Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Reisigers: Om te toets, of nie te toets nie

Die Tygerberg-hospitaal in Kaapstad én ’n private hospitaal het geweier om ’n jong vrou van Kaapstad se noordelike voorstede vir die koronavirus te toets, ten spyte daarvan dat sy Vrydag uit Rome, Italië, na Suid-Afrika teruggekeer het.

Dit is egter heeltemal korrek volgens protokol, sê die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement. Net mense mét griepsimptome, wat boonop aan sekere ander kriteria voldoen, word getoets.

Die 22-jarige vrou het Dinsdag gesê sy het twee maande lank as au pair gewerk by ’n gesin in Rome. Nadat sy Vrydag na die land teruggekeer het, het sy haarself aanvanklik in self-isolasie geplaas.

Ná pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging van ’n ramptoestand het sy egter besluit om ’n mediese hulplyn te bel om raad te kry.

Sy sê haar ma het Maandag lank probeer om na die hulplyn deur te kom, maar tevergeefs. Oplaas het sy en haar ma Maandag na die Tygerberg-hospitaal gery in die hoop dat sy daar getoets sou word.

Ná ’n rukkie het iemand aan haar kom sê sy gaan nie getoets word nie omdat sy geen simptome het nie.

Hier het hulle in ’n ry gestaan waar ’n hospitaalpersoneellid aan hulle maskers gegee het en waar sy ’n vraelys moes invul.

Ná ’n rukkie het iemand aan haar kom sê sy gaan nie getoets word nie omdat sy geen simptome het nie.

“Ek het aan hulle verduidelik dat ek twee maande in Rome was en dat dit ’n hoërisikogebied vir Covid-19 is.”

Die hospitaal-personeel het egter volgehou dat sy nie getoets gaan word nie omdat sy nie enige simptome het nie.

Die vrou en haar ma is daarna na ’n private hospitaal in Bellville waar sy weer haar situasie verduidelik het, maar weer die deur gewys is.

“Ek het toe maar terug huis toe gegaan, waar ek en my ouers ons maar weer in self-isolasie geplaas het.”

Die jong vrou sê hoewel sy geen simptome het nie, is sy bang “dat dit wel iewers stil lê en broei”.

Die Hospitaalvereniging van Suid-Afrika het mense Dinsdag daarop gewys dat daar geen behandeling vir Covid-19 is nie, en dat net ondersteunende behandeling vir die simptome gegee kan word, berig Nellie Brand-Jonker.

Net mense wat ernstig siek is, sal in hospitale opgeneem word.

Lees ook: Hospitale kla oor onnodige paniek by ongevalle

Die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement sê hulle volg die protokol vir toetsing soos voorgeskryf deur die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios).

Hiervolgens word mense net getoets as hulle simptome het soortgelyk aan dié van griep en óók:* Onlangs na of van ’n land gereis het waar die virus van persoon-tot-persoon oorgedra kon wees; of * In kontak was met iemand wat die virus onder lede het.

Mark van der Heever, adjunkdirekteur van kommunikasie van die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement, sê dit is raadsaam vir enigiemand wat van ’n internasionale reis teruggekeer het, om dadelik vir sowat 14 dae in self-isolasie te gaan.

Hy sê dit is presies wat dié vrou moet doen – sy moet vir dié tydperk geen kontak met mense buite haar huis hê nie.

Indien sy wel simptome begin toon, moet sy die nasionale hulplyn vir die publiek by 0800 029 999 of die provinsiale hulplyn by 021 928 4102 bel en hul advies volg.

Dit is volgens Van der Heever verstaanbaar dat die lyne besig kan wees. Hy vra die publiek se geduld wanneer hulle enige van die hulplyne bel.

Meer oor:  Korona-Virus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.