Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
SA ‘kan verspreiding van virus stuit’ – WGO-hoof

Dit is nooit te laat vir Suid-Afrika om sy koronavirus-situasie om te keer nie, sê dr. Tedros Ghebreyesus, hoof van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO).

“Suid-Afrika word deur ernstige uitdagings in die gesig gestaar weens die toename in koronavirusgevalle, maar dit is nooit te laat om die situasie om te keer nie. Baie lande het dit reggekry dat oordragte onderbreek word,” sê Ghebreyesus.

Hy het gepraat op ’n Suid-Afrikaanse aanlyn konferensie oor wetenskap, tegnologie en innovering waaraan verskeie Suid-Afrikaanse ministers, verteenwoordigers van die Afrika-Unie (AU) en die Verenigde Nasies (VN), sowel as plaaslike en internasionale wetenskaplikes deelgeneem het.

Tedros Ghebreyesus, hoof van die WGO. Foto: Reuters

Naas die VSA, Brasilië, Indië en Rusland, is Suid-Afrika die land wat tot dusver die meeste bevestigde gevalle van die koronavirus aangeteken het. Suid-Afrika se bevolking is kleiner as dié van die lande wat meer gevalle het.

Hoewel wetenskap, tegnologie en innovering deurslaggewend gaan wees om die pandemie te oorwin, sê Ghebreyesus die grootste klem moet geplaas word op solidariteit sodat wetenskaplike navorsing oor Covid-19 tussen instellings en lande gedeel word om vinniger te vorder.

Dit sal ook help om ongelykhede tussen lande uit te wis.

“Ek doen ’n beroep op Suid-Afrika en Afrika om dringend te belê in sy vermoë om op eie bodem vervaardiging te kan doen,” sê Ghebreyesus.

Ek doen ’n beroep op Suid-Afrika en Afrika om dringend te belê in sy vermoë om op eie bodem vervaardiging te kan doen.

Prof. Tulio de Oliveira van die Universiteit van KwaZulu-Natal, wat betrokke is by die navorsing oor die genetiese evolusie van die koronavirus wat Covid-19 veroorsaak, sê hy is bekommerd dat die verspreiding van die virus in Suid-Afrika sterk ooreenkomste toon met hoe dit in die VSA versprei.

“Die uitbreking moet so gou moontlik in bedwang gebring word deur diagnose,” sê hy.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, sê egter daar is bemoedigende data wat daarop dui dat die Wes-Kaap verby die piek beweeg het en dat nuwe gevalle in die Oos-Kaap en in Gauteng begin afplat.

Ons maak staat op die raad van wetenskaplikes en die samewerking van internasionale rolspelers om die verspreiding van die virus in bedwang te bring. Ons hamer ook op niefarmaseutiese ingrypings.

"Ons maak staat op die raad van wetenskaplikes en die samewerking van internasionale rolspelers om die verspreiding van die virus in bedwang te bring. Ons hamer ook op niefarmaseutiese ingrypings,” sê Mkhize.

Prof. Helen Rees, hoof van die instituut vir reproduktiewe gesondheid en MIV aan die Universiteit van Witwatersrand (Wits), sê sy is bekommerd dat daar nie genoeg in Afrika belê word om veral entstowwe op groot skaal te kan vervaardig en versprei nie.

Dr. Glenda Gray, hoof van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad, sê hulle is betrokke by verskeie navorsingsaspekte oor die virus. Onder meer toets hulle rioolvuil in die Kaapstad-metro om aan te dui waar brandpunte ontwikkel.

“Ons gaan die program na ander dele van die land uitbrei,” sê sy.

Dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, wetenskap en tegnologie, sê die regering maak erns daarvan om sy vervaardigingsvermoë te verhoog.

Die land het reeds begin met die proses om reagente en toetsstelle plaaslik te vervaardig en om sy toetsvermoë te vergroot. Daar word ook met die private sektor saamgewerk om suurstoftoestelle op eie bodem te vervaardig.

Die regering het onder meer ook belê in ’n databasis om Covid-19-gevalle en die kapasiteit van hospitale te monitor en ook in die ontwikkeling van modelle om vooruitskattings oor die verspreiding van die virus te kan doen.

Ghebreyesus sê daar is reeds teen ’n ongekende spoed deur samewerking wêreldwyd vordering gemaak om die padkaart oor die hantering van die pandemie op te stel, om entstowwe te ontwikkel, om toetsstelle op groot skaal te kan vervaardig en om serologiese toetse te ontwikkel wat teenliggaampies kan opspoor.

Hy het Suid-Afrika bedank oor sy deelname aan die kliniese proewe op mense wat met die entstofkandidaat Oxford-AstraZeneca ingeënt is. Wêreldwyd word sowat 20 entstowwe tans in kliniese proewe op mense getoets.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.