Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Riglyne vir onderwysers, leerlinge, koshuise bekend gemaak

Onderwysers wat nie Maandag vir diens aanmeld nie weens vrese om Covid-19 op te doen, sal moet bewys dat hul werkplek onveilig is.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het vandeesweek aangekondig alle onderwysers moet Maandag terugkeer. Gr. 12- en gr. 7-leerlinge sal op 1 Junie terugkeer. Die datum vir ander grade is nog nie bevestig nie.

Volgens ’n dokument op die onderwysdepartement se webtuiste, wat die standaard-bedryfsprosedures vir skole uiteensit, sal weiering om vir diens aan te meld – as dit teenstrydig met die departementshoof of toesighouer se opdragte is – op onregmatige afwesigheid neerkom en volgens die dissiplinêre kode hanteer moet word.

Bykomende voorsorg moet wel getref word vir personeel met onderliggende mediese toestande of diegene ouer as 60 jaar en hulle moet toegelaat word om van die huis af te werk, lui die dokument.

Die standaard-bedryfsprosedures verskaf riglyne vir skole om die verspreiding van Covid-19 te voorkom en vermoedelik positiewe gevalle te hanteer.

Die departement beklemtoon dat die riglyne saam met die sogenaamde “goue reëls” gevolg moet word, waaronder om beskermende toerusting (PPE) te dra, nie aan jou gesig te vat nie en goeie higiëne toe te pas.

Die bestuur van Covid-19-gevalle in skole

’n Skool hoef nie noodwendig te sluit indien ’n personeellid of leerling positief toets nie.

Die tydelike sluiting van ’n skool is ’n moontlike strategie om die verspreiding van die virus in die skoolgemeenskap te verhoed of te bekamp.

Luidens die dokument moet dit net oorweeg word indien openbare gesondheidsbeamptes dit aanbeveel.

“Die tydelike sluiting van ’n skool is ’n moontlike strategie om die verspreiding van die virus in die skoolgemeenskap te verhoed of te bekamp.”

Skooladministrateurs kan egter nie self hieroor besluit nie en moet die departement se prosedures volg en leiding van beamptes kry.

Leerlinge wat siek is of Covid-19-simptome toon, moet geïsoleer word tot ’n mediese ondersoek gedoen kan word. Die leerling se ouers of voogde moet onmiddellik ingelig word. Die skoolverpleegster, naaste gesondheidsfasiliteit of relevante beamptes moet gekontak word en die skool sal oor verder stappe geadviseer word.

Indien ’n positiewe geval bevestig is, sal die skool deur beamptes gekontak word om die situasie te bespreek en sy/haar kontakte identifiseer. Ná ’n risiko-assessering sal voorstelle gegee word oor die bestuur van leerlinge en personeel.

Indien ’n leerling met ’n vermoedelik positiewe geval kontak gehad het, is daar geen spesiale maatreëls nodig tot die toetsuitslae ontvang is nie. Indien ’n leerling met ’n bevestigde geval kontak gehad het, moet die leerling vir 14 dae by die huis in kwarantyn wees en vir simptome gemonitor word.

Wanneer ’n personeellid positief vir Covid-19 toets, moet die relevante beamptes kontakte identifiseer en adviseer oor die voorsorgmaatreëls wat geneem moet word.

Die departementshoof moet die personeellid se siekteverlof goedkeur en toestemming gee vir diegene wat in noue verband saam met die pasiënt gewerk het om in selfisolasie te gaan. ’n Lys van hierdie werknemers moet aan die departement van openbare werke en administrasie verskaf word. Daar kan van die werknemers verwag word om van die huis af te werk.

Die personeellid mag eers terugkeer as hy medies geëvalueer is en negatief vir Covid-19 toets.

Die departementshoof moet ook besluit of spesiale maatreëls nodig is vir personeellede wat met vermoedelik positiewe gevalle kontak gehad het.

Stappe om die verspreiding van Covid-19 in skole te voorkom

Sifting moet volgens die gesondheidsdepartement se prosedure en vraelys geskied. Leerlinge en werknemers moet simptome soos koors, hoesbuie, ’n seer keel, moeilike asemhaling, lyfseer, reuk- en smaakverlies, naarheid, diarree en moegheid aanmeld.

