Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
SA sal Afrika se nuwe entstofaanleg huisves

Dit is ’n formidabele geleentheid wat Suid-Afrika met albei hande tot voordeel van die hele Afrika sal aangryp.

Pres. Cyril Ramaphosa praat Maandagaand op die aanlyn mediakonferensie van die Wêreldgesondheidsorganisasie. Foto: Presidensie

Dit was Maandagaand die reaksie van pres. Cyril Ramaphosa op die nuus dat die eerste boodskapper-RNS-tegnologiepunt vir Covid-19-entstof binnekort in Suid-Afrika gevestig sal word.

Dr. Tedros Ghebreyesus, direkteur-generaal van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), het dié aankondiging op ’n aanlyn konferensie gedoen.

Verskeie ander lande het ook aansoek gedoen om die fasiliteit te huisves.

Frankryk het ’n sleutelrol gespeel om dié fasiliteit ’n werklikheid te maak. Die aankondiging kom net enkele weke ná pres. Emmanuel Macron se staatsbesoek aan Suid-Afrika.

Die aanleg bestaan glo reeds in Suid-Afrika, hoewel dit in hierdie stadium nie bekend is waar dit is nie.

Die WGO sal kundige mense en toerusting na die land stuur om die aanleg te help vestig. Die jongste tegnologie sal ook tot Suid-Afrika se beskikking gestel word.

Boodskapper-RNS

Boodskapper-RNS, oftewel bRNS, is nuwe tegnologie wat nou vir die eerste keer in entstof gebruik word. Dit behels dat die virus se RNS teen homself gebruik word om ’n immuunrespons te genereer.

Die fasiliteit sal moontlik ná nege maande al sy eerste entstof lewer, het dr. Soumya Swaminathan, hoofwetenskaplike van die WGO, gesê.

In antwoord op die vraag of Suid-Afrika se entstof dieselfde as BioNTech en Moderna, die vervaardigers van die twee bRNS-Covid-19-entstowwe is, het sy gesê BioNTech het reeds aangedui hy wil ook ’n aanleg in Afrika oprig.

Swaminathan het gesê dit is makliker om bestaande tegnologie te gebruik omdat dit langer sal neem om die fasiliteit operasioneel te kry as nuwe tegnologie ingespan sou word.

Die tyd vir entstofnasionalisme is verby.
Cyrl Ramaphosa

Hoewel die pandemie in sommige plekke in die wêreld aan die afneem is, versprei dit steeds in ander lande soos ’n veldbrand.

Ramaphosa het gesê dit is ’n eer vir Suid-Afrika dat die fasiliteit hier gevestig sal word. Dit is ook ’n mylpaal vir Afrika en sal die vasteland help op sy pad na selfbeskikking.

Tussen 60% en 70% van die mense op dié vasteland is nog nie ingeënt is nie.

Vir te lank was daar te veel ongelykhede met die beskikbaarstelling van entstof. Veral Afrika het swaar gekry daardeur.

“Die tyd vir entstofnasionalisme is verby,” het Ramaphosa gesê.

Nuwe era van innovering

Dié belegging in tegnologie, kennis en ervaring, sal verder strek as net die ontwikkeling en vervaardiging van entstof. Dit sal ook ’n nuwe era van innovering en vooruitgang (in Afrika) inlui, het die president gesê.

Die nuwe tegnologie sal die land se vermoë om entstof te vervaardig aansienlik verhoog. Suid-Afrika sal ten nouste met die res van Afrika saamwerk.

Dit is dringend noodsaaklik dat die fasiliteit so gou moontlik ten volle operasioneel is.

“Dit is so dringend dit moes eintlik al gister gebeur het,” het Ramaphosa gesê.

Pres. Paul Kagame van Rwanda, het gesê Suid-Afrika, Senegal en Rwanda is in gesprek met beleggers om die Covid-19-entstof in Afrika te vervaardig.

Ghebreyesus het Ramaphosa geloof vir die rol wat hy nie net in Afrika nie, maar ook in die res van die wêreld in die stryd teen die pandemie speel.

Suid-Afrika en Indië het die G7-nywerheidslande onlangs gevra om hul eiendomsreg op entstof tydelik opsy te skuif sodat die ontwikkelende wêreld hul tegnologie kan gebruik om self ook entstof te vervaardig.

Macron het in sy boodskap gesê hy is trots op “(sy) vriend pres. Ramaphosa” dat dié fasiliteit die eerste in sy soort op die Afrika-vasteland sal wees.

Hy glo elke land ter wêreld moet die kapasiteit hê om sy eie entstof te vervaardig.

Prof. Susan Goldstein, kenner in openbare gesondheid aan die Universiteit van Witwatersrand (Wits), het gesê hoewel dit goeie nuus vir Suid-Afrika is, sal dit nie die huidige tekort aan entstof oplos nie.

“Dit is ’n medium- tot langtermynbelegging. Dit is nie heeltemal die antwoord nie, maar dit is goed omdat die Suidelike Halfrond moet begin om sy eie entstof te vervaardig,” het sy gesê.

“Ons kan duidelik nie op die noorde staatmaak nie.”

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Suid-Afrika  |  Koronavirus  |  Covid-19  |  Entstowwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.