Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
OORSIG: 80 000 sterftes wêreldwyd; meer as 10 000 gevalle in Afrika

Die staat van inperking was die regte besluit en die doeltreffendheid daarvan sal oor die verloop van die volgende paar dae wetenskaplik ontleed word, sê pres. Cyril Ramaphosa.

Jongste syfers in SA:

  • Daar is tans 1 749 bevestigde gevalle van Covid-19 in die land.
  • Die departement van gesondheid sê 13 mense het reeds weens die virus gesterf.

In 'n neutedop:

  • Die Britse premier, Boris Johnson, is steeds in die hospitaal nadat hy komplikasies weens die koronavirus opgedoen het.
  • Daar is nou meer as 10 000 korona-gevalle in Afrika, berig The Guardian.
  • Die dodetal wêreldwyd het Dinsdagaand die 80 000-merk verbygesteek,  volgens data van die Johns Hopkins-universiteit. 
koronavirus, 7 april

Volg Netwerk24 se regstreekse dekking van die jongste verwikkelinge rakende die koronavirus (Covid-19).

07 Apr. 22:07:18

Spazas, informele handelaars: Dís die regulasies

Informele vrugte- en groentestalletjies mág sake doen, maar hulle moet permitte hê. Dis een van die aanpassings aan die regulasies wat tydens die ramptoestand heers wat Khumbudzo Ntshavheni, minister van kleinsakeontwikkeling, Vrydag aangekondig het en wat in die Staatskoerant gepubliseer is. Die regulasies klaar heelwat verwarring op oor die lot van sogenaamde “langanas” en “smouse”, wie se brood en botter aanvanklik van hulle ontneem is. 

Foto: Reuters 

Klik hier om die volledige berig te lees.
07 Apr. 21:59:43

Danie Gerber se vrou toets ook positief

Elsabe Gerber (59), vrou van die oud-Springbok Danie Gerber (62), het positief vir die Covid-19-virus getoets.

"Ons dink ek en sy het rondom dieselfde tyd die virus gekry, maar dit het net langer vir haar geneem om simptome te wys. Sy is asmaties en hoes baie, sy sukkel met koors," het Elanie, die Gerbers se dogter, Dinsdagaand gesê. 

Nadat Danie en Elanie positief vir die virus getoets het, het Elsabe tydelik in 'n vriendin se huis gaan woon. Noudat sy positief getoets het, is die drie weer saam in een huis, het Elanie gesê. 

Sy en haar pa is einde Maart vir die virus getoets. 

07 Apr. 21:45:54

Die syfers Dinsdagaand:

Bevestigde gevalle wêreldwyd: 1,4 miljoen mense

Sterftes wêreldwyd: 80 759

Dié wat al herstel het: 297 934

07 Apr. 21:35:49

DA eis minister se afdanking ná foto van ‘ete'

Stella Ndabeni-Abrahams, omstrede minister van kommunikasie en digitale tegnologie, moet strafregtelik aangekla en afgedank word en ook alle Suid-Afrikaners om verskoning vra indien sy wel die inperkingsregulasies verontagsaam het.

Dít was Dinsdag die eise van die DA en die IVP nadat foto’s van Ndabeni-Abrahams op sosialemediaplatforms opgeduik het waarin sy die afgelope Sondag die ewe omstrede Mdu Manana, voormalige adjunkminister van hoër onderrig en opleiding, by sy huis in Fourways, Johannesburg, besoek en middagete saam met hom en sy familie geëet het.

Dít terwyl streng regulasies alle Suid-Afrikaners tot 16 April verbied om hul huise te verlaat, tensy dit vir noodsaaklikhede is, om die verdere verspreiding van Covid-19 te beperk

Klik hier om die volledige berig te lees.

Wie is Dominic Raab?

Dominic Raab, die Britse minister van buitelandse sake, hou tans die leisels vas in die Britse regering nadat Boris Johnson, die premier, gehospitaliseer is.

Johnson sal Dinsdagaand sy derde aand in die St. Thomas-hospitaal in Londen deurbring. Hy is Sondagaand op doktersadvies gehospitaliseer weens komplikasies nadat hy tien dae vantevore positief vir die Covid-19-virus getoets is. 

Raab het vroeër Dinsdagaand gesê hy is oortuig daarvan dat Johnson ''sal deurtrek'' en dat Johnson ''baie duidelike instruksies'' vir die kabinet gelos het.

Geen besluite oor inperkings of ander maatreëls teen die koronavirus sal weens Johnson se toestand op die lange baan geskuif word nie, het Michael Gove, minister in die kabinetskantoor, gesê.  

07 Apr. 20:49:58

Nóg honderde sterf in Spanje

Die dodetal in Spanje het Dinsdag vir die eerste keer in vyf dae weer gestyg. Hoewel 743 mense oornag dood is, word daar steeds gehoop die staat van inperking in die land kan binnekort verlig word. 

Die dodetal in die land is tans 13 798 en naas Italië die hoogste ter wêreld. 

Arbeidswette vir plaaswerkers is verslap om die tydelike tekort aan seisonale werkers te verlig deur 80 000 migrante en werkloses toe te laat om groente en vrugte te oes. 

Amptenare hoop dit sal voedseltekorte verhoed en Spanje se reputasie as die Europese Unie se grootste uitvoerder van vrugte en groente in stand hou. - Reuters 

07 Apr. 20:41:14

Kanadese GP ook uitgestel

Die Kanadese Grand Prix is Dinsdagaand uitgestel. Die wedren sou op 14 Junie in Montreal plaasvind, maar is in die lig van die wêreldwye koronavirus-pandemie uitgestel. - BBC

Klik hier om die volledige storie te lees.
07 Apr. 20:36:09

Woonstelbewoners kyk van 'n balkon af na die weermag wat Dinsdag die strate van Johannesburg patrolleer. Foto: AP 

07 Apr. 20:00:17

Trump takel die WGO

Pres. Donald Trump van Amerika het 'n knuppel in die hoenderhok gegooi met 'n twiet waarin hy die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) getakel het. Trump beskuldig die ''Chinees-gesentreerde'' WGO daarvan dat sy aanvanklike raad verkeerd was.

Trump is self onder skoot in Amerika omdat hy aanvanklik na die koronavirus as ''gewone griep'' verwys en gesê het die koronavirus is onder beheer in Amerika. Hy het later erken die virus is 'n nasionale noodtoestand. 

07 Apr. 19:49:39

Notre Dame hou Paasdiens vir 7

Net 7 priesters sal Vrydag die Goeie Vrydag-kerkdiens in die Notre Dame-katedraal in Parys, Frankryk, bywoon. 

Die diens sal digitaal - oor radio en video - uitgesaai word. 

Die wêreldbekende katedraal is op 15 April verlede jaar amper in 'n brand verwoes. 

Restourasiewerk aan die katedraal is gestaak weens 'n nasionale staat van inperking in Frankryk. - France24 en Reuters 

Klik hier om die volledige storie te lees.
Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Zweli Mkhize  |  Koronavirus  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.