Personeellede en leerlinge wat siek is of simptome toon, moet by die huis bly.

Skoolhoofde moet toesien dat alle personeellede en leerlinge deur ’n siftingsproses gaan wanneer skole heropen.

“Sifting moet volgens die gesondheidsdepartement se prosedure en vraelys geskied. Leerlinge en werknemers moet simptome soos koors, hoesbuie, ’n seer keel, moeilike asemhaling, lyfseer, reuk- en smaakverlies, naarheid, diarree en moegheid aanmeld,” lui die dokument.

Indien ’n leerling of personeellid enige van die simptome of ’n koors hoër as 38 °C het, moet die persoon geïsoleer en vir toetse verwys word.

Die departement stel voor dat personeellede en werknemers op verskillende tye arriveer en vertrek en dat groepe leerlinge op verskillende tye pouse hou.

Besoekers of ouers word toegang tot die skool verbied, tensy dit noodsaaklik is en ’n afspraak gemaak is. ’n Register van besoekers moet gehou word.

Leerlinge moet regstreekse kontak soos die skud van hande en drukkies vermy en nie skryfbehoeftes, eetgerei of kos en drinkgoed deel nie. Hulle moet ook nie medeleerlinge wat siek is, spot nie.

Skole moet planne beraam sodat ’n veilige afstand van 1,5 m gehandhaaf kan word en die departement stel voor dat klasse verklein word waar moontlik.

Luidens die dokument moet skoolbestuurspanne en beheerliggame plakkate oor goeie higiënepraktyke by die skool opsit.

Volgens nog ’n dokument wat die departement beskikbaar gestel het oor die tegniese besonderhede rondom PPE en ontsmetting, moet papierhanddoeke of lugdroërs in badkamers beskikbaar wees. Krane, toilethandvatsels en deurhandvatsels moet elke uur ontsmet word.

Die skoolbestuur moet ook toesien dat handontsmettingsmiddels met ’n alkoholinhoud van 60% in elke klaskamer, by ingange, die ontvangsarea en eetvertrekke geplaas word en verseker dat skoonmaakpersoneel die skoolgebou gereeld en deeglik skoonmaak en ontsmet.

Klaskamers en badkamergeriewe moet daagliks skoongemaak word, verkieslik twee keer per dag. Handrelings, etenstafels, sporttoerusting, deur- en vensterhandvatsels, speelgoed en leerhulpmiddels moet gereeld skoongemaak word.

Vullis moet daagliks verwyder word.

Leerlingvervoer en koshuise

Volgens die dokument moet alle voertuie wat leerlinge vervoer aan die regulasies van die vervoerdepartement voldoen.

“Operateurs van hierdie voertuie moet gereeld ontsmettingsmiddels aan leerlinge en bestuurders verskaf. Voertuie moet ontsmet word voordat leerlinge opgelaai word en nadat hulle afgelaai is. Die ontsmetting van veral deur- en vensterhandvatsels, armleunings en handrelings is noodsaaklik. Bestuurders en leerlinge moet maskers dra en leerlinge moet hul hande ontsmet voordat hulle in die voertuig klim.”

Volgens die bedryfsprosedures moet bykomende voorsorg in koshuise getref word om higiëniese praktyke en ’n veilige afstand te handhaaf. Koshuisouers moet ook opleiding oor Covid-19 ondergaan.

Skoonmaakpersoneel moet koshuiskamers, deure, mure, badkamers, kombuise, eetsale en studiesale gereeld ontsmet.

Biblioteke kan net onder streng toesig deur ’n beperkte aantal mense gebruik word.

Kuier in koshuiskamers is streng verbode en maskers moet ook in die koshuis gedra word.

“Ontsmettingsmiddels of lopende water en seep moet by alle koshuisingange, eetsale en studiesale beskikbaar wees. Leerlinge moet daagliks met warm water en seep bad en skoene in badkamers dra,” lui die dokument.

Meer oor:  Koronavirus  |  Regulasies  |  Angie Motshekga  |  Covid-19  |  Skole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.