Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Gauteng: Jy kan tot 3 dae wag vir bed in waakeenheid

Pasiënte met Covid-19 kan tot drie dae wag om opgeneem te word by openbare geriewe in Gauteng en daar word voorspel dat die daaglikse infeksies binnekort die 10 000-kerf gaan verbysteek.

Die provinsie het Saterdag ’n rekordgetal daaglikse infeksies van 8 414 aangeteken en die plaaslike gesondheidstelsel word tans deur ’n derde vlaag van infeksies verlam.

“As jy nou ’n bed in ’n waakeenheid nodig het, kan jy maar weet jy gaan dit nie kry nie,” sê prof. Guy Richards, ’n emeritusprofessor in kritieke sorg verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits).

Volgens hom is openbare geriewe reeds heeltemal vol. “By die Helen Joseph-hospitaal (in Johannesburg) is daar ’n tent buitekant opgerig waar pasiënte op rye stoele sit en suurstof ontvang. Dis ’n nagmerrie,” sê Richards.

Volgens hom is dit ook ’n krisis dat die Charlotte Maxeke-hospitaal, ook in Johannesburg, steeds gesluit is weens ’n brand wat in April vanjaar in die hospitaal uitgebreek het. “Die hospitaal het 400 Covid-19-pasiënte op een slag behandel in die vorige vlaag en nou is die kapasiteit verlore,” sê Richards.

As jy nou ’n bed in ’n waakeenheid nodig het, kan jy maar weet jy gaan dit nie kry nie

’n Dokter wat tans by ’n hospitaal aan die Oos-Rand werk en anoniem wil bly, sê die Covid-19-opnames het in die laaste week drie keer meer geword en dat openbare en private geriewe oorvol is.

“ ’n Pasiënt wag minstens 24 uur om opgeneem te word en by sommige plekke moet hulle tot drie dae lank wag. Tydens die vorige vlaag is alkohol verbied, maar ons moet nou traumapasiënte ook versorg. Die private hospitale wys mense weg, maar ons het veel meer traumagevalle as hulle en kan nie die traumasale gebruik om Covid-pasiënte te behandel nie,” sê die dokter.

Volgens die dokter is daar ook ’n tekort aan mediese personeel en is almal wat daar is moeg en oorwerk.

“Die Gautengse departement van gesondheid het nie weer geld gegee vir bykomende personeel soos verlede jaar nie. Ons voel ook die verlies van die Charlotte Maxeke-hospitaal,” sê die dokter.

Die departement het egter Donderdag met sy begrotingsrede R1,5 miljard opsygesit vir medici wat as gevolg van Covid-19 aangestel is.

David Makhura, die Gautengse premier, het al voorheen gesê die Charlotte Maxeke-hospitaal sal in fases heropen word, maar die heropening het nog nie begin nie.

Dr. Mmamoloko Kubayi-Ngubane, waarnemende minister van gesondheid, het Saterdag aangekondig die weermag word na Gauteng ontplooi om gesondheidsdienste te ondersteun en nie om regulasies af te dwing nie.

Vuyo Mhaga, die premier se woordvoerder, het Sondag bevestig dat die weermag wel in Gauteng aangekom het, maar kon nie sê waar hulle ontplooi is nie.

Prof. Bruce Mellado, hoof-modelleerder van die Gautengse Covid-19-bevelsraad, het Sondag gesê die positiewe gevalle gaan binnekort bo 10 000 styg. Hy en sy span voorspel egter dat die provinsie eers in die eerste week van Julie sy piek gaan bereik en dat die gevalle tot dan steeds drasties sal styg.

“Ons sien nou eers die impak van twee weke gelede (weens die inkubasietydperk van die virus) en sal dus nog nie die impak van vlak 3 van die inperking voel nie. Dit is egter belangrik dat mense nou hul gedrag moet aanpas en by al die maatreëls moet hou,” sê Mellado.

Dr. Mary Kawonga, voorsitter van die bevelsraad, stem met Mellado saam dat slegs mense se gedrag die situasie in Gauteng kan omkeer.

Sy sê in die stadium moet alle byeenkomste vermy word, maar benadruk dat dit nie gaan help om skole te sluit nie.

Ons sien nou eers die impak van twee weke gelede (weens die inkubasietydperk van die virus) en sal dus nog nie die impak van vlak 3 van die inperking voel nie.

“Die infeksies kom uit die gemeenskappe en nie uit skole nie,” sê Kawonga.

Angie Motshekga, die minister van basiese onderwys, het Saterdag aangekondig dat alle onderwysers binnekort ingeënt sal word.

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement van basiese onderwys, het alle navrae oor die plekke waar onderwysers ingeënt gaan word en ander logistieke reëlings na die provinsiale departemente verwys, berig Eugenie Gregan.

“Die inentingsplekke word deur die gesondheidsdepartement bestuur. Elke provinsie se gesondheids- en onderwysdepartement werk saam aan die fyner besonderhede” sê hy.

Die Gautengse onderwysdepartement kon nie Sondag meer besonderhede oor die provinsie se inentingsprogram verskaf nie.

Meer oor:  Gauteng  |  Hospitale  |  3De Vlaag  |  Pandemie  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.