Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Vlak 3 bly vir eers, maar . . .

Al het die storm van die Covid-19-pandemie Suid-Afrika nou behoorlik getref, bly die land vir eers op vlak 3 van die nasionale staat van inperking.

Die verkoop en verspreiding van alkohol word egter onmiddellik verbied ten einde minder druk op hospitale te plaas weens die groot aantal ongelukke en ook geslagsgeweld wat weens drank plaasvind.

’n Aandklokreël sal boonop van Maandag daagliks van 21:00 tot 04:00 in plek wees, het pres. Cyril Ramaphosa Sondagaand in ’n televisieboodskap aangekondig.

Die ramptoestand is ook tot 15 Augustus verleng.

Dié aankondiging het gevolg op ’n spesiale kabinetsvergadering .

“Die Covid-19-bevelsraad en die kabinet het besluit om die inperking op vlak 3 te hou. Enige ander besluit sou die ekonomie te veel skade berokken het,” het Ramaphosa gesê. Dit was sy eerste boodskap sedert 17 Junie.

Minstens 4 079 mense is al sedert Maart dood aan die virussiekte en meer as 276 000 mense is positief getoets.

“Ons word gekonfronteer deur die ergste krisis sedert ons ’n demokrasie geword het. Die pandemie is erger as enigiets wat ons al voorheen beleef het en die ergste lê nog voor. Die storm is op ons. Meer as 250 000 Suid-Afrikaners is al met die virus besmet. Baie ander weet nie hulle is besmet nie,” het die president gesê.

“Elke dag is daar meer as 12 000 nuwe infeksies. Dit is 500 mense per uur.”

Die Covid-19-bevelsraad en die kabinet het besluit om die inperking op vlak 3 te hou. Enige ander besluit sou die ekonomie te veel skade berokken het.

Gauteng is vinnig op pad na 100 000 gevalle en die Oos-Kaap na 50 000. Die Wes-Kaap het sowat 80 000 gevalle.

“Ons moet diep bekommerd wees dat ’n kwart van almal wat gesterf het, net in die laaste week dood is.”

Tog is daar hoop.

Suid-Afrika het steeds een van die laagste sterftesyfers ter wêreld. Dit is danksy die nasionale staat van inperking.

Ander goeie nuus is dat meer as 134 000 mense al van die siekte herstel het.

Die president sê dit is nou tyd dat Suid-Afrikaners self verantwoordelikheid neem vir hul eie veiligheid.

Ramaphosa het onder meer aangekondig:

* Hy weet dit is makliker gesê as gedoen, maar mense moenie by familie gaan kuier nie. Hy kry veral bejaardes jammer wat nie hul kinders te sien kry nie;

* Die dra van materiaal-gesigmaskers gaan strenger gereguleer word met nuwe, strenger maatreëls. Werkgewers, winkels, taxi’s en die eienaars van enige openbare gebou word nou wetlik verplig dat enigiemand wat by hul eiendom of voertuig ingaan, ’n masker moet dra;

* Taxi’s wat lang ritte onderneem, sal slegs 70% van die normale aantal passasiers mag vervoer. Plaaslike ritte se kapasiteit word tot 100% verhoog, met nuwer strenger regulasies. Die taxi’s se ruite moet oop wees en passasiers moet gesigmaskers dra.

Tog het Ramaphosa ook die sweep geklap.

“Hoewel die meeste Suid-Afrikaners alles moontlik gedoen het om te keer dat die virus versprei, is daar ander wat die waarskuwings geïgnoreer en onverantwoordelik opgetree het. Hulle beskerm nie ander mense nie.

Daar is mense wat partytjies en drinkpartytjies hou. Dan is daar dié wat in die openbaar loop sonder maskers. Voorts is daar mense wat begrafnisse in groot getalle bywoon – baie meer as die beperking van 50 mense.

“Dit is gevalle soos dié wat die virus help versprei. Dit is mense wat roekeloos optree en nie omgee nie. Dit is hoekom die virus versprei. Mense wat ná begrafnisse by familie gekuier het, is besmet met die virus en het gesterf.

“Ander weer klim in taxi’s sonder gesigmaskers om by vriende en familie te gaan kuier. So versprei hulle die virus,” het Ramaphosa gesê.

Hy het voorts gesê volgens wetenskaplike modelle kan 40 000 tot 50 000 Suid-Afrikaners aan Covid-19 sterf.

“Ons moet alles moontlik doen om dit verkeerd te bewys.”

Ramaphosa het ook aangekondig:

* Meer as 2 miljoen koronavirustoetse is al gedoen;

* Daar is 28 000 hospitaalbeddens beskikbaar gestel vir pasiënte;

* Daar is 1 700 bykomende asemhalingstoestelle verkry;

* Nog 12 000 asemhalingstoestelle sal teen einde Julie en einde Augustus gereed wees;

* Daar is bykomende verpleegkundiges, dokters en gesondheidsbeamptes ingeroep;

* R1,9 miljard is beskikbaar gestel vir voorrade aan gesondheidsinstellings.

“Ons grootste uitdaging lê voor. Gesondheidsgeriewe in talle provinsies is onder erge druk.

“Daar is inligting dat mense wat besmet is, by mediese geriewe weggewys word omdat daar nie beddens is nie. Daar word in alle provinsies hard gewerk om die beskikbaarheid van beddens in algemene sale te verseker. Daar word gewerk om die voorraad van suurstof en ander dienste te verhoog.

“Weens die kritieke tekort aan geriewe in landelike gebiede, is daar ’n plan dat pasiënte na stedelike gebiede verskuif sal word.”

Ramaphosa het opnuut ’n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om hulself te isoleer wanneer hulle vermoed hulle het die virus onder lede.

Weens die kritieke tekort aan geriewe in landelike gebiede, is daar ’n plan dat pasiënte na stedelike gebiede verskuif sal word.

“Daar is ongelukkig mense wat dit nie wil doen nie, maar dit is noodsaaklik dat mense dit doen om die ketting van verspreiding te verbreek.”

Die president het opnuut sy simpatie met die naasbestaandes van Covid-19-slagoffers uitgespreek.

Hy het ook die drie premiers wat die siekte onder lede het, Alan Winde (Wes-Kaap), prof. Joe Mokgoro (Noordwes) en David Makhura (Gauteng), beterskap toegewens.

Meer oor:  Inperkregulasies  |  Koronavirus  |  Covid-19  |  Drankverkope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.