Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
SA kan teen Kersfees 35 miljoen mense inent

Die regering wil teen die eerste week in Augustus elke drie dae ’n miljoen mense inent en het die teikendatum vir kudde-immuniteit van Februarie volgende jaar tot Desember vervroeg.

’n Covid-19-inenting word die afgelope week in Meadowlands, Soweto, toegedien. Foto: Papi Morake

Dit is ’n aansienlike verbetering vir ’n entstofprogram wat 104 dae geneem het om sy eerste miljoen mense in te ent (sien grafika). Die laaste miljoen mense is binne vyf dae ingeënt en die inentingsprogram begin nou behoorlik spoed optel.

Nadat Suid-Afrika maande lank een van die stadigste inentingskoerse in Afrika gehad het, het slegs Botswana (13 per 100 mense), Zimbabwe (13 per 100), Ekwatoriaal-Guinee (22 per 100) en Marokko (58 per 100) nou ’n vinniger inentingskoers as Suid-Afrika (10 per 100).

Dr. Nicholas Crisp, adjunkdirekteur-generaal van gesondheid, sê die kerf van 250 000 inentings per dag wat die afgelope week die eerste keer bereik is, is nie hul einddoel nie.

“Ons mik nou vir ’n miljoen dosisse elke drie dae (toegedien) wat ek dink die realistiese kapasiteit sal wees,” sê Crisp. Dit is sowat 330 000 inentings per dag.

Dit het 104 dae geneem om die eerste miljoen mense in te ent. Die laaste miljoen mense is binne vyf dae ingeënt.

Sou die planne realiseer kan Suid-Afrika teen Desember kudde-immuniteit bereik.

Die regering het aanvanklik gehoop om dié mylpaal teen Desember te bereik, maar moes dit uitstel tot Februarie weens probleme met die lewering van entstowwe van Johnson & Johnson (J&J) en Pfizer.

“Ons huidige planne wys 35 miljoen inentings teen Kersfees is haalbaar,” sê Crisp.

J&J kon die afgelope week eindelik ’n afleweringskedule vir entstowwe aan die waarnemende minister van gesondheid, Mmamoloko Kubayi, stuur.

Lewering is in Junie vertraag nadat 60 miljoen entstowwe by ’n fabriek in Baltimore, Amerika, besmet geraak en vernietig moes word. Die Suid-Afrikaanse regering het 31 miljoen van J&J se enkeldosisentstof aangekoop.

Crisp sê daar is nou “geen vrese” oor dié entstowwe se aflewering nie.

Die lewering van J&J-entstowwe sal volgens Crisp nou vir plattelandse provinsies soos die Noord-Kaap en die Vrystaat die geleentheid bied om op te vang teenoor ander provinsies se entstofprogramme.

Provinsies soos die Noord-Kaap (waar 8,6 inentings per 100 mense gedoen is) en Noordwes (7,6 per 100) steek af by provinsies met groot stede soos die Wes-Kaap (13,5 per 100), Gauteng (9,7 per 100) en KwaZulu-Natal (10,2 per 100).

Die J&J-dosisse is vir plattelandse provinsies geoormerk omdat J&J nie teen dieselfde lae temperature as Pfizer gestoor hoef te word nie. Dit is boonop ’n enkeldosisentstof waar mense twee dosisse Pfizer moet kry.

Benewens die goeie nuus oor J&J se aflewering sal Pfizer se weeklikse lewering ook in Augustus toeneem. Maandag word 968 760 dosisse Pfizer afgelewer en oor ’n week word nog 1,5 miljoen dosisse verwag. Suid-Afrika het sowat 31 miljoen Pfizer-dosisse gekoop.

Boonop het grootskaalse inentings oor naweke ook gister begin nadat entstofprogramme oor naweke bykans stilgestaan het, omdat daar nie geld was vir oortydbetaling vir personeel nie.

Suid-Afrika het teen druktyd al 6,3 miljoen mense ten minste een inspuiting toegedien. Sowat 1,1 miljoen J&J-dosisse is as deel van die Sisonke-program aan gesondheidswerkers of onderwysers en polisiebeamptes gegee.

Altesame 5,1 miljoen dosisse Pfizer is al toegedien, waarvan 4 miljoen eerste dosisse. Dit beteken meer as 2,2 miljoen Suid-Afrikaners is al volledig ingeënt.

Cyril sê vandag

Khumbudzo Ntshavheni, waarnemende minister in die presidensie, het Vrydagaand aangekondig dat pres. Cyril Ramaphosa vanaand die land sal toespreek oor die inperkingsregulasies weens Covid-19-infeksies.

Mmamoloko Kubayi het Vrydag gesê alle aanduidings is dat Suid-Afrika oor die kruin van die derde golf is, maar daar is kommer dat die onluste van verlede week in KwaZulu-Natal tot ’n oplewing van infeksies kan lei.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.