Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
SA vrou dood: ‘Die virus is oral,’ maan haar man

Madeleine van Wyk (48) van Kaapstad se noordelike stadsgebiede is een van die twee Kaapse vroue wat Vrydagoggend Suid-Afrika se eerste Covid-19-slagoffers geword het.

Sy het in die Durbanville-Mediclinic gesterf. Die ander slagoffer was 28 jaar oud.

Madeleine se man, wat gevra het dat sy naam nie genoem word nie, het Vrydagoggend gesê sy is Maandag vir toetse in die hospitaal opgeneem nadat sy die vorige Maandag siek begin voel het.

“Die toetse was bloot om onsekerhede uit die weg te ruim,” sê hy. Die uitslag het Woensdag gekom. Sy het positief vir Covid-19 getoets.

“Die uitslae het as ’n groot skok vir ons gekom. Die virus is oral.”

Van Wyk sê Madeleine het op Maandag 16 Maart begin siek voel en “net ’n moegheid oor haar gehad”.

Madeleine van Wyk (48) is Vrydag weens die virussiekte Covid-19 dood. Sy en ’n 28-jarige Kaapse vrou was die eerste twee mense in Suid-Afrika wat aan Covid-19 dood is. Foto: Verskaf

Sy is Donderdag dokter toe vir medisyne. Die medisyne het nie gehelp nie en sy is op Maandag 23 Maart weer dokter toe, waarna hy haar verwys en sy in die hospitaal opgeneem is.

“Sy is in die hospitaal getoets en die X-strale het ’n bloedklont in een van haar longe gewys. Ek vermoed dat die bloedklont haar dalk meer vatbaar vir bakterieë en die virus kon gemaak het.”

Van Wyk het geen benul waar sy die virus opgedoen het nie. “Sy het nie gereis nie.”

Hulle was wel die naweek voor sy siek geraak het op ’n wynplaas in die Kaapse Wynlande.

Van Wyk sê hy en sy seun is nou in self-isolasie in hul huis en monitor hulself vir enige simptome.

Die nasionale departement van gesondheid het die sterftes Vrydag aangekondig.

Die tweede persoon wat gesterf het, was ’n 28-jarige vrou wat in die Tygerberg-hospitaal dood is. Die vrou het Donderdagaand met simptome soortgelyk aan dié van Covid-19 by die hospitaal aangekom. Sy is onmiddellik opgeneem, maar is Vrydagoggend dood.

Dié foto is verlede Dinsdag by die Durbanville-Mediclinic geneem voordat Madeleine van Wyk (48) daar opgeneem is. Foto: Verskaf

Alan Winde, Wes-Kaapse premier, het sy medelye met die families van die twee vroue uitgespreek. Hy sê in ’n verklaring dat die wêreld ’n paar maande gelede bewus geword het van ’n virus wat vinnig versprei en ’n chaos en rou agterlaat.

“Sedertdien het die virussiekte ’n naam – Covid-19 – gekry en het ons gesien hoe dit van dorp tot dorp en van land tot land versprei.

“Suid-Afrika is nie gespaar nie en vanoggend het ons wakker geword met die nuus dat ’n 28-jarige vrou en ’n 48-jarige vrou albei dood is.

“As ’n provinsie en ’n land treur ons oor die verliese. Ons gebede en gedagtes is by die families en geliefdes van die oorledenes.”

Hy het ook ’n beroep gedoen op inwoners om saam met hom om 12:00 ’n minuut van stilte te handhaaf om die verlies en hul lewe te vier.

“En laat ons die geleentheid gebruik om – terwyl ons by die huis is – te onthou hoekom ons daar is en die tyd gebruik om gesondheidswerkers wat die virus moet help bekamp, te help om die kurwe plat te kry.

“Help om die verspreiding van die virus te stop.”

Ook die ANC in die Wes-Kaap het by monde van Cameron Dugmore, koukusleier in die wetgewer, sy medelye met die naasbestaandes uitgespreek.

Meer oor:  Koronavirus  |  Vrou  |  Dood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.