Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Só reageer opposisie op Cyril se toespraak

Die DA verwelkom Ramaphosa se aankondiging dat 20 miljoen dosisse aangekoop is, maar die besonderhede is nog baie vaag.

So het John Steenhuisen, DA-leier, Maandagaand gesê in reaksie op die aankondiging van pres. Cyril Ramaphosa dat die land in ’n aangepaste vlak 3-inperking bly.

Hy het Ramaphosa se stelling dat die regering al ses maande lank besig is met onderhandelinge om entstowwe aan te koop, verwerp.

“As die president wil hê ons moet hom glo, moet hy bewyse voorlê, want óf hy óf die vervaardigers van die entstof jok,” het Steenhuisen in ’n verklaring gesê.

Steenhuisen meen as die regering vroeër reeds genoeg Covid-19-entstowwe aangekoop het, sou dit nie net lewens gered het nie, maar ook die land se ekonomie.

Steenhuisen het opnuut gekap na die regering wat volgens hom sy voete sleep met die aanskaf van entstowwe.

John Steenhuisen, DA-leier.

Die enigste manier hoe die land nou die situasie kan beredder, is deur ’n ambisieuse, eerlike en deursigtige aankoop- en verspreidingstrategie in werking te stel waarin die private sektor ’n sentrale rol moet speel.

Suid-Afrika bevind hom in ’n situasie waarin niemand wen nie. Hy word gedwing om ’n balans te kry tussen maatskaplike leed en voordele.

Christo van der Rheede, uitvoerende hoof van Agri SA, het in reaksie op die aankondiging dat die verbod op die verkoop van alkohol steeds geld, gesê dit sal bloot die onwettige verkoop daarvan aanvuur.

“Die verantwoordelike gebruik van wyn en alkohol is iets waarop die wyn- en bierbedryf deurgaans klem lê.

“’n Algehele verbod het reeds ’n uiters negatiewe ekonomiese impak op die bedryf,” sê Van der Rheede.

Dit is fundamenteel om die onuithoubare druk op gesondheidswerkers te verlig namate groter wordende getalle mense die infeksie opdoen.

Hy meen die kabinet moet eerder met die drankbedryf saamwerk vir 'n strategie “om ’n kultuur te vestig wat die verantwoordelike gebruik van alkohol bevorder”.

Die impak van ’n algehele verbod sal die ekonomiese bydrae van die dranklbedryf heeltemal vernietig, sê Van der Rheede.

“Daar is strategieë om die bedryf aan die gang te hou en werkgeleenthede te beskerm. Maar dit vereis groter samewerking en uitruil van idees.”

Op sy beurt sê Ernst Roets, AfriForum se hoof van beleid en aksie, die regering het nie ’n benul hoe om die Covid-19-krisis te hanteer nie.

“Om die virus te beveg moet mediese oplossings dringend gevind word eerder as om politieke oplossings op die samelewing af te dwing,” sê hy in ’n verklaring van AfriForum.

Die vakverbond Cosatu sê hy verwelkom die aankondiging van Ramaphosa dat vakante poste in die gesondheidsektor gevul sal word.

“Dit is fundamenteel om die onuithoubare druk op gesondheidswerkers te verlig namate groter wordende getalle mense die infeksie opdoen. Meer besonderhede oor wanneer en hoeveel poste gevul sal word, is nodig.”

Die IVP sê die regering se besluit om die land op ’n aangepaste vlak 3-beperking te hou is “verstandig en pragmaties en sal die ekonomie oop hou”.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sê in ’n verklaring die feit dat die land op vlak 3 bly te midde van ’n enorme styging in nuwe koronavirusgevalle, bewys die regering het verlede jaar totaal oorreageer met sy “uiters drakoniese maatreëls” wat die ekonomie onnodige skade berokken het.

Meer oor:  Da  |  John Steenhuisen  |  Covid-19  |  Koronavirus  |  Entstof  |  Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.