Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
SA dalk agter in tou vir entstof

’n Getalm met onderhandelings vir die eerste besendings entstowwe kan beteken dat Suid-Afrika agter in die ry sal moet staan om sy bevolking teen die gevreesde siekte in te ent.

’n Gesondheidswerker in Moskou dien ’n dosis van Rusland se eksperimentele Spoetnik V-koronavirus-entstof toe.

Suid-Afrika se buurlande Botswana en Namibië is reeds deel van ’n internasionale entstofinisiatief en Botswana het selfs al die eerste betaling gemaak.

Kenners waarsku dat, te midde van ’n wedloop tussen lande oor die wêreld heen om so vroeg as moontlik soveel as moontlik Covid-19-entstowwe in die hande te kry, vertragings met sulke onderhandelinge noodlottig kan wees.

Die departement van gesondheid het gesê ’n aankondig hieroor volg binnekort.

Ten spyte van die feit dat minstens vier van die tien voorloper-entstowwe tans in Suid-Afrika getoets word, beteken dit nie dat die land voorkeur sal kry met die aankoop en verspreiding van ’n suksesvolle kandidaat nie.

Meer as nege miljard dosisse van al die kandidaat-entstowwe is reeds deur ryk lande soos Amerika, Kanada en die lidlande van die Europese Unie (EU) opgeraap, wys navorsing van die Duke Global Health Innovation Center.

“Individuele lande bestel soveel moontlik dosisse van soveel moontlik kandidaat-entstowwe om hul kanse te verhoog om hul bevolkings te kan dek. Dit nog voordat die kandidaat-entstowwe goedgekeur is vir gebruik.”

‘Ons praat van miljoene dosisse.’

Middelinkomstelande soos Indië en Brasilië, wat entstowwe maak, het met entstofontwikkelaars onderhandel vir groot bestellings.

Volgens die Duke-studie sal daar eers teen 2024 genoeg entstowwe beskikbaar wees vir die wêreldbevolking.

Om wêreldwye toegang tot ’n suksesvolle entstof te verseker, het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) die Covax-inisiatief begin waartoe meer as 180 lande al verbind is. Covax is betrokke by die ontwikkeling van meer as tien kandidaat-entstowwe en wil teen einde 2021 minstens twee miljard dosisse gereed hê. Elke lidland sal genoeg dosisse van die eerste entstowwe kry om tot 20% van hul bevolkings in die hoërisikogroepe in te ent.

Arm lande word gesubsidieer, maar ryk en middelinkomstelande – soos Suid-Afrika – sal moet opdok.

Botswana het die afgelope week sy eerste betaling aan Covax gemaak. Moses Keetile, adjunkminister van gesondheid, het aan Reuters gesê hulle het hiermee entstowwe vir sowat 450 000 burgers verseker.

Die Namibiese media berig dat dié middelinkomsteland sowat R200 miljoen aan Covax gaan betaal.

Volgens Reuters se berekeninge kan dit Suid-Afrika sowat R2 miljard kos om deur Covax entstowwe vir 10% van die bevolking te kry.

“Ons onderhandel nog hieroor,” het Khadija Jamaloodien, direkteur van bekostigbare medisyne by die departement van gesondheid, die afgelope week aan Reuters gesê. “Daar is kommer oor pryse en koste, voorwaardes vir betaling, regulatoriese kwessies soos byvoorbeeld aanspreeklikheid, die keuse van entstof en betrokkenheid by Covax se bestuur.”

Volgens prof. Helen Rees, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Gesondheidsprodukte-reguleringsowerheid (Sahpra), bring Covax ’n skaalbesparing omdat dit ’n enorme mark skep en goeie pryse kan beding. Daar moet egter ook aan Suid-Afrika se streng interne regulatoriese maatreëls voldoen word. Volgens Rees onderhandel die regering ook met individuele entstofvervaardigers.

