Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Restaurante soek nou antwoorde van minister

Die Restaurantvereniging van Suid-Afrika (Rasa) eis antwoorde van Ebrahim Patel, minister van handel en nywerheid, oor hoekom mense nie drank in eetplekke mag bestel en gebruik nie.

Indien Patel nie binne sewe dae geldige redes hiervoor kan gee nie, eis Rasa dat die regulasies gewysig word sodat eetplekke toegelaat word om alkohol met aansit-etes te bedien.

Hoewel restaurante ingevolge ’n aankondiging deur die regering Maandag vir aansit-etes mag heropen, sê Rasa restaurante se wins sal erg geknou word as alkohol nie ook voorgesit mag word nie.

Rasa het Sondag by monde van sy regsverteenwoordiger, Ashton Naidoo, in ’n brief aan Patel gesê die restaurantbedryf het reeds weens die inperking breekpunt bereik.

“Weens die huidige klimaat, ekonomies sowel as maatskaplik, word eienaars deur ’n groot stryd in die gesig gestaar om kliënte te lok. Die beperkings op die verkoop van drank met maaltye vereis basies van hulle om die stryd met die een hand agter die rug aan te pak.

“Suid-Afrika het ’n kultuur van drink saam met maaltye, en deur dit nie toe te laat nie, dra die departement as’t ware by tot die insinking van die bedryf, wat ’n uitkringeffek op baie bedrywe van die ekonomie en die Suid-Afrikaanse ekonomie in sy geheel sal hê,” sê Naidoo.

Luidens die brief het Rasa reeds bevestiging van talle eetplekke gekry dat hulle nie sal heropen nie omdat dit nie vir hulle lewensvatbaar sal wees as hulle nie drank ook mag verkoop nie.

Verder meen Naidoo die beperkings op drankverkope skend die eienaars se grondwetlike regte. Hy sê dit is sinneloos om die wegneem-verkope van alkohol van Maandae tot Donderdae by eetplekke toe te laat, maar nie vir bediening saam met aansit-etes nie.

“Die lede wat alkohol wil verkoop, het geldige dranklisensies wat nie goedkoop of maklik was om te bekom nie. Die lisensies is tans basies waardeloos, want hulle verander restaurante in drankwinkels, wat nie voordelig vir die ekonomie of ons kliënte is nie,” sê Naidoo.

Sidwell Medupi, woordvoerder van die departement van handel en nywerheid, het nie Maandag op navrae gereageer nie.

Hoewel die regering nie teen Maandagmiddag gesondheidsmaatreëls ingevolge waarvan eetplekke mag heropen in die Staatskoerant gepubliseer het nie, het Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme, Vrydag dié maatreëls op ’n mediakonferensie aangekondig.

Sy het gesê die regulasies oor onder meer die heropening van restaurante sal van Maandag af geld.

Meer oor:  Ebrahim Patel  |  Restaurante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.