Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
SA op vlak 3; ja vir skole, byeenkomste, drank

Suid-Afrikaners mag weer in beperkte omstandighede alkohol koop, kroeë besoek en byeenkomste bywoon, het pres. Cyril Ramaphosa Sondagaand gesê en ook aangekondig dat die land na vlak 3 van die nasionale staat van inperking skuif.

Hy het in sy toespraak gesê daar is die afgelope ruk aan twee fronte geveg: Teen die koronavirus en teen diegene wat die land in ’n chaos wou dompel.

Daar is ’n paar dinge wat nou gedoen moet word. Vrede en stabiliteit, hulp aan ondernemings wat skade gely het, en die versnelling van inentings is ’n paar daarvan.

Vlak 3

Volgens hom was die vlak 4-inperking die afgelope vier weke doeltreffend om die aantal infeksies van die koronavirus te laat daal.

“Die jongste syfers wys die piek van die derde vlaag is nou besig om verby te gaan. Daar is egter dele van die land waar die getal nuwe infeksies steeds hoog is.”

In die laaste twee weke het die hoeveelheid nuwe infeksies in Gauteng begin afneem, maar infeksies styg steeds in die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal.

Die jongste syfers wys die piek van die derde vlaag is nou besig om verby te gaan. Daar is egter dele van die land waar die getal nuwe infeksies steeds hoog is.

Hy het aangekondig dat alkohol voortaan weer tussen Maandag en Donderdag verkoop mag word, dat restaurante en kroeë mag oopmaak, maar om 21:00 moet sluit en dat 50 mense binnenshuis byeen mag kom en 100 mense buitenshuis.

Eetplekke mag volgens hul dranklisensies alkohol verkoop.

Dié plekke mag egter steeds net ’n maksimum van 50% vol wees.

Begrafnisse mag steeds slegs deur ’n maksimum van 50 mense bygewoon word.

Die aandklokreël geld van 22:00 tot 04:00.

vlak 3

Mense mag nou ook weer vir plesierdoeleindes na en van Gauteng reis.

Ramaphosa het ook die groen lig gegee dat skole Maandag ná die wintervakansie heropen.

Hy het ook aangekondig dat mense tussen 18 en 34 jaar oud vanaf 1 September ingeënt sal word.

“Meer as 240 000 inentings word nou elke weeksdag gedoen teenoor die 100 000 ’n maand gelede.

“Meer as 6,3 miljoen inentings is reeds toegedien en meer as 10% van die land se inwoners is ingeënt,” het Ramaphosa gesê.

Daar sal ook in die volgende maande 31 miljoen dosisse van die Johnson & Johnson- en Pfizer-entstof verkry word. Dit sal genoeg wees vir die res van die jaar.

Hy het ook aangekondig dat die spesiale toelae van R350 per maand heringestel word as deel van die regering se hulpfonds. Meer inligting daaroor sal binnekort bekend gemaak word.

Onluste en sterftes

Hy het ook verwys na die meer as 300 mense wat in KwaZulu-Natal en Gauteng in die onlangse onluste dood is en die ondernemings wat verwoes is.

Ramaphosa sê mense het ’n plig om diegene wat geraak is deur die geweld by te staan. Daar moet seker gemaak word dat dit nié weer gebeur nie.

In dié verband het hy verwys na die ontplooiing van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag en polisie en het gesê noodsaaklike roetes sal steeds beskerm word.

Finansiële bystand

Maatreëls word ook ingestel om ondernemings te help om te herbou. Die regering gaan verseker dat die staatsonderneming Sasria eise vinnig uitbetaal, terwyl daar ’n plan is met hulp vir ondernemings wat nie verseker is nie.

Volgens Ramaphosa is die registrasie vir die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) se Covid-19-Ters-skema oop en die WVF gaan so gou as moontlik mense help wat nie ’n inkomste het nie.

Ramaphosa het gesê die land se krag lê in die Grondwet, maar die belangrikste is die krag van mense wat saamstaan. Suid-Afrikaners het ’n kollektiewe verantwoordelikheid om ’n verenigde, nierassige land te bou.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Covid-19  |  Inperkingsmaatreëls  |  Inenting  |  3De Vlaag  |  Koronavirus  |  Pandemie  |  Vlak 3
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.