Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Rokers het groter kans om te sterf aan Covid-19
Foto ter illustrasie.

As jy rook het jy ’n 10% groter kans om te sterf weens die koronavirus as ’n nie-roker.

Rook is ook ’n risikofaktor vir pasiënte wat ventilators benodig, sê prof. Elvis Irusen, hoof van die respiratoriese afdeling by die Universiteit Stellenbosch se fakulteit vir geneeskunde en gesondheidswetenskappe.

“Daar is klein haartjies genaamd cilia wat kieme uit die longe verwyder. Sigaretrook verlam dié haartjies en rokers se longe sal dus sukkel om ontslae te raak van kieme,” sê Irusen.

Dit verlaag die longe se immuniteit en maak dit meer vatbaar vir virusse en longontsteking.

“Mense wat al lank rook, het ’n groter kans om longontsteking, brongitis en emfiseem te kry. As iemand reeds daaraan ly, en dan die koronavirus opdoen, is die risiko baie groter dat dié persoon in die waakeenheid sal eindig en sal sterf weens komplikasies.”

Prof. Elvis Irusen, hoof van die respiratoriese afdeling by die Universiteit Stellenbosch se fakulteit vir geneeskunde en gesondheidswetenskappe. Foto: Universiteit Stellenbosch

Emfiseem of chroniese brongitis lei tot permanente skade en veroorsaak dat die lugweg vernou. Iemand met ’n vernoude lugweg wat die virus opdoen, se kanse op oorlewing lyk nie goed nie, sê Irusen.

“Sulke mense het gewoonlik ’n ventilator nodig om asem te haal, en sowat ’n derde van pasiënte wat aan ’n ventilator gekoppel is, sterf.”

Die eerste pasiënt wat in die Tygerberg-hospitaal gesterf het weens die koronavirus, was volgens Irusen ’n roker. Daar is meer as een kwaal by die pasiënt gediagnoseer.

Irusen sê ’n onmiddellike verandering in optrede sal tot ’n persoon se voordeel wees. Hy sê ’n roker se longe sal binne enkele dae begin verbeter nadat hulle ophou rook, en die cilia sal weer begin werk.

“Die liggaam se witbloedselle sal herstel en sal beter kan werk om die virus te beveg. As iemand reeds emfiseem of chroniese brongitis het, sal hulle nie kan herstel nie, omdat dié toestande onomkeerbaar is.”

Hy sê ’n ouer persoon wat nie rook nie het volgens huidige aanduidings ’n beker kans om te herstel van die virus as ’n jonger persoon wat gereeld rook, omdat die nie-roker se immuniteit beter kan werk.

Irusen sê dit is nou die tyd om op te hou rook, as daar ooit een was.

“Rook kan ’n mens se lewensverwagting met tot 20 jaar verkort. Dit is nou die ideale geleentheid om op te hou rook. Hoekom dit nie neem nie?”

Hy sê benewens longontsteking, brongitis en emfiseem, kan rook ook longkanker, hartaanvalle en beroertes veroorsaak.

* Die berig is aangepas sedert dit aanvanklik gepubliseer is.

Meer oor:  Koronavirus  |  Sterf  |  Rook
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.