Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Reisverbod teen Indië sal oorweeg word, sê Cyril

’n Besluit oor ’n reisverbod teen reisigers vanuit Indië na Suid-Afrika sal binnekort deur die nasionale koronavirusbevelsraad geneem word, sê pres. Cyril Ramaphosa.

Hy het Donderdag só gereageer nadat Mkhuleko Hlengwa, ’n IVP-LP, by hom in ’n mondelingse vrae-en-antwoord-sessie in die Nasionale Vergadering wou weet of só ’n verbod oorweeg word om Suid-Afrikaners teen die Indiese variant van die virus te beskerm.

Vrae aan Ramaphosa, wat virtueel aan die sessie deelgeneem het, het gewissel van Suid-Afrika se inentingsprogram, die ekonomie, die bou van ’n demokratiese samelewing en die nasionale reaksie teen geslagsgeweld.

Hy is self gepeper met vrae oor sy “status” as president nadat hy Woensdagaand “(deur Ace Magashule, geskorste ANC-sekretaris-generaal) uit die ANC geskors is”. Hy het nie veel daarop reageer nie.

Op die vraag oor ’n moontlike reisverbod teen Indië het Ramaphosa gesê dat dit “presies is waarna die nasionale koronavirusbevelsraad kyk en hoe ons daarop moet reageer”.

“Baie mense het al gesê dat ons ’n reisverbod teen Indië moet instel.”

Volgens die president roem Suid-Afrika hom egter daarop dat hy regdeur die Covid-19-pandemie sy besluite op die wetenskap gegrond het.

Baie mense het al gesê dat ons ’n reisverbod teen Indië moet instel.

Volgens hom sal ’n besluit daaroor “binne dae” geneem word.

Hy sê dat hy en sy administrasie uiters bekommerd is oor die Indiese variant “omdat dit daardie hele land verswelg”.

“Terselfdertyd reis mense wat die virus onder lede het steeds vandaar oor die wêreld heen.”

Volgens Ramaphosa word die situasie stip dopgehou en bestudeer plaaslike wetenskaplikes die Indiese variant om dit beter te kan verstaan.

“Die bevelsraad was veronderstel om gister (Woensdag) te vergader, maar daar is besluit dat alle inligting en prosesse oor die Indiese variant eers ingesamel moet word.

“Ons maak staat op ons wetenskaplike en (ministeriële) mediese adviesraad om ons deur die pandemie te lei.”

Volgens Ramaphosa sal Suid-Afrika uit solidariteit met Indië ook hulp in die vorm van asemhalingstoestelle en persoonlike beskermende toerusting aanbied.

Julius Malema, EFF-leier, het Ramaphosa op die sitting daarvan beskuldig dat hy en die regering met die inentingsprogram “geld bo die lewe van Suid-Afrikaners prioritiseer” en “eerder betrokke is by (persoonlike) transaksies en dat julle geld van die mense steel”.

Ons maak staat op ons wetenskaplike en (ministeriële) mediese adviesraad om ons deur die pandemie te lei.

Ramaphosa het dit ten sterkte ontken en dit duidelik gemaak dat “ons nie transaksies aangaan om ons eie belange as individue of enige ander entiteite te bevorder nie”.

Volgens die president speel sy regering “nie speletjies met landsburgers se lewe nie”.

“Van die begin van hierdie pandemie af was die red van menselewens al waarop ons gefokus het.

“Dit mag ’n taak en las wees wat jy miskien ligtelik opneem, maar sommige van ons neem dit baie ernstig op.”

Ramaphosa het dit ook duidelik gemaak dat die vertraging in en tydelike opskorting van Suid-Afrika se inentingsprogram, hoofsaaklik weens eksterne faktore was.

Suid-Afrika het volgens hom egter tot dusver kontrakte gefinaliseer vir entstowwe vir 41 miljoen mense om sodoende kudde-immuniteit te kan bewerkstellig.

“In die tweede kwartaal sal Suid-Afrika sowat drie miljoen Johnson & Johnson-entstofdosisse (J&J) ontvang het, 4,5 miljoen Pfizer-dosisse, sowel as nog 1,4 miljoen Pfizer-dosisse deur Covax.

“In die derde kwartaal sal ons 9,1 miljoen J&J-dosisse kry en 8,5 miljoen Pfizer-dosisse. In die vierde kwartaal sal ons 19,1 miljoen J&J-dosisse en sewe miljoen Pfizer-dosisse kry.

“In totaal sal ons 31,2 miljoen J&J-dosisse en 21,4 miljoen Pfizer-dosisse kry.”

Volgens Ramaphosa is nog ’n prioriteit dat die land self entstowwe teen die koronavirus en ander toekomstige pandemies kan vervaardig.

In totaal sal ons 31,2 miljoen J&J-dosisse en 21,4 miljoen Pfizer-dosisse kry.

Meer oor:  Reisverbod  |  Indië  |  Entstofplan  |  Cyril Ramaphosa  |  Entstowwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.