Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
OORSIG: 11 in SA dood; Britse premier in hospitaal

Daar is wêreldwyd meer as 1,2 miljoen bevestigde gevalle van die Covid-19-virussiekte, volgens syfers van die Johns Hopkins-universiteit.

Die vyf lande met die hoogste besmettingsyfer is Amerika, Spanje, Italië, Duitsland en Frankryk.

China, waar die siekte in Desember verlede jaar uitgebreek het, beklee tans die sesde plek volgens data van Johns Hopkins. 

Daar is wêreldwyd reeds meer as 66 000 dood. 

  • Nog 674 mense is in Spanje dood
  • In Frankryk, Italië en Duitsland is die voorkoms van besmettings besig om af te neem
  • Honderd nuwe gevalle is in Tokio, Japan, aangemeld
  • In Suid-Afrika is 11 mense aan Covid-19 dood
  • Daar is tans 1 655 bevestigde gevalle in Suid-Afrika van mense wat positief vir die virus getoets het.
covid-19, syfers, 5 april 2020
covid-19, syfers, 5 april 2020

Boris Johson, Britse premier, is Sondagaand laat gehospitaliseer, het SkyNews berig.

Sy hospitalisering is 'n voorsorgmaatreël, het 10 Downing Street bekend gemaak.

Johnson het tien dae gelede aangekondig dat hy positief vir die koronavirus getoets het.

Die premier sukkel steeds met 'n hoë koors en sy hospitalisering is nie 'n noodgeval nie. 

Die dodetal in Suid-Afrika weens die koronavirus het tot 11 gestyg, het dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, Sondagaand in 'n verklaring gesê.

Die bevestigde gevalle in die land het ook tot 1 655 gestyg. 

56 873 mense is al vir die virus getoets. 

Een van die jongste sterfgevalle is 'n 82-jarige vrou van die Wes-Kaap wat op 29 Maart in 'n waakeenheid opgeneem is. Sy het onderliggende siektetoestande gehad - hoë bloeddruk, diabetes en cholesterol.

Die tweede geval is 'n 86-jarige man van KwaZulu-Natal wat op 26 Maart gehospitaliseer is. Hy het aan die onderliggende siektetoestand COPD (chroniese obstruktiewe pulmonêre siekte) gely. 

Koningin Elizabeth se toespraak is Sondagaand wêreldwyd uitgesaai.

Die koningin het te midde van die koronavirus-pandemie onder meer hulde gebring aan die gesondheidwerkers in Brittanje se nasionale gesondheidstelsel. 

Slegs 'n kameraman met 'n masker en handskoene is saam met haar in die wit sitkamer in Windsor-kasteel toegelaat om die 93-jarige monarg se gesondheid te beskerm. 

Die TV-persoonlikheid en oud-koerantredakteur Piers Morgan was een van vele wat die koningin met haar toespraak geluk gewens het. 

05 Apr. 20:20:05

Hartseer week lê voor vir Amerika

Jerome Adams, Amerikaanse geneesheer-generaal, het Sondag op Fox News gesê die komende week gaan "een van die hardste en hartseerste weke in die lewe van die meeste Amerikaners wees".

"Dit is ons Pearl Harbour-oomblik, ons 9/11-oomblik. Maar dié keer is dit nie op net een plek nie. Dit gaan regoor die land gebeur. En ek wil hê Amerika moet dít verstaan." 


Klik hier om na Adams te luister.
05 Apr. 20:14:07

Minder hospitaal toe in New York

Daar was byna 600 nuwe sterftes in die Amerikaanse deelstaat New York. Daar is nou altesame 4 159 sterftes weens die koronavirus. Die sterftesyfer het Saterdag binne 24 uur tot 630 gestyg. 

Die lyke van slagoffers het in 'n tydelike lykshuis buite die Wyckoff Heights-mediese sentrum in Brooklyn opgestapel. Foto's van die lyke in oranje lyksakke is aan die nuusagentskap Reuters verskaf. 

Volgens Andrew Cuomo, goewerneur van New York, is dit die eerste dag dat nuwe hospitaliserings van nuwe voorvalle amper 50% minder was. 

Cuomo het gesê dit is nie duidelik of die koronavirus nou 'n plato bereik het nie. 

Vavi in hospitaal as voorkomingsmaatreël

Zwelinzima Vavi, hoofsekretaris van die vakbondfederasie Saftu, is Sondag in die hospitaal opgeneem.

Vavi het op Twitter gesê dit is net 'n voorkomingsmaatreël. 

Hy het Donderdag op Twitter bekend gemaak dat hy positief getoets het vir die Covid-19-virus. 

05 Apr. 19:59:20

'n Polisieman op 'n motorfiets sê aan 'n vrou wat in 'n park op Primrose Hill in Londen die sonskynweer geniet, om huis toe te gaan. Lede van die Britse polisie het die naweek hul hande vol gehad om mense te maan om gesonde afstande te handhaaf en nie in groepe in parke bymekaar te kom nie. In Brittanje mag mense een keer per dag uit hul huise gaan om te gaan stap of oefening te doen. Foto: AP

05 Apr. 19:54:43

Britte dalk lank ingeperk

Brittanje het Saterdag 708 sterftes aangemeld en Sondag 621.

Die getal sterftes staan op 4 934.

Prof. Neil Ferguson van die Imperial College of London en die Britse regering se adviseur oor die pandemie, het aan BBC gesê die uitbreking sal oor sewe tot tien dae sy hoogtepunt in Brittanje bereik.

Hy voorspel ’n dodetal van tussen 7 000 en 20 000.

Dit gaan goed met Boris Johnson, Britse premier, wat ook positief getoets het vir die virus. Hy werk steeds uit 10 Downing Street.

Matt Hancock, minister van gesondheid, sê dit is onduidelik hoe lank inperkingsmaatreëls in dié land nog gaan geld.


05 Apr. 19:52:25

Frankryk begin kliniese proewe met plasma

Met navorsers en farmaseutiese maatskappye wat in ’n wedloop teen tyd gewikkel is om ’n entstof teen en behandeling vir die nuwe koronavirus-siekte te vind, het Frankryk aangekondig hy gaan Dinsdag kliniese proewe begin om bloedplasma van Covid-19-oorlewendes in pasiënte met ernstige simptome oor te tap.

Plasma, die vloeistof in die bloed wat wemel van teenliggame nadat iemand van ’n siekte soos Covid-19 herstel het, was reeds suksesvol in klein studies om aansteeklike siektes soos Ebola en Mers te behandel.

“Hierdie kliniese proewe behels die oortapping van plasma van pasiënte wat van Covid-19 herstel het en wat teenliggame teen die virus bevat en wat die immuniteit kan oordra na ’n pasiënt wat aan Covid-19 ly,” lui ’n verklaring van die Parys-hospitaalowerheid AP-HP, die nasionale instituut vir mediese navorsing en die nasionale bloeddiens.

60 pasiënte in Parys sal aan die proewe deelneem. Die helfte sal plasma ontvang van mense wat herstel het.

Die resultate sal binne twee tot drie weke daarna beskikbaar wees. 

Meer oor:  Koronavirus  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.