Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
OORSIG: Só verloop dag 2 van inperkings

Suid-Afrika gaan sy tweede dag van 'n staat van inperking binne.

Wat jy tot dusver moet weet:

  • Suid-Afrika het een sterfte weens Covid-19. Die getal infeksies staan nou op 1187.
  • Die Weermag het al sy reserwemagte opgeroep.
  • 'n Tweede SAUK-werknemer het positief vir Covid-19 getoets
  • Angie Motshekga sê alles moontlik gaan gedoen word om skooljaar te red.

Die ministers in die nasionale bevelsraad belas met die Covid-19-krisis het die land vanmiddag op hoogte gebring oor die inperkingsmaatreëls. Kyk hier na 'n opname van die nuuskonferensie:

Volg die jongste oor die koronavirus hier.

28 Mrt. 20:32:53

SA het nou 1187 gevalle van Covid-19

Die jongste syfers deur die departement van gesondheid toon dat Suid-Afrika nou 1187 gevalle van Covid-19 het.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid sê in 'n verklaring dit dui glad nie op 'n vermindering in die infeksiekoers nie. "Dit is bloot 'n weerspieëling van die positiewe uitslae wat ons ontvang het, geverifieer het en bekend kan maak."

28 Mrt. 19:52:36

Weermag roep reserwemag op

Die Weermag het Saterdagaand alle reserwemaglede met onmiddellike effek opgeroep.

Siphiwe Dlamini, woordvoerder, het Saterdagaand gesê die reserwemag sal presies doen wat die staandemaglede reeds doen in die optrede om die koronavirus te beperk. Hulle gaan help dat mense die nasionale bevel van inperking gehoorsaam, asook betrokke wees by ander optredes in stede en die platteland.

Die Suid-Afrikaanse Militêre Mediese Diens het ook al sy reserwemaglede opgeroep, insluitend dokters, verpleegsters, noodwerkers en ander praktisyns uit verskeie mediese velde. 

28 Mrt. 17:11:21

Nóg 'n SAUK-werknemer positief getoets

Die SAUK sê 'n werknemer by sy hoofkantoor in Auckland Park het positief getoets vir Covid-19.

Die uitsaaier het op Twitter gesê die werknemer was betrokke by sy navorsingsafdeling vir nuus. "Die werknemer is met siekverlof en is tans in die hospitaal," luidens die twiet.

Almal wat in dieselfde omgewing was as die siek werknemer, werk reeds van die huis af as deel van die SAUK se gebeurlikheidsplan. 

Ulrich Hendriks, van die SAUK se Kimberley-kantoor is in isolasie en word dopgehou nadat hy die eerste werknemer was wat positief getoets het.  Die SAUK het sy Kimberley-kantore daarna gesluit.


Ulrich Hendriks
28 Mrt. 15:57:16

Nog onseker wanneer skole wél weer open

Ouers met skoolgaande kinders sal ná 16 April vanjaar hoor wanneer skole oor die land heen sal heropen, sê Angie Motshekga, minister van basiese onderwys.

Sy het Saterdag ook gesê dat sy op 16 April, wanneer skole aanvanklik veronderstel was om te heropen, 'n telekonferensie met alle belanghebbendes in die onderwys sal hê “om die situasie te assesseer“.

Ons sal dan oor die volgende stap besluit. Ons is dus in dié stadium nog nie seker wanneer die skole weer sal open nie.

“Ons sal ons ook deur die departement van gesondheid laat lei. 

"As ons die 2020-skooljaar wil red, moet ons al die moontlike doen om terug te keer na 'n soort normaliteit.

“Ons sal dus ná 16 April met die nasie praat om hulle in te lig oor waar ons met die heropening van skole staan,” het Motshekga gesê.

28 Mrt. 15:43:37

Regulasie oor geskeide ouers se kinders

Kinders van geskeide ouers wat wat albei toesigregte oor hulle het, moet vir die duur van die staat van inperking by die ouer bly by wie hulle was toe dit begin het.

Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, het Saterdag in Pretoria gesê die regulasies van die inperking bepaal dat dit gedoen moet word om die kinders ten alle tye teen die siekte te beskerm.

"Dit is in die belang van die kinders en die ouers dat hulle nie in die tyd van inperking tussen ouers beweeg nie."

“Dit gaan oor meer as net die ouers en kinders, dit gaan oor die land in die geheel.”

