Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
SA se entstofprogram ‘kan virus verslaan’ – Ramaphosa

Suid-Afrika se entstofplanne is op ’n punt waar die koronavirus effektief verslaan kan word, meen pres. Cyril Ramaphosa.

Hy het Dinsdagmiddag so gesê toe hy en ander lede van die ANC se topses-leiers veral swart sakelui op ’n webinaar van die party se Progressiewe Sakeforum toegespreek het.

Pres. Cyril Ramaphosa Foto: DAILY SUN

Hulle het oor die stand van die pandemie in Suid-Afrika en die regering se beplande entstofprogram gepraat.

Ramaphosa het die versekering aan Suid-Afrikaners gegee dat die regering die vereiste hoeveelheid entstowwe sal aankoop om meer as 40 miljoen landsburgers teen die koronavirus in te ent.

Deelnemers aan die webinaar het ook van die departement van gesondheid gehoor dat die eerste besending entstof reeds “einde Januarie of begin Februarie” in die land sal aankom.

Entstof sal egter nie onmiddellik vir almal beskikbaar wees nie, maar in drie fases versprei word.

Suid-Afrika se sowat 1,25 miljoen gesondheidswerkers sal in die eerste fase geprioritiseer word.

Ramaphosa het ook bekend gemaak dat ’n interministeriële komitee onder leiding van adj.pres. David Mabuza Dinsdag gestig is wat Suid-Afrika se entstofprogram – wat Ramaphosa beskryf het as die grootste regeringsprojek ooit in Suid-Afrika – sal koördineer.

Volgens Ramaphosa beskou sy regering die aankoop- en verspreidingsprogram in ’n baie ernstige lig en sal die interministeriële komitee verseker dat die hele proses goed verloop.

Koördineringspanne is reeds gestig.

Ramaphosa glo die land is op ’n punt waar hy die pandemie kan verslaan.

“Ons sal dit net kan doen as ons mense aanhou om aan al die protokolle te voldoen. Die entstof sal ’n reusehupstoot wees in ons pogings om die pandemie te beveg.”

Ramaphosa het verwys na die vrae wat sommige mense geopper het oor die finansiering van die entstof. “Finansiering gaan nie ’n probleem wees nie omdat ons in staat sal wees om te betaal vir die entstof wat ons bestel het.”

Dr. Aquina Thulare het dit namens die departement van gesondheid in ’n voorlegging duidelik gemaak dat net die regering entstof teen die koronavirus vir Suid-Afrika sal aankoop.

“Die nasionale departement van gesondheid sal verskaffers kontrakteer om voorraad aan te koop en dit aan provinsiale gesondheidsdepartemente én aan die private sektor verskaf.

“Gegewe die beperkte beskikbaarheid van entstowwe, sal dit noodsaaklik wees om beskikbare voorraad van verskillende vervaardigers aan te koop.”

Volgens Thulare sal daar daarom terselfdertyd verskillende entstowwe in die program wees wat nie met mekaar verwisselbaar sal wees nie.

“Die toekenning van entstof aan die onderskeie prioriteitsgroepe sal deur die ministeriële advieskomitee oor entstowwe gelei word.”

Thulare het gesê dat die stelsel van inenting gegrond moet wees op ’n voorinentingsregistrasie- en afspraakstelsel.

“Alle ingeënte persone moet op ’n nasionale register wees en sal ’n inentingskaart kry.”

Oor die drie fases van inenting het Thulare gesê gesondheidswerkers kom in fase een eerste aan die beurt.

Fase twee sluit in alle noodsaaklike werkers, wat polisiebeamptes en onderwysers insluit, sowel as landsburgers ouer as 60 jaar en diegene ouer as 18 wat aan onderliggende siektes ly. Die res van die bevolking sal in fase drie aan die beurt kom.

• Intussen het Siviwe Gwarube, DA-woordvoerder oor gesondheid, Dinsdagmiddag haar party se ontevredenheid uitgespreek dat Mabuza die interministeriële komitee oor die entstofprogram gaan lei.

Die DA meen Mabuza “is nie ’n bevoegde en betroubare figuur” om “een van die mees monumentale take in ’n demokratiese Suid-Afrika” te oorsien nie “omdat hy ’n geskiedenis van mislukking in die regering het”.

Volgens Gwarube gaan dié skuif van Ramaphosa eerder oor sy politieke alliansies in die ANC.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  David Mabuza  |  Zweli Mkhize  |  Suid-Afrika  |  Entstof  |  Inenting  |  Koronavirus  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.