Suid-Afrika se sterftes aan Covid-19 was Donderdagaand naby aan 40 000 nadat die sterftesyfer met meer as 600 nuwe sterftes gestyg het.
Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, sê al nege provinsies het teen Donderdagaand sterftes aangemeld, met die meeste nuwe sterftes wat in KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap en die Wes-Kaap aangemeld is.
Suid-Afrika het gisteraand 39 501 sterftes aangemeld. Dit is die 14de meeste sterftes vir ’n land in die wêreld.
Volgens die jongste syfers van die departement van gesondheid, het KwaZulu-Natal 154 sterftes aangemeld, die Oos-Kaap (139) en die Wes-Kaap (137).
Die ander provinsies het almal minder as 100 sterftes aangemeld.
Gauteng (93), Noordwes (55) en Limpopo (27) is die provinsies wat meer as 20 sterftes aangemeld het, terwyl Mpumalanga en die Vrystaat elk 17 sterftes aangemeld het.
Die Noord-Kaap het met agt sterftes die minste sterftes in die land aangemeld.
Limpopo (1 004) se sterftesyfer het intussen ook die 1 000-kerf verbygesteek, terwyl die Oos-Kaap (9 855) en die Wes-Kaap (9 591) se sterftes byna 10 000 is.

’n Gesondheidswerker sit ’n suurstofmasker oor ’n pasiënt se mond en neus by die Steve Biko-hospitaal in Pretoria. Foto: Deaan Vivier
Mpumalanga meer gevalle as KZN
Mkhize sê Suid-Afrika se koronavirusgevalle het gisteraand met 11 381 nuwe gevalle toegeneem wat die land se kumulatiewe Covid-19-gevalle op 1 380 907 te staan bring.
Van die provinsies het teen gisteraand meer as 1 000 nuwe koronavirusgevalle aangemeld, met Mpumalanga wat een van die hoogste nuwe koronavirusgevalle in die land aangemeld het.
Dié provinsie het naas Gauteng, wat 2 832 nuwe koronavirusgevalle aangemeld het, 2 812 nuwe gevalle aangemeld. Dit was die tweede hoogste styging in die land.
KwaZulu-Natal wat nog die hele tyd die stygings sedert middel Januarie lei, het gister met 2 657 die derde meeste nuwe gevalle aangemeld.
Limpopo en die Wes-Kaap het onderskeidelik met 1 463 en 1 447 nuwe koronavirusgevalle die vierde en vyfde meeste nuwe stygings aangemeld.
Die res van die provinsies het almal minder as 1 000 gevalle aangemeld, met die Oos-Kaap wat die voorpunt van die tweede vlaag was, wat 632 nuwe koronavirusgevalle aangemeld het.