Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Robot help spesialiste saalrondes in Tygerberg doen

Spesialiste in die waakeenheid van die Tygerberg-hospitaal in Bellville, Kaapstad, het ’n nuwe robot-kollega wat infeksie-bestand is om hulle te help om saalrondes by Covid-19-pasiënte te doen.

Die spesiale videokonferensie-robot wat spesialiste in die Tygerberg-hospitaal se waakeenheid gebruik wanneer hulle nie fisiek self saalrondes kan doen nie. Foto: Verskaf

Die robot, met die bynaam Quintin, is ’n spesiale videokonferensie-robot wat spesialiste help om virtuele saalrondes te doen indien hulle nie fisiek by die hospitaal kan wees nie.

Quintin se dienste is blitsvinnig bekom danksy “ ’n kombinasie van denke van verskeie mense”, sê prof. Coenie Koegelenberg, professor in pulmonologie aan die Universiteit Stellenbosch (US) se fakulteit geneeskunde en gesondheidswetenskappe.

Die Tygerberg-hospitaal het ’n beperkte aantal spesialiste vir die waakeenheid. “Ons sal die werklading weens die Covid-19-pasiënte wat hier sal beland, tussen die spesialiste verdeel. Die kanse is redelik goed dat minstens een van ons kan siek word, dus is dit nodig om realistiese planne te beraam vir moontlike gebeure,” sê Koegelenberg.

Die robot word op ’n afstand beheer deur middel van ’n selfoon of skootrekenaar, wat die werklading op die beskikbare dokters ligter sal maak. En as van die spesialiste in selfkwarantyn moet gaan, sal hulle steeds van die huis af kan werk.

Almal spring gou

Op Woensdag 18 Maart het Koegelenberg met sy vrou, dr. Suretha Kannenberg, ’n dermatoloog, gepraat oor die moontlikheid om ’n “spoggerige nanny cam” wat sy vroeër gekoop het, te gebruik.

“Sy het voorgestel dat ons eerder die Sunskill-laboratorium se Double Robotic-‘robot’ gebruik.”

Sunskill is ’n moderne kliniese opleidingsgerief van die US se departement gesondheid.

Ons het ’n volle saalronde gedoen sonder dat ons self by die waakeenheid in is.

“Die volgende dag het prof. Ian Vlok van die US se afdeling vir neurochirurgie, wat ook die hoof van Sunskill se bedrywighede is, en Sunskill se geriewebestuurder, Bronwyn Stockenstrom, my vinnig touwys gemaak oor hoe om die robot te gebruik. Sunskill het sonder enige huiwering ingestem dat die robot in die waakeenheid gebruik kon word totdat die pandemie verby is.

“Vrydag het ek en dr. Usha Lalla, hoof van die waakeenheid by die Tygerberg-hospitaal, die toestel getoets. Ons het ’n volle saalronde gedoen sonder dat ons self by die waakeenheid in is.”

Hulle het besef so ’n robot verander die speelveld in die huidige en in toekomstige pandemies. “Hierdie is natuurlik slegs anekdoties en is nie ‘ware bewyse’ nie, maar nood breek wet,” sê Koegelenberg.

Die robot, wat lyk soos ’n tabletrekenaar met twee wiele, gebruik ’n giroskoop en sensors en maak kommunikasie tussen dokter en pasiënt moontlik deur ’n mikrofoon en ’n inzoem-funksie.

Vlok verduidelik Sunskill gebruik wêreldklastegnologie om die vaardighede van nagraadse studente te ontwikkel. Hulle gebruik dié robotte om toegang te kry tot internasionale en nasionale kenners in hul onderskeie velde wat die opleiding en onderrig kan lei deur middel van hul virtuele teenwoordigheid. “Nou stel dieselfde tegnologie ons in staat om met veiligheid pasiënte te nader en te bestuur in ’n hoërisiko-omgewing, en dit verlaag die risiko vir ons personeellede.”

* Hierdie artikel is deur Sue Segar, vryskutskrywer van die US, geskryf.

Meer oor:  Tygerberg-Hospitaal  |  Inperking  |  Robot  |  Kaapstad  |  Koronavirus  |  Covid-19-Virus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.