Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
SAL-vliegtuig bring jonges uit Miami huis toe

Baie jare gelede het die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) die Engelse slagspreuk “We fly your way, SAA” gehad.

Die Airbus van die Suid-Afrikaanse Lugdiens en sy bemanningslede wat ’n groep jong Suid-Afrikaners in Miami in Florida, VSA, gaan haal het. Foto: SAL/Facebook

’n Groep van 310 jong Suid-Afrikaners wat ná die uitbreek van die Covid-19-pandemie in die VSA gestrand was, ken waarskynlik nie dié slagspreuk nie, maar het dit ervaar toe ’n huurvlug van die SAL na Miami in die Amerikaanse deelstaat Florida gestuur is om hulle te gaan haal.

Volgens die SAL was dit die eerste keer in sowat 20 jaar dat een van sy vliegtuie weer in Miami geland het.

Die SAL het verskeie repatriasievlugte na die uithoeke van die wêreld onderneem om gestrande Suid-Afrikaners te gaan haal. Dit sluit in vlugte na en van Brittanje, Kanada, Duitsland, Brasilië, Ghana, Nigerië en België.

Die SAL, wat tans onder enorme finansiële druk verkeer en boonop binnekort gesluit kan word, het ook buitelanders wat in Suid-Afrika vasgekeer was, met huurvlugte na dié lande teruggeneem voordat hulle die Suid-Afrikaners teruggebring het huis toe.

Die SAL het tussen 3 en 14 April altesaam 20 huurvlugte na die buiteland onderneem om onder meer buitelanders terug te neem huis toe en gestrande Suid-Afrikaners te gaan haal, sê Tlali Tlali, woordvoerder van die SAL.

Die lugdiens het in die tyd ook twee vragvlugte na Duitsland en China onderneem.

“Ons het in dié tydperk 4 011 passasiers uit en na Suid-Afrika vervoer,” sê Tlali. 

“Die meerderheid van die passasiers was op huurvlugte uit Suid-Afrika wat deur verskeie buitelandse regerings gehuur is om hul burgers huis toe te neem.”

Dié passasiers is na Duitsland, België en Londen geneem.

“Ons het ook altesaam 631 Suid-Afrikaanse burgers uit Duitland, Brasilië, Brittanje, Ghana en Nigerië terug gebring Suid-Afrika toe.”

Vlieëniers van die Suid-Afrikaanse Lugdiens met beskermende drag in die stuurkajuit van ’n SAL-vliegtuig. Foto: SAL/Facebook

Sowat 1 000 Suid-Afrikaners het die afgelope paar dae na die land teruggekeer, het Lunga Ngqengelele, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco), Woensdagoggend gesê. 

Die departement was sowat anderhalf week gelede bewus van sowat 3 600 Suid-Afrikaners wat nie kon terugkeer huis toe nie.

Ngqengelele kon nie sê presies hoeveel Suid-Afrikaners nog gestrand is nie “omdat die getalle van uur tot uur verskil”.

Die vliegtuig met die groep Suid-Afrikaners, wat onder meer as baljoggies en tennisafrigters by spogklubs in Florida werk, het Woensdag in die vroeë oggendure (SA tyd) uit Miami na Suid-Afrika vertrek. Die vliegtuig word Woensdagaand in Johannesburg verwag voordat dit na Kaapstad en Durban sal vlieg om nog passasiers af te laai.

Die maatskappy Workaway International, wat werkgeleenthede vir jong mense by onder meer gholfklubs in Florida reël, asook ses van dié klubs waar hulle werk, het vir die huurvlug betaal.

“Voordat die inperking in werking getree het, het ons die eerste groep gaan haal en huis toe gebring. Ná vandag (Woensdag) se vlug beplan ons nog ’n vlug in die volgende week of twee om Suid-Afrikaners wat nog daar is te gaan haal,” sê Charlotte Quenet-Meintjes, bestuurder van die Suid-Afrikaanse tak van Workaway International.

Die Airbus A350-900 het Sondagmiddag via Dakar in Senegal in Miami aangekom.

Die passasiers sal ná hul aankoms in Johannesburg, Kaapstad en Durban in hotelle in kwarantyn geplaas word voordat hulle toegelaat sal word om huis toe te gaan.

Voordat hulle uit Miami weg is, het elke passasier mediese handskoene en maskers ontvang wat hulle gedurende die vlug moet dra. Hulle het elkeen ook ’n kospakkie gekry, maar geen drank is op die vlug toegelaat nie.

Voordat hulle aan boord van die vliegtuig gegaan het, is al die passasiers se koors geneem.

Die Suid-Afrikaners mag later na die VSA terugkeer.

Vasgekeer in Rome

’n Groep van 43 Suid-Afrikaners wat passasiers op die skip Costa Luminosa was, wat van die VSA na Europa gevaar het, is al die afgelope drie weke in ’n hotel in die nywerheidsgebied van Rome, die Italiaanse hoofstad, vasgekeer. Baie van hulle is bejaardes.

“Ons is nou al 22 dae hier vasgekeer en dit is nie maklik nie,” het Mike Hiron, ’n Durbaniet, Woensdagoggend aan Netwerk24 gesê.

“Ons hoop om Vrydagaand op ’n vliegtuig terug te wees huis toe, maar daar is ’n paar hindernisse wat ons eers moet oorkom. Ons is Vrydag vir Covid-19 getoets, maar het nog nie die uitslae ontvang nie. Ons kan nie vlieg voordat ons die uitslae het nie.”

Italië is een van die lande wat die ergste deur die pandemie getref is.

* Suid-Afrikaners wat in die buiteland vasgekeer is, kan Dirco se spesiale Covid-19-beheerkamer by +27 12 351 1000 skakel.


Meer oor:  Suid-Afrikaanse Lugdiens (Sal)  |  Miami  |  Rome  |  China  |  Covid-19-Virus  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.