Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
SA doen te min toetse vir Covid
Toetsstelle wat 3 weke gelede uit VSA bestel is, nog nie hier nie

’n Tekort aan Covid-19-toetsstelle en die land se onvermoë om meer mense te toets ry die land se pogings om die virus te bestry in die wiele.

Nicola Williams van Bothasig word vir Covid-19 getoets. Inwoners kon by die kliniek aanmeld vir toetse nadat ’n werker van die plaaslike Shoprite siek geword het. Foto: Edrea du Toit

Terwyl die land gevra word om nóg twee weke van inperking te verduur, het die waarnemende direkteur-generaal van gesondheid, dr. Anban Pillay, Vrydagaand teenoor parlementariërs erken dat die land nie genoeg toetse doen om ’n ware prentjie van die pandemie te kry nie.

Boonop het die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens (NHLS) gister teenoor Rapport erken dat die toetse wat hulle drie weke gelede al uit die VSA bestel het, steeds nie in Suid-Afrika aangekom het nie. Hierdie toetsstelle moet Suid-Afrika se toetsvermoë per dag van 5 000 na meer as 30 000 teen einde April verhoog.

Die NHLS het egter nie geantwoord op vrae oor hoeveel toetsstelle uit Amerika bestel is of hoeveel die land nog in voorraad het nie.

Die regering se gesondheidsraad­gewers krap ook op die oomblik kop oor die oënskynlike afwaartse trajek van die getal Suid-Afrikaners wat positief toets vir die virus.

Net meer as 1 200 per miljoen is al getoets.

Pillay het Vrydagaand aan lede van die parlementêre portefeuljekomitee oor gesondheid gesê daar is drie moontlike redes:

* Suid-Afrika toets nie genoeg mense nie;

* Suid-Afrika toets die verkeerde mense; of

* Die inperking werk.

Hy sê die vermoede is dat ’n kombinasie van die drie faktore bydra tot die afwaartse trajek.

Alhoewel Suid-Afrika die laaste paar dae daarin kon slaag om 5 000 toetse per dag te doen, is die regering steeds bitter ver van sy mikpunt van 36 000 toetse per dag.

Mzi Gcukumana, NHLS-woordvoerder, sê alhoewel Suid-Afrika deur verskaffers verseker is dat die land hoog boaan die lys van lande is wat toetse moet kry, het die toetsstelle steeds nie hier aangekom nie.

“Die uitdaging is dat daar wêreldwyd ’n beperkte voorraad is en dat Suid-Afrika om hierdie voorraad moet meeding,” sê Gcukumana.

“Vlugte is ook gekanselleer wat die voorraad se aankoms in die land vertraag het.”

Boonop moet die toetse eers op tuisbodem veilig verklaar word vir gebruik omdat dit ’n nuwe toets is en nog nie voorheen hier gebruik is nie. Amerikaanse owerhede het dit op 24 Maart goedgekeur.

Pillay het Vrydagaand ook gewaarsku dat enige toetsuitslag slegs ’n prentjie skets van hoe die situasie in die land twee weke gelede gelyk het (toe daardie mense die virus opgedoen het). Die mense wat nou positief toets, het waarskynlik die virus opgedoen nog voordat die inperking begin het. Daarom sal ons eers in die komende week werklik kan sien of die inperking ’n verskil gemaak het.

Donderdag en Vrydag het Suid-Afrika die toetsuitslae van 9 252 mense bekend gemaak. Slegs 158 (of 1,7%) van hulle het die virus onder lede gehad. Teen gisteraand het die land 2 028 bevestigde gevalle gehad en 25 sterftes. Net meer as 75 000 mense is al getoets. Dit beteken dat 1 276 burgers per miljoen getoets is.

Volgens ’n groep akademici van die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) sal die land sy vermoë om groot getalle mense te toets – en diegene met wie hulle in aanraking was op te spoor – drasties moet opskerp voor einde April.

“Dit moet gepaard gaan met ’n omvattende benadering tot sosiale distansiëring,” lui ’n artikel getiteld “South Africa needs to end the lockdown: here’s a blueprint for its re­placement” wat op die aanlyn joernaal The Conversation gepubliseer is.

“Om suksesvol te wees, moet die skaal van toetsing minstens gelykstaande wees aan dié van Suid-Korea en ten beste dié van Duitsland (sien grafika hiernaas). In ’n Suid-Afrikaanse konteks beteken dit tussen 17 000 en 36 000 toetse per dag.

Met die geweldige tekort aan toetsstelle en die vermoë om toetse te verwerk, lyk dit in hierdie stadium nie moontlik nie.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het op Vrydagaand se vergadering gesê die departement hoop om in die komende weke 600 000 toetsstelle tot sy beskikking te hê.

Op die oomblik volg die departement dus ’n “siftingsbenadering” waar net mense met simptome wat op moontlike besmetting dui, getoets word. Die departement van gesondheid het tans 1 308 spanne landwyd wat sifting doen. Kritici wys daarop dat dié metode glad nie asimptomatiese individue identifiseer nie. Dit is mense wat die siekte het, maar nie simptome toon nie.

Mkhize het ook gewaarsku dat sy departement ’n “ontploffing” van infeksies vrees wanneer die inperking opgehef word, of wanneer die winterseisoen begin, en daarom berei hulle steeds voor op die ergste.

Syfers van die land se grootste mediese fondse toon egter dat daar nog nie groot getalle Covid-19-pasiënte in private hospitale is nie, berig Johan Eybers.

Volgens dr. Ryan Noach, hoofbestuurder van Discovery Health, het hul lede teen Woensdag 15 506 toetse vir die koronavirussiekte laat doen, waarvan 551 positief was. Altesame 82 was in die hospitaal, waarvan 16 in ’n waakeenheid opgeneem is.

Teen Donderdagaand het 1 056 van Momentum se mediesefondslede hulle al laat toets en 32 was positief. Een van die pasiënte is in ’n ernstige toestand, volgens syfers van Damian McHugh, gesondheidshoof by Momentum Health Solutions.

Liezel de Lange berig dat daar in mediese kringe gegis word of die inenting teen tuberkulose wat alle Suid-Afrikaners sedert 1973 by geboorte ontvang, nie dalk ’n rol speel in die stadige verspreiding van die virus in die land nie. Die entstof Bacille Calmette-Guérin (BCG) verhoed nie dat jy TB kry nie, maar versterk die liggaam se immuunrespons teen lug­weginfeksies soos TB.

Volgens prof. Simon Schaaf, ’n spesialis in die departement pediatrie en kindergesondheid aan die Universiteit Stellenbosch, het ’n voorlopige epidemiologiese studie gedui op ’n moontlike laer voorkoms van Covid-19 in lande wat omvattende BCG-inentingsprogramme het. Daar is ook ’n vermoede dat pasiënte wat ingeënt is, minder ernstig siek word.

“Die epidemie is egter nie in al die lande in dieselfde fase nie en boonop is Duitsland, wat ’n lae sterftesyfer het en die afgelope 40 jaar nie inent nie, uitgesluit,” maan Schaaf.

“Daar is geen (wetenskaplike) studie wat wys dat BCG doeltreffend is om jou teen Covid-19 te beskerm nie en daarom sal gekontroleerde studies nou in Australië, Nederland en Suid-Afrika plaasvind,” sê Schaaf. (Lees meer hieroor in Weekliks).

Meer oor:  Liezel De Lange  |  Anban Pillay  |  Zweli Mkhize  |  Vsa  |  Toetsstelle  |  Covid-19  |  Entstof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.