
Peuselhappies wat aan Suid-Afrikaners in ’n hotel in Rome uitgedeel is. Hulle het Maandagaand in Savona van die ‘Costa Luminosa’ afgeklim. Foto: Verskaf
Passasiers van die passasierskip die MS Costa Luminosa is Maandagaand per bus van Savona in Italië na Rome gebring waar hulle in die iH Hotels Roma Z3 , ingeboek is.
Volgens Susan van Tonder (58), wat saam met haar man, Hendry (64), op die skip was, moet hulle nou vir 14 dae in kwarantyn in die hotel bly.
Italië is ’n hoërisiko-land in die Covid-19-pandemie en teen Dinsdag het meer as 5 400 mense hier reeds aan die virussiekte gesterf.
Costa Cruises het Maandag bevestig vier mense aan
boord van die Costa Luminosa is positief vir Covid-19 getoets nadat hulle onderskeidelik op 29 Februarie en 8 Maart van die skip afgeklim het. Een is in die hospitaal dood.
Die passasiers op die skip is sedert 15 Maart in kwarantyn in hul kajuite gehou.
Volgens Van Tonder is hulle nie weer vir Covid-19 getoets nadat hulle Maandagaand van die skip afgeklim het nie.
Dit is nie duidelik of al 48 Suid-Afrikaners wat op die Costa Luminosa was, nou in die hotel ingeboek is nie.

Die ete wat Dinsdagmiddag aan Suid-Afrikaners in ’n hotel in Rome uitgedeel is. Hulle het Maandagaand in Savona van die ‘Costa Luminosa’ afgeklim. Foto: Verskaf
Costa Cruises het bevestig dat daar Maandag nog 337 passasiers op die skip was.
Volgens Van Tonder is van die passasiers laat Maandagaand vanaf die hawe in Savona in ses busse na die hotel in Rome geneem.
“Dit was ’n nagmerrie. Ons weet niks nie en is net laasnag ’n toebroodjie en klein botteltjie water in die hand gestop.”
Daar is Dinsdag ook koorspenne, peuselhappies en ’n klein ete aan die groep uitgedeel.
“Die situasie is nie goed vir ons gemoed en gesondheid nie. Ons gaan nog mental breakdowns kry. Ek ag myself as ’n redelike sterk vrou, maar ek kan dit nou aanvoel,” sê sy.
Costa en die Suid-Afrikaners se toeragentskap Imagine Cruising het nie Dinsdag op Netwerk24 se navrae reageer nie.
Intussen het 160 Suid-Afrikaners wat aan boord van die MS Costa Pacifica was, Dinsdagoggend vanuit Italië op die O.R. Tambo-lughawe in Johannesburg aangekom.
Niemand op dié skip het positief vir Covid-19 getoets nie en die groep is nie in kwarantyn geplaas ná hul aankoms in Suid-Afrika nie.
(Link na berig: https://www.netwerk24.com/Nuus/Gesondheid/saners-van-costa-skip-tuis-8-kom-later-20200324)