Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Regulasies net ’n ‘pleister op ’n vrot wond’

Die regulasies wat pres. Cyril Ramaphosa Dinsdagaand aangekondig het, is niks meer as ’n pleister op ’n vrot wond nie, meen dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging.

Ramaphosa het onder meer ’n nuwe aandklokreël ingestel, asook beperkings op die verkoop van alkohol en die getal mense wat byeenkomste mag bywoon.

Dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging. Foto: Rapport/ Deon Raath

Coetzee sê die regulasies is “hopeloos te laat” en nie streng genoeg om infeksies, sterftes of hospitaalopnames te keer nie.

“Mense moet onthou ons sien nou die gevolge van twee weke gelede. Dit gaan dus twee weke neem voordat die regulasies enigsins ’n effek het. Dit is nou ás dit ’n effek het,” sê Coetzee.

Na haar mening het Ramaphosa die restaurant- en drankbedryf “gepaai” deur nie strenger drankregulasies in te stel nie.

drankwinkel, drankverkope, drankverbod
Publiek haas hulle om drank te koop: Mense Dinsdag in 'n drankwinkel in die Haasendal Gables-winkelsentrum in Kuilsrivier voordat pres. Cyril Ramaphosa aangekondig het dat drankverkope voortaan slegs van Maandae tot Donderdae toegelaat sal word. Drankwinkels is ook vandag gesluit omdat dit 'n openbare vakansiedag is. Foto: Jaco Marais

Sy meen ook dat hy beslis die skole moes sluit.

“Ons sien al hoe meer kinders wat die virus opdoen en hoewel hulle nie baie siek word nie, is hulle draers en het die virus ook ’n sielkundige uitwerking op hulle,” sê Coetzee.

Oorvol hospitale is, volgens haar, reeds ’n probleem en sy sukkel self om mense opgeneem te kry.

Coetzee sê Ramaphosa se belofte dat Johnson & Johnson teen einde vandeesmaand 2 miljoen dosisse entstof gaan lewer, is mosterd ná die maal. Dit gaan “absoluut geen lewens teen die derde vlaag beskerm nie”.

Prof. Guy Richards, emeritus professor in kritieke sorg aan die Universiteit van die Witwatersrand. Foto: Argief

Prof. Guy Richards, emeritusprofessor in kritieke sorg verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits), sê hy is dankbaar oor die beperkings op byeenkomste, “maar dit is eintlik te laat”.

Hy sê talle godsdienstige byeenkomste rondom byvoorbeeld Paasfees of Eid het die derde vlaag gedryf en moes verbied gewees het.

“Die beperkings op drank gaan nie eintlik ’n verskil maak nie. Die regering doen dit om bedkapasiteit te verhoog, maar die waarheid is dat daar nooit genoeg beddens in Gauteng gaan wees as die Charlotte Maxeke-hospitaal nie heropen word nie,” sê Richards.

Prof. Jeffrey Mphahlele, adjunkvoorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad. Foto: Argief

Die hospitaal is ná ’n brand vroeër vanjaar onbepaald gesluit.

Prof. Susan Goldstein, kenner van openbare gesondheid aan Wits, en prof. Jeffrey Mphahlele, adjunkvoorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad, sê albei dat byeenkomste geheel en al verbied moes gewees het.

Volgens die nuwe regulasies mag 50 mense binnenshuis en 100 mense buite byeenkom.

Mphahlele sê hy sou aanlyn onderrig aanmoedig vir skole wat wel hul leerlinge op dié manier kan akkommodeer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.