Rapport verstaan egter dat die regering nog nie eens onderhandelinge begin het met al die vervaardigers wat tans hul entstowwe in die land toets nie. Dit sou beteken dat – sou van hierdie entstowwe suksesvol wees – dit nie beskikbaar sal wees in die land wat gehelp het om die doeltreffendheid daarvan te toets nie.

Suid-Afrika is onder meer een van die lande waar Pfizer sy opspraakwekkende kandidaat-entstof toets. Die Amerikaanse maatskappy het die afgelope week aangekondig dat hulle tevrede is dat hul entstof in 90% van gevalle werk, dat dit veilig is en dat produksie binnekort kan begin. Sowat 800 Suid-Afrikaners het einde September in Johannesburg, Pretoria, Thabazimbi en in die Wes-Kaap die eerste dosis van die Pfizer-entstof ontvang, sê dr. Essack Mitha, eienaar van die Newtown Clinical Research Centre en die studieleier van die Pfizer-studie in Suid-Afrika.

’n Tweede dosis is reeds toegedien en hulle monitor nou moontlike newe-effekte en doeltreffendheid.

“Sowat 44 000 vrywilligers wêreldwyd het al die entstof gekry en nêrens is ernstige newe-effekte aangeteken nie,” sê Mitha. “Dit blyk ook dat 90% van die vrywilligers wat die entstof gekry het, nie siek geword het van die Sars-CoV-2-virus nie.” Die volgende stap is om te kyk hoe lank die entstof immuniteit bied, hoe doeltreffend dit vir groepe soos byvoorbeeld ouer mense is en of daar newe-effekte opduik as meer mense dit kry, sê Mitha.

Nog twee voorloper-entstowwe word in Suid-Afrika onder leiding van prof. Shabir Madhi, entstofkundige van Wits, getoets. Volgens Madhi monitor hulle tans simptome onder die sowat 2 000 Suid-Afrikaanse vrywilligers in die navorsingsprojek vir die entstof wat die Universiteit van Oxford en AstraZeneca ontwikkel het.

Sowat 4 000 Suid-Afrikaners vorm ook deel van die program om die Amerikaanse onderneming Novavax se entstof te toets.

Sahpra het ook toestemming gegee dat Johnson & Johnson se entstof in Suid-Afrika getoets kan word. Ongeveer 12 000 vrywilligers sal onder leiding van prof. Glenda Gray, president van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (MNR) aan dié studie deelneem.

Sou dié entstof doeltreffend en veilig wees, sal 300 miljoen dosisse daarvan deur Aspen Pharmacare in Port Elizabeth vervaardig word.

“Suid-Afrika sal baat vind by die uitvoer van die entstof, maar Johnson & Johnson bepaal wie dit sal ontvang,” het Shauneen Beukes, woordvoerder vir Aspen Pharmacare, gesê. Johnson & Johnson het teen druktyd nie op navrae gereageer of bevestig of enige hiervan vir die plaaslike mark bestem sal wees nie.

Benewens die uitdaging om ’n entstof te ontwikkel en vervaardig, lê daar nog die logistiek voor om dit te versprei, maan Rees. Volgens haar werk die regering en ander belangegroepe reeds aan plaaslike verspreidingsplanne. “Ons praat van miljoene dosisse en dit is nie net Suid-Afrika wat dit moet uitpluis nie. Ons moes nog nooit ’n entstofprogram uitreik om miljoene volwassenes (en kinders) te bereik nie.”

Boonop bied elke entstof sy eie spesifieke uitdagings. Die entstof van Pfizer, waaroor daar nou so baie opgewondenheid is, moet byvoorbeeld teen -70 °C geberg word. “Fasiliteite wat ’n entstof teen sulke lae temperature kan berg is net beskikbaar by universiteite met hoogs gespesialiseerde laboratoriums,” sê Madhi.

Meer oor:  Helen Rees  |  Shabir Madhi  |  Khadija Jamaloodien  |  Namibië  |  Botswana  |  Pfizer  |  Entstof  |  Covid-19  |  Sahpra
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.