Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
SA lywe kreun onder inperking se vetjies

Jy is nie die enigste een met ’n lockdown-lyf wie se pajamabroek buite sig van die rekenaarkamera vir Zoom-vergaderings nie meer so gemaklik sit soos ’n jaar gelede nie.

’n Peiling wat die afgelope twee maande aanlyn onder byna 2 000 volwassenes gedoen is, toon meer as die helfte van Suid-Afrikaners het tydens die koronaviruspandemie heelwat gewig opgetel.

Sowat 44% van die respondente sê hulle weeg tussen 2 kg en 5 kg meer, 15% se gewig het met tussen 6 kg en 10 kg toegeneem en 4% laat die skaal met meer as 10 kg ekstra kreun.

Sowat 85% van die respondente het gesê hul gesinslede het ronder geword en 15% sê hul troeteldiere het vetter geword. Altesame 45% sê hul eet- en oefengewoontes is deur die inperkingsregulasies beïnvloed.

Pharma Dynamics, ’n vervaardiger van kardiovaskulêre medisyne, het die peiling gedoen. Nicole Jennings, die maatskappy se woordvoerder, sê hulle is bekommerd oor die negatiewe gevolge van die inperkingsregulasies op die vetsugepidemie in die land.

Vroue se gewig is volgens Jennings in ’n mindere mate deur die inperking geraak.

“Mense smul meer aan lekkernye met hoër kalorieë en oefen minder en dit is nooit ’n goeie kombinasie nie,” sê sy. Hulle het ook meer verwerkte kos geëet.

“Mense vind vertroosting in trooskos – wat min voedingswaarde bevat en gelaai is met koolhidrate, vette, sout en suiker – wanneer hulle gespanne en onseker voel.”

Altesame 43% van respondente skryf hul slegter eetgewoontes toe aan spanning en angs oor wat die toekoms inhou, 42% sê hulle het meer gepeusel en kompulsief geëet omdat hulle in hul huis gekluister was en 28% het bloot uit verveling meer geëet.

Jennings waarsku gewigstoename verhoog mense se risiko vir hipertensie. Sowat 35% van die bevolking het voor die epidemie reeds aan hoë bloeddruk gely. Sy sê byna sewe uit elke tien van die respondente sê hulle bekommer hulle oor hul gewig. “Op grond van ons peiling het vetsug onder mans met 40% toegeneem.”

Vroue se gewig is volgens Jennings in ’n mindere mate deur die inperking geraak.

“Kinders het 43% meer tyd voor skerms deurgebring omdat hulle nie in die skool was nie en nie aan buitemuurse aktiwiteite deelgeneem het nie. Hulle het meer gesit en sodoende ongesonde eetgewoontes aangeleer.”

Volgens die South African National Health and Nutrition Examination Survey (NHANES) ly 13,5% van kinders tussen 6 en 14 jaar aan vetsug.

Dit is 10% hoër as die wêreldgemiddelde. Vetsug “is meer lewensbedreigend as Covid-19”. “Dieselfde aandag moet daarom aan die bevegting van vetsug gegee word.”

Jennings sê siektes wat met vetsug gepaardgaan, kos die land jaarliks R54 miljard. Hoe langer die pandemie voortduur hoe erger kan die vetsugprobleem word, waarsku sy.

Boonop gaan dit moeilik wees om jou eetgewoontes te verander as jy lank verkeerd geëet het.

Meer oor:  Gewig  |  Covid-19  |  Vet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.