Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
SA ‘wás te laat vir entstowwe’

Die sakeman wat die Suid-Afrikaanse regering se onderhandelings vir Covid-19-entstof lei, erken die regering het te laat daarmee begin.

Adrian Gore, uitvoerende hoof van die Discovery-groep.

“Ek dink, feitelik, was ons te laat,” het Adrian Gore, uitvoerende hoof van die Discovery-groep, die afgelope week in ’n onderhoud met Rapport erken.

Rapport kan vandag ook onthul die nasionale departement van gesondheid het Gore en ander rolspelers eers in Desember genader om “finansieringstrukture” vir die aankoop van entstof daar te stel.

Dit beteken eers nadat Hongarye, Costa Rica, Mexiko en Koeweit met inenting begin het, het Suid-Afrika strukture daargestel om die omvang van regerings-, private en mediesefondsfinansiering te bespreek.

Rapport verneem die tesourie was aanvanklik katvoet om geld uit te haal vir entstof as dit nog nie bekend is of dit werk nie. Die tesourie wou nie op navrae daaroor reageer nie.

Gore meen tog “die regering het die laaste maand nogal vinnig beweeg” met die verkrygingsproses. Dís wat Suid-Afrika tot dusver verkry het:

* 1,5 miljoen dosisse van die AstraZeneca/Oxford-entstof – genoeg vir 750 000 gesondheidswerkers – is by die Serum-instituut vir R120 miljoen ($5,20 per dosis) aangekoop.

Die eerste miljoen kom op 29 Januarie aan. Die res kom later in Februarie;

* 12 miljoen dosisse entstof sal van die Covax-inisiatief kom. Die private Solidariteitsfonds het in Desember ’n R294 miljoen-deposito, 15% van die totale koopbedrag, betaal. Dit kan 10% van die bevolking (ses miljoen mense) dek.

‘Die regering het wel spoed opgetel.’

Die eerste dosisse word in Februarie verwag en die res in die tweede kwartaal. Dis nie bekend watter soort entstof dit is nie;

* 12,25 miljoen dosisse van die Afrika-Unie (AU) sal tussen April en Junie gelewer word. Dit kom van Pfizer ($6,75 per dosis), AstraZeneca/Oxford ($3) en Johnson & Johnson ($10); en

* 9 miljoen dosisse van die Johnson & Johnson-enkeldosis-entstof. Dit is nie bekend wat die regering daarvoor betaal het nie, maar die AU het dit teen $10 per dosis bekom, wat beteken dit kan die regering sowat R1,3 miljard uit die sak jaag.

Popo Maja, woordvoerder van die nasionale entstof­koördine­ringskomitee, het Vrydagaand bevestig ’n “beginselooreenkoms” vir ’n verdere 20 miljoen dosisse is bereik. Hy wou nie sê watter tipe dit is nie, maar ’n aankondiging daaroor word dié week verwag.

Pfizer het al sedert Julie probeer om die regering by onderhandelings te betrek, berig News24. Dit het ook geblyk Suid-Afrika het sowat $5,20 (R80) per dosis van die AstraZeneca-entstof by die Serum-instituut betaal, teenoor $4 wat die VSA vir dieselfde entstof betaal het, die EU se $2,19, die AU se $3 en die Indiese regering se $3,36.

Dr. Anban Pillay, adjunk-direkteur-generaal van gesondheid, het aan Reuters gesê Suid-Afrika het meer betaal omdat die Serum-instituut Suid-Afrika ingevolge ’n Wêreldbank-klassifikasie as ’n hoër-middelinkomsteland beskou. Volgens Pillay se verduideliking betaal sekere lande minder omdat hulle aktief in die ontwikkeling en navorsing van die AstraZeneca-entstof belê het. Dit verduidelik hoekom lande soos Japan ($7 per dosis), Bangladesj ($4) en die Filippyne ($5) ook meer as die voorgeskrewe $3 per dosis betaal.

Prof. Shabir Madhi, entstofkundige aan die Universiteit van die Witwatersrand, bevraagteken Pillay se verduidelikings. “Ek vind dit baie vreemd dat Suid-Afrika soveel moet betaal, onder meer omdat ons deel van die kliniese toetse met die entstof is.”

Suid-Afrika is onder die voorloperlande waar AstraZeneca se entstof onder leiding van Madhi getoets word. Meer as 2 000 Suid-Afrikaners neem aan die kliniese navorsing deel.

Madhi verwys ook na beloftes van AstraZeneca einde verlede jaar dat dié entstof sowat $3 per dosis vir alle lande sal kos.

Gevra oor die R20,6 miljard wat dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, volhou Suid-Afrika eindelik vir entstof sal moet betaal, sê Gore die uitgangspunt op die oomblik is dat die regering, mediese fondse en die private sektor elk R7 miljard betaal. “Dan kry jy lekker sinergie uit die drie verskillende sfere.”

Wanneer die logistieke koste bygereken word, sal die regering na verwagting 65% van die totale koste dra.

Die regering het nog nie gesê wat dié koste sal beloop nie, maar Mkhize het onlangs gesê die verspreiding, berging en toediening van die entstof sal tussen R64 en R270 per dosis kos. Dit beteken Suid-Afrika kan eindelik enigiets tussen R1,1 miljard en R10 miljard betaal om sy massa-inentingsplan uit te voer.

Kenners, onder wie Madhi en proff. Francois Venter, navorser in geneesmiddels aan Wits, en Alex van der Heever van Wits se Skool vir Korporatiewe Bestuur, meen egter die regering se begroting van R20,6 miljard vir entstof is gans te veel.

Hulle het luidens ’n meningstuk op Daily Maverick geraam dat, gegrond op die koste van AstraZeneca en die Wêreldgesondheidsorganisasie se Covax-fasiliteit, die regering minstens R7,4 miljard hoef te betaal en hoogstens R15,2 miljard as hy die duurder Pfizer-entstof ($6,75 per dosis) koop.

Gevra of Suid-Afrika nie beter daaraan toe sou wees as die private sektor eerder as die regering met verskaffers onderhandel nie, sê Gore dis nie die geval nie.

Hy glo ’n proses van “maatskaplike solidariteit” werk beter.

Volgens Gore sal daar teen die einde van die jaar baie meer entstof beskikbaar wees namate lande wat te veel gekoop het van hul surplus ontslae raak.

Meer oor:  Adrian Gore  |  Entstof  |  Covid-19  |  Discovery
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.