Intussen het Jackson Mthembu, minister in die presidensie, op dieselfde nuuskonferensie mediaberigte van internasionale mediainstellings ontken dat die regering se maatreëls vir die inperking erger is as dié onder die destydse apartheidsregime.

"Die boodskap is dat mense by die huis moet bly. Hoe dit erger as apartheid kan wees, weet ek nie."

Volgens Mthembu doen talle ander lande dit ook.“Ons moet alle maatreëls tref om lewens te red. Die enigste manier om nie die siekte te kry nie, is om by die huis te bly. 

"As ons dit kry as ons uitgaan, bring ons dit terug na ons mense by die huis. Ons mense sal nie saamstem met sulke berigte nie omdat ons alles moontlik doen om hulle teen die dodelike siekte te beskerm," het Mthembu gesê. - Llewellyn Prince

28 Mrt. 15:37:01

Matrieks sal eksamen skryf, verseker Motshekga

Alles moontlik word gedoen om te verseker dat die sowat 600 000 huidige matrikulante ondanks die huidige koronovirus-krisis wel hul eindeksamen vanjaar sal kan aflê.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het Saterdagmiddag dié versekering in Pretoria gegee toe sy saam met ander ministers in die maatskaplike groepering die media toegespreek het oor veral die impak van die virus op die huidige akademiese jaar.

“Ter wille van veral die matrieks kan ons dit nie bekostig om die huidige skooljaar op te gee nie.

“Ons doen alles moontlik om die jaar te verdedig en te beskerm. Die matrikulante sal gereed wees. Ons sal seker maak hulle skryf hul eindeksamens.

Vandeesweek sou dit die herfsvakansie wees en skole sou Dinsdag heropen het.

“Ons het lang onderrigpakette en -programme vir sulke leerlinge op ons webtuiste geplaas. Ons is bewus van beperking omdat nie alle kinders die lesse op televisie en aanlyn sal kan volg nie. "Ons gebruik egter daardie pakette om solank voort te kan gaan.

"Ons werk egter ook aan 'n herstelprogram.

“Die ideaal is om kinders self in die klasse te hê vir onderrig. Daarom maak ons staat op ons herstelprogramme. Ons bly in kontak met provinsies oor die materiaal wat ons ontwikkel.

“Ons is besig om materiaal vir gr. 12 verskerp. As ons moet, sal ons ook die kurrikulum moet herorganiseer. Ons sal selfs daarna kyk om skoolure te verleng as dit nodig sal wees.

“Ons sal alles moontlik doen, maar binne die riglyne wat daar vir die beperking van die virus gestel is. Ons kan bekostig om die jaar te verloor nie. “

"Daar is meer as 600 000 matrikulante en ons kan nie bekostig dat hulle die jaar verloor nie. Ons hele skoolprogram sal moet aan beweeg,” het Motshekga bygevoeg. - Lllewelyn Prince

28 Mrt. 15:03:05

Plakkerskampe groot kopseer vir stryd teen Covid-19

Digbevolkte plakkerskampe landwyd blyk tans die grootste kopseer vir die regering te wees omdat dit nie toeganklik is om bykomende ontsmettingsmiddels, water en sanitasiegeriewe daar beskikbaar te maak nie, sê Lindiwe Sisulu, minister van water, sanitasie en menslike nedersettings.

Sy sê haar departement onderhandel met verteenwoordigers van inwoners van informele nedersettings om die moontlikheid van alternatiewe akkommodasie vir mense te bespreek.

“Die bevolkingsdigtheid in informele nedersettings is ons grootste probleem. Ons praat van gesonde afstand as ‘n voorsorgmaatreël, maar dit is baie moeilik om dit in daar toe te pas. Dit is meer van ‘n middelklas-oplossing.

“Ons probeer met oplossings vorendag kom. Ons sal met verteenwoordigers uit die gebiede praat oor hoe die situasie beredder kan word.

“Ons moet ‘n manier vind om daar in te kom om water en ontsmettingsmiddels daar te kry soos ons in ander gebiede gedoen het. Ons kan tans nie in sommige van daardie nedersettings inry sonder die nodige veiligheidsmaatreëls nie.”

Volgens haar is informele nedersettings in Oos-Londen, Durban, Kaapstad en Johannesburg veral geïdentifiseer waar hulle met inwoners oor alternatiewe akkommodasie moet onderhandel.

