Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
SA, Indië vra G7-lande moet dié entstofreg tydelik verslap

Suid-Afrika en Indië het die G7-nywerheidslande amptelik gevra om tydelik afstand te doen van hul eiendomsregte vir entstowwe om dit vir die ontwikkelende wêreld moontlik te maak om self entstowwe te vervaardig en te versprei te midde van die huidige Covid-19-pandemie.

Só het dr. Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Woensdagaand in ’n regstreekse onderhoud in Londen met CNN se Christiane Amanpour gesê.

“Daar moet groter produksie van Covid-19-entstof in die ontwikkelende wêreld self wees.

“Daar is Afrikalande wat die kapasiteit het om entstof te produseer en te versprei, maar dan moet die groot lande wat die eiendomsreg van die entstowwe besit, bereid wees om tydelik daarvan afstand te doen.

“As een land veilig is, maar niemand anders nie, is daardie land ook nie veilig nie,” het Pandor gesê.

Sy was op uitnodiging van Dominic Raab, Brittanje se minister van buitelandse sake, in Londen vir die vergadering van die G7-nywerheidslande se ministers van buitelandse sake, by Lancaster House.

Dié vergadering is ter voorbereiding van die G7-leiersberaad wat in Junie in Cornwall, Engeland, gehou word.

Indië – wat ook as ’n uitgenooide gas op die vergadering was – het amptelik gevra om die eiendomsregte op die entstowwe te verslap.

Dié kwessie is na die Wêreld-handelsorganisasie (WTO) verwys.

In antwoord op ’n vraag van Amanpour of die G7-lande bereid is om hul eiendomsregte te verslap, het Pandor geantwoord, daar lê nog ’n uitdaging voor om dit reg te kry.

As een land veilig is, maar niemand anders nie, is daardie land ook nie veilig nie.

Tog glo sy daar is van die G7-lande wat besef daar is ’n probleem.

“Hoe vinniger ons genoegsame entstowwe beskikbaar kan stel, hoe gouer kan ons keer dat die virus nuwe variante ontwikkel.”

Die huidige verspreiding van entstowwe is eenvoudig nie goed genoeg nie en almal is bewus daarvan, het Pandor gesê.

“Ons het verduidelik dit is ’n noodtoestand en wanneer dit ’n noodtoestand is, moet daar gelyk word na die stel reëls om te sien of daar maniere is hoe die krisis getakel kan word,” het Pandor gesê.

“Wat Suid-Afrika en Indië voor gevra het, is ’n tydelike afstanddoening van die intellektuele regte ten einde die pandemie behoorlik te kan pak wat die hele wêreld tans raak.

“Verlede jaar is die versekering gegee dat entstowwe wêreldwyd versprei sal word. Daardie belofte kan nie nou verbreek word nie.”

Pandor sê dit is nou tyd dat die wêreld koppe bymekaar sit.

“Ons glo daar is lande soos Brasilië, Indië, Suid-Afrika, Nigerië, Ghana, Senegal, Ethiopië, Egipte en Tunisië wat die kapasiteit het om die entstowwe te kan vervaardig.

“Kom ons gebruik dit om die produksie van entstowwe te verhoog en so seker te maak dat ons genoeg entstowwe het om almal te kan inent.”

Ons glo daar is lande soos Brasilië, Indië, Suid-Afrika, Nigerië, Ghana, Senegal, Ethiopië, Egipte en Tunisië wat die kapasiteit het om die entstowwe te kan vervaardig.

Pandor het daarop gewys dat farmaseutiese maatskappye in Europa tans sukkel om genoeg entstowwe te produseer. Die VSA het al self sy kommer uitgespreek oor die stadige pas van dienslewering hiermee.

“Ons (die wêreld) produseer eenvoudig nie genoeg entstof nie. Daarom, al is daar beloftes van miljoene dosisse entstof wat beskikbaar gestel sal word, wie kry dit eerste?

“Ons hoor daar word deurentyd gesê farmaseutiese maatskappye het nie tans die kapasiteit om genoeg entstowwe te voorsien nie.

“As hulle dan nie het nie, waarom is daar dan ’n huiwering om tydelik van die eiendomsregte afstand te doen?” het Pandor gesê.

Amanpour het daarop gewys dat Suid-Afrika nog net 0,5% van sy bevolking ingeënt het.

Meer oor:  G7-Beraad  |  Naledi Pandor  |  Covid-19  |  Entstowwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.