Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
SA bly op aangepaste vlak 3

Te midde van die Covid-19-pandemie wat al hoe erger word in Suid-Afrika, bly die land op ’n aangepaste vlak 3 van inperking, het pres. Cyril Ramaphosa Maandagaand aangekondig.

Meer as 33 000 Suid-Afrikaners het al aan die virussiekte gesterf en 148 000 mense is in hospitale opgeneem.

Tans word meer as 15 000 Suid-Afrikaners oor die land heen met Covid-19 in hospitale behandel. ’n Derde van hulle kry suurstof.

Die provinsies met die hoogste getal infeksies is KwaZulu-Natal, die Wes-Kaap en Gauteng.

“Infeksies in Gauteng neem eksponensieel toe en die verwagting is dat die getal infeksies verder sal styg namate mense van hul vakansiebestemmings terugkeer,” sê Ramaphosa.

Die variant van die virus wat in November geïdentifiseer is, is nie gevaarliker as die vorige variant nie, maar dit versprei vinniger. Dít plaas druk op die gesondheidstelsel omdat hospitale gouer voller word namate die getal infeksies toeneem.

Die president het nie net slegte nuus gehad nie. Hy het aangekondig die land het 20 miljoen dosisse entstof bekom vir ’n omvangryke inentingsprogram.

Inligting daaroor sal binnekort bekend gemaak word.

Infeksies in Gauteng neem eksponensieel toe en die verwagting is dat die getal infeksies verder sal styg namate mense van hul vakansiebestemmings terugkeer.

Hoewel daar baie mense is wat skepties is oor die entstowwe, het hy alle Suid-Afrikaners gevra om deel te word van die “monumentale onderneming om die entstof te ontplooi”.

Onderhandelinge met verskeie entstof-vervaardigers is aan die gang, maar geen amptelike ooreenkomste is al bereik nie, sê Ramaphosa.

Een van die nuwe, streng maatreëls wat die president aangekondig het, is dat die land se 21 land-grensposte tot 15 Februarie gesluit sal wees.

Mense sal wel onder sekere omstandighede die land mag inkom en verlaat.

Die grensposte word gesluit omdat baie mense daar aan infeksies blootgestel word terwyl hulle wag om al die nodige papierwerk te doen.

Een van die redes vir die groot opeenhoping is dat baie mense wat by die grensposte opdaag, nie die nodige Covid-19-sertifikate het wat wys dat hulle nie die virus onder lede het nie.

Die aandklokreël sal steeds om 21:00 in werking tree, maar voortaan om 05:00 eindig en nie om 6:00 soos tot dusver die geval was nie.

Die kwessie oor die heropening van skole word tans deur die Covid-19-bevelsraad hanteer. ’n Aankondiging daaroor sal in die komende dae gedoen word.

Die verbod op die verkoop van alkohol bly ook in plek.

Die feit dat die getal trauma-gevalle by hospitale beduidend afgeneem het sedert die verbod ingestel is, wys dit was die regte besluit.

Alle strande, riviere, mere, openbare parke en openbare swembaddens in brandpuntgebiede bly gesluit. Botaniese tuine waar toegangsbeheer is, bly oop.

Die meeste binnenshuise en buitenshuise byeenkomste – begrafnisse uitgesluit – word steeds nie toegelaat nie.

Ramaphosa het gewaarsku begrafnisse bly steeds superverspreiders van die Covid-19-virus.

“Die werklikheid is baie van die mense wat nou sterf, het die virus by begrafnisse opgedoen.”

Die getal mense wat begrafnisse bywoon, word steeds tot 50 beperk. Begrafnisgangers moet te alle tye maskers dra.

Die president sê kerkbyeenkomste word ook steeds verbied. “Navorsing dui daarop dié soort byeenkomste hou ’n risiko in omdat groot groepe mense met kerkdienste in geslote plekke bymekaar kom.”

Die werklikheid is baie van die mense wat nou sterf, het die virus by begrafnisse opgedoen.

Ramaphosa gee toe die inentingsprogram sal die grootste en moeilikste logistieke uitdaging wees waarmee die land nog te make gehad het.

“Dit sal die aktiewe betrokkenheid van alle sfere van die regering vereis, asook alle sektore van die samelewing en alle Suid-Afrikaners.”

Die president sê ondanks die omvang van die pandemie “moet ons nie glo ons is hulpeloos nie”.

Meer oor:  Koronavirus  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.