Sy sê mense kan ook haar departement met klagtes oor water en sanitasie bel by 0800 200 200.

28 Mrt. 14:45:25

'Ons is slaggereed vir Sassa-uitbetalings'

Alles moontlik word gedoen om te verseker dat alle Sassa-betaalpunte landwyd slaggereed is en alle voorsorgmaatreëls teen die koronavirus in plek is vir wanneer mense van Maandag af hul maatskaplike toelaes sal kry

Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, sê Suid-Afrikaners moet ook bewus bly dat daar steeds ook ander sosiale euwels bestaan wat hulle nie uit die oog uit moet verloor nie.

“Ons doen daarom weer ‘n beroep op ons mense om aan die maatreëls te voldoen.”

Volgens haar is haar departement en Sassa gereed om van 30 Maart af maatskaplike toelaes uit te betaal.

“Dit sal begin begin met uitbetalings aan pensionarisse, gestremdes en vroue met babas. Ek hoop vroue met babas kan hul kinders by die huis los as hulle hul toelaes gaan trek.”

Volgens haar is alle logistieke reëlings daarvoor in plek.

“Ons sal gevalle hê waar daar tekorte sal wees, maar ek sal dit met die ministers van vervoer bespreek om te kyk na tye wanneer mense na betaalpunte geneem kan word om hul geld te gaan trek.

“Ons praat ook met verdediging om te sien watter ander steun hulle kan bied. Ons weet hulle het busse, maar net as dit nodig sou is. Ons wil ook aandui dat ons goed met provinsies en Sassa-streke saamwerk. Ons doen alles moontlik om te sorg dat ons stelsels in plek is.

“Die ware toets sal egter die dag wees as mense hul toelaes gaan haal. Ons inbelsentrum sal gereed wees om klagtes te ontvang. Sassa-amptenare sal ook by alle betaalpunte wees om die nodige hulp te verleen,” het Zulu gesê.

28 Mrt. 14:33:12

Suid-Afrikaners uit Wuhan kan huis toe gaan 

Al die Suid-Afrikaanse studente wat uit Wuhan, China, gaan haal en by The Ranch-oord in Polokwane onder kwarantyn gehou is, sal nou na hul tuisprovinsies kan teruggaan.

Hul 14 dae onder kwarantyn het Vrydag tot 'n einde gekom, sê dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderrig en opleiding.

"Hulle sal nou op ons onkoste na hul onderskeie provinsies vervoer word”.  

Nog studente gaan haal

Hy het bygevoeg dat daar ook 76 TVET-studente is wat onlangs in China gaan haal is nadat hulle daar indiensopleidingskursusse bygewoon het.

“Hulle is iewers in Ekurhuleni onder kwarantyn en van ons amptenare kyk daar na hulle.

“Die ander groot probleem wat tans ook aandag kry, is aanlyn lesse. Ons praat met kolleges en universiteite om aanlyn onderrig te verskaf omdat die inperking nie as 'n vakansie beskou moet word nie. Ons adviseer alle studente om dié lesse te gebruik.

“Ek praat met die minister van kommunikasie vir toegang tot data om die aanlyn onderrig toeganklik vir almal te maak.

“Op 26 Maart het ons e-onderrig-gidse vir alle kolleges beskikbaar gemaak wat aanlyn afgelaai kan word.” 

Nzimande het ook universiteite gevra om hul IT-vermoë te assesseer om ook aanlyn onderrig moontlik te kan maak.  

Studente op kampusse

Volgens hom word ook verseker dat studente wat steeds in koshuise by kampusse landwyd is, versoek word om ook streng aan voorsorgmaatreëls te voldoen.

“Die universiteite wat tans meer as 200 studente op kampus het, is die Universiteite van Johannesburg (940), Wes-Kaapland (330), Stellenbosch (991), Pretoria (236), Nelson Mandela (382), asook die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (1 853).

“Ek moet sê dat die meeste van hulle is internasionale studente. Vrydag was ek bekommerd dat daar 60 studente by die Universiteit van Fort Hare in koshuise is. Vier van hulle was egter nie geregistreerde studente nie. Ons kan nie so sukkel met studente-akkommodasie en dan is daar mense wat nie studente is, in van die koshuise nie,” het Nzimande gesê.

28 Mrt. 14:14:31

Die ministers in die nasionale bevelsraad belas met die Covid-19-krisis bring nou die land op hoogte oor die inperkingsmaatreëls.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.