Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
SA kry lof van WGO oor sy stryd teen pandemie

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het Suid-Afrika vir sy stryd teen die koronaviruspandemie geprys.

Dr. Matshidiso Moeti, die WGO se streekdirekteur vir Afrika, sê Donderdag in ’n verklaring Suid-Afrika se toewyding en die land se regeringsleiers het ’n groot rol gespeel in die suksesse wat behaal is.

“Sonder hierdie toewyding sou ons nie gewees het waar ons vandag is nie. Die jongste tendense in Suid-Afrika is duidelik bemoedigend. Ons moet egter waaksaam bly en bereid wees om enige oplewing effektief aan te pak. Ons is nog nie buite gevaar nie en moet dus nie ontspan nie,” sê Moeti.

“Die afgelope paar weke het die aantal nuwe gevalle in Suid-Afrika gedaal. Daar was nou al ses opeenvolgende weke waarin die nuwe bevestigde gevalle afgeneem het en minder as 2 000 nuwe gevalle per dag aangemeld word.

“Twee maande gelede is bykans 12 000 nuwe gevalle daagliks aangemeld. Daar is ook ’n volgehoue daling in die vraag na hospitaalbeddens, ventilators, suurstof en ander noodsaaklike mediese behoeftes,” lui die verklaring.

Met 653 000 kumulatiewe gevalle is die land egter steeds verantwoordelik vir byna die helfte van alle bevestigde koronavirusgevalle in Afrika.

Dr. Owen Kaluwa, WGO-verteenwoordiger vir Suid-Afrika, sê ook die land moet alles moontlik doen om met die afname in nuwe gevalle op koers te bly.

“Hoewel die beperkings verslap word, is voorkomende maatreëls deur individue dikwels die kritieke skans teen die verspreiding van die virus.

“Ons sal voortgaan om die nasionale en provinsiale departemente van gesondheid te ondersteun om planne te maak om enige oplewing te voorkom en te versag totdat ons hierdie pandemie in Suid-Afrika kan oorkom.”

Pres. Cyril Ramaphosa het Woensdag aangekondig dat die land Sondag om middernag ná ses maande na vlak 1 van die staat van inperking sal beweeg.

Tot soveel as 250 mense sal van Maandag af op binnenshuise byeenkomste kan saamtrek en nie meer as 500 op byeenkomste in die buitelug nie.

Ons sal voortgaan om die nasionale en provinsiale departemente van gesondheid te ondersteun om planne te maak om enige oplewing te voorkom en te versag totdat ons hierdie pandemie in Suid-Afrika kan oorkom.

Daarbenewens mag 100 mense nou ’n begrafnis bywoon, waar dit voorheen 50 was. Ramaphosa het gesê dit word steeds beskou as ’n geleentheid wat ’n hoë risiko vir infeksies inhou. Nagwake word steeds verbied.

Plekke gemik op oefening, ontspanning en vermaak, soos gimnasiums en teaters, wat ook tot 50 mense beperk was, sal nou toegelaat word om tot 50% van hul kapasiteit te vul.

Die beperkings op sportbyeenkomste is egter steeds van krag.

Die verkope van drank in drankwinkels vir verbruik by die huis sal nou van Maandae tot Vrydae van 09:00 tot 17:00 toegelaat word.

Die verkoop van drank om op die perseel te drink sal slegs toegelaat word in gelisensieerde plekke, wat streng by die aandklokreël moet hou.

Die aandklokreël geld nou van 24:00 tot 04:00.

Ministers in die nasionale bevelsraad sal Vrydag meer inligting oor die vlak 1-regulasies bekend maak.

https://www.afro.who.int/news/who-encouraged-south-africas-declining-covid-19-trend

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.