in die stad New York getoets het. Meer as die helfte van Amerika se besmettes is in die staat New York. 

Cuomo, wat deur pres. Donald Trump as 'n teenstander gesien word, hou daagliks 'n mediakonferensie oor die korona-pandemie.

Hy het Woensdag gesê dit lyk of die staat se maatreëls om die virus se verspreiding te vertraag vrugte afwerp omdat die syfer vir mense wat hospitalisering benodig, die afgelope paar dae afgeneem het. 

Ander state benewens die state met besmettingsyfers -  soos Kalifornië, Washington en Louisiana -  se gesondheidstelsels begin ook nou swaarkry weens die pandemie. - Reuters 

Meer oor:  Coronavirus  |  Koronavirus  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.