Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
OORSIG: Dit is nou die stilte voor die korona-storm, maan Mkhize

IN 'N NEUTEDOP:

• Bevestigde gevalle in Suid-Afrika: 1 380    

• 44 202 tot dusver in Suid-Afrika getoets    

•  Wêreldwye besmettingsyfer kruip al nader aan 'n miljoen

LEES OOK

‘Ons gaan nou pasiënte soek,’ sê Mkhize

Verhoorafwagtendes op vrye voete  

koronavirus, syfers, 1 april 2020

Hier is die jongste verwikkelinge:

01 Apr. 22:06:24

‘Ons gaan nou pasiënte soek,’ sê Mkhize

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, sê die reaktiewe benadering wat Suid-Afrika tot dusver gevolg het, gee nie die volledige prentjie oor die verspreiding van die Covid-19-uitbreking in Suid-Afrika nie.

Daarom gaan die departement nou pasiënte soek, eerder as om te wag dat hulle self vir mediese hulp aanklop.

Mkhize het Woensdag gesê Suid-Afrika het nou 1 380 bevestigde Covid-19-gevalle, ’n styging van 27 gevalle sedert Dinsdag.

Hy kon nie die jongste sterftesyfer bevestig nie. Rondgaande toetseenhede, wat Woensdag by Nios in Johannesburg bekend gestel is, gaan in verskeie brandpunte in die land ontplooi word om mense vir Covid-19 te toets.

Klik hier om die volledige storie te lees.
01 Apr. 22:04:22

Nuwe korona-beperkings in China

Niemand mag die Jia-streek in die Chinese provinsie Henan verlaat nie nadat ‘n paar korona-gevalle daar aangemeld is. Inwoners mag ook nie hul huise sonder toestemming verlaat om te gaan werk nie. Daar woon sowat 600 000 mense in die streek. Een korona-geval is Saterdag in die stad Luohe aangemeld. Volgens plaaslike owerhede het die besmette persoon kontak met twee dokters in die Jia-streek gehad. Geeneen van die dokters, wat positief vir die virus getoets het, het simptome nie. – Reuters

01 Apr. 22:03:22

Sterftesyfer in Italië laagste in ses dae

Die sterftesyfer in Italië was Woensdag die laagste in ses dae, hoewel nuwe navorsing daarop dui dat dit heelwat hoër kan wees.

Volgens die beskermingsagentskap is 727 mense die afgelope 24 uur in Italië dood. Dit is heelwat minder as die 837 mense wat Dinsdag dood is.

Die 13 155 sterftes in dié land maak ‘n derde van al die sterftes wêreldwyd uit.

4 800 nuwe voorvalle is Woensdag aangemeld, ‘n skerp styging op die vorige twee dae.

Die aantal besmettings in die land sedert 21 Februarie kom tans op 110 500 te staan.

Die data-ontledingsmaatskappy InTwig sê in die stad Bergamo, episentrum van die virus in die noorde van Italië, is 4 500 mense dood, terwyl die beskermingsagentskap ‘n syfer van 2 060 gee.

‘n Studie onder dokters dui ook daarop dat die meeste bejaarde slagoffers in hul eie huise of tehuise dood is. Omdat hulle nie in ‘n hospitaal dood is nie, is hulle nooit vir die virus getoets nie. – Reuters

01 Apr. 21:59:41

Sterftesyfer styg steeds in Frankryk

Die sterftesyfer in Frankryk was Woensdag 4 032 nadat nog 509 mense sedert Dinsdag aan die koronavirus dood is, berig Al Jazeera.  

01 Apr. 21:59:24

Pasiënte uit Parys verskuif  

‘n Gesondheidsorgwerker kyk van die platform op die Gare d’Austerlitz-stasie in Parys, Frankryk, na ‘n pasiënt met Covid-19 wat uit die Franse hoofstad na ‘n hospitaal in Bretagne verskuif word. 36 pasiënte wat almal in waakeenhede behandel is, is Woensdag verskuif op twee sneltreine wat met mediese toerusting toegerus is. Daar is tans 2 777 bevestigde gevalle van die Covid-19-virus in Frankryk. 24 mense is al dood en 190 het al van die virus herstel. Foto: Getty Images

01 Apr. 21:03:50

Die boodskap dat 'n nuwe hospitaal in Central Park opgerig word, flits op 'n digitale advertensiebord in 'n verlate Times Square in New York. Foto: Getty Images 

01 Apr. 21:00:38

'n Hospitaal in die park

'n Noodhospitaal is langs die wêreldbekende Mount Sinai-hospitaal in Central Park opgerig. New York is die episentrum van die pandemie in Amerika. Foto: Getty Images 


01 Apr. 20:53:15

Nóg 391 sterf in die staat New York

391 mense is sedert Dinsdag in die staat New York aan Covid-19 dood, het goew. Andrew Cuomo Woensdag op sy daaglikse mediakonferensie gesê.

Byna 2 000 mense is al in die staat aan Covid-19 dood, berig Reuters.

Cuomo het Woensdag ook alle speelterreine in New York gesluit. Parke in die stad sal oop bly sodat mense kan gaan stap “en son kry”.

83 712 korona-gevalle is teen Woensdag in die staat aangemeld, teenoor 75 795 die vorige dag. Die sterftesyfer het ook van Dinsdag se 1 550 gestyg tot 1 941.  

01 Apr. 20:52:10

Prins Albert uit hospitaal ontslaan

Prins Albert van Monaco, wat verlede week bekend gemaak het dat hy positief vir Covid-19 getoets het, sê hy is nie meer in kwarantyn nie en sien daarna uit om hom by sy vrou, prinses Charlene, en kinders, die tweeling, prins Jacques en prinses Gabriella, aan te sluit.

Albert sê hy het sy gesin twee weke laas gesien.

Hy het nog ‘n effense hoes, het die prins in ‘n eksklusiewe onderhoud met die vermaaklikheidtydskrif People gesê.

Hy kon reeds Maandag die Prinses Grace-hospitaal verlaat, maar het op doktersadvies nog ‘n dag in die hospitaal deurgebring.

Albert sal hom nou by sy gesin aansluit.

- Foto: Getty Images 

Lees die volledige artikel in People.
01 Apr. 20:49:29

Polisie ook in Kenia hardhandig

Pres. Uhuru Kenyatta van Kenia het om verskoning gevra vir die polisie se hardhandige optrede tydens die landwye inperkings in die land, berig Al Jazeera. Die polisie is daarvan beskuldig dat hulle skerppunt-ammunisie, traanrook en sambokke ingespan het om die klokreël af te dwing.

Klik hier om die volledige berig op AlJazeera te lees.
Meer oor:  Koronavirus  |  Covid-19-Virus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.