Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
SA’ners op Costa-skepe gaan in Italië afklim

Nadat Suid-Afrikaners op twee Costa-plesierskepe aanvanklik gedink het hulle sal in Marseille in Frankryk kan afklim, is hulle nou op pad na Italië waar hulle Sondag moet afklim en na Suid-Afrika sal vertrek.

Die MS Costa Luminosa. 48 Suid-Afrikaners op die skip moet Sondag in Italië afklim. Foto: Verskaf

Boonop is die 36 Suid-Afrikaners aan boord van die Costa Luminosa al sedert Sondag in hul kajuite in kwarantyn geplaas.

Dié skip, wat op 24 Februarie uit Fort Lauderdale in Amerika vertrek het, is op die oomblik van Marseille op pad na Savona in Italië.

Dit was die oorspronklike reisplan, maar verskeie passasiers het beswaar gemaak nadat Italië weens die Covid-19-uitbreking as ’n hoërisiko-land geklassifiseer is.

Netwerk24 is in besit van ’n opname van ’n aankondiging wat Woensdag op die skip gemaak is waarin daar gesê word dat alle nie-Italiaanse passasiers Donderdag in Marseille sal afklim.

Volgens Susan van Tonder (58), ’n passasier op die skip, is hulle egter Donderdagaand ingelig dat hulle nie kan afklim nie en dat hulle na Savona vaar.

“Hulle het die grootste klomp twak gepraat,” sê Van Tonder.

“Dit was vir ons wonderlike nuus (dat ons in Marseille kan afklim), maar dit was toe nie vir ons bedoel nie.

“Ek het gisteraand my kop verloor by ontvangs omdat hulle mind games met ons speel,” sê sy.

Susan en haar man, Hendry (64), het die reis bespreek om hul verjaardae te vier.

MS Costa Luminosa
Die brief wat aan passasiers op die MS Costa Luminosa gegee is om hulle in te lig dat hulle nie in Frankryk mag afklim nie. Foto: Verskaf

“Nou mag ons nie beweeg nie. My arme man moes sy verjaardag soos ’n gevangene in die kajuit deurbring.”

Van Tonder meen die redery is onverantwoordelik om na Italië te vaar.

“Hier is talle oumense op die skip, en nou vat hulle ons na ’n hoërisiko-land toe.”

Passasiers van Duitsland, die VSA, Kanada en Frankryk is glo wel toegelaat om af te klim.

Netwerk24 verneem dat dié besluit deur die Franse owerhede geneem is.

Intussen bevind 168 Suid-Afrikaners op die Costa Pacifica hulle in ’n soortgelyke penarie.

Volgens Johann Ferreira (54), ’n passasier aan boord van dié skip, het hulle op 3 Maart uit Argentinië vertrek en was hul eindbestemming aanvanklik Barcelona in Spanje.

Die eindbestemming is nou verander na Genoa in Italië.

“Op dié stadium is ons maar erg bekommerd. Ons is al amper ’n maand gelede weg uit Suid-Afrika en op daardie stadium was daar nie enige gevaar in verband met die virus nie omdat ons grootliks in Suid-Amerika sou toer,” sê Ferreira.

“Dis nou die 13de dag wat ons nie ons voete op land gesit het nie wat ons in kwarantyn was, maar sover bevestig die mediese dokter aan boord daar is geen gevalle nie, so dis die goeie nuus.

“Die slegte nuus is dat die Franse regering ons ’n rat voor die oë gedraai het dat ons van Frankryk af kan uitvlieg, maar ongelukkig mag net Franse passasiers nou afklim.”

Volgens Ferreira het daar chaos uitgebreek toe dié aankondiging gemaak is.

“Die Argentyne en Brasiliane was erg ontsteld dat passasiers van dieselfde skip mag afklim en die kaptein moes ons met lyfwagte toespreek.”

Volgens Ferreira is van die passasiers besig om met die regering te praat oor die situasie.

Die redery doen sy bes om ons op hoogte te hou terwyl dinge vinnig verander soos wat die Covid-19-situasie ontwikkel.

Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) het nie op verskeie navrae van Netwerk24 gereageer nie.

Intussen sê Imagine Cruising, die reisagentskap wat die meeste van die Suid-Afrikaners op die skepe se bespreking behartig het, dat hy deur Costa Cruises en die redery se gesprekke met owerhede gelei word.

“Die redery doen sy bes om ons op hoogte te hou terwyl dinge vinnig verander soos wat die Covid-19-situasie ontwikkel.

“Die redery is die beste geposisioneer om die jongste inligting vanaf die hawens se owerhede te ontvang en terselfdertyd met ons en passasiers aan boord te deel,” sê Sandy Alvos, kliëntebestuurder van Imagine Cruising.

Volgens Alvos het die agentskap e-pos aan kliënte aan boord gestuur om hulle te verseker dat die situasie gemonitor word sodat die agentskap hulle kan bystaan wanneer die bestemming waar hulle afklim, bevestig is.

Verdere navrae is na Costa verwys, wat aan Netwerk24 gesê het dat die rederye daaraan werk om die beste oplossings in verband met reisplanne te vind wanneer passasiers in Italië afklim.

“Wanneer hulle afklim, het Costa gereël dat die gaste in isolasie vergesel word na hul vlugte. Daar is op alle gesondheidsprosedures ooreengekom volgens internasionale riglyne.”

Costa het Donderdagaand bevestig dat vier mense wat aan boord van die Costa Luminosa positief vir Covid-19 getoets is reeds afgeklim het. Die redery sê verder daar is geen positiewe gevalle op die Costa Pacifica nie.

Meer oor:  Italië  |  Marseille  |  Koronavirus  |  Virus  |  Covid 19-Virus  |  Koronavirussiekte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.