Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Sean Davison van register geskrap in Nieu-Seeland

Prof. Sean Davison, stigter van Dignity SA, wat ’n vonnis van drie jaar huisarres weens moord uitdien, is van die register vir mediese kundiges in Nieu-Seeland geskrap.

News24 berig die besluit is ná ’n verhoor met die Nieu-Seelandse gesondheidspraktisyns se dissiplinêre tribunaal geneem. Die verhoor is aanlyn gehou.

Davison was voorlopig as ’n laboratorium-wetenskaplike by die land se Raad vir Mediese Wetenskappe geregistreer.

Davison het aan News24 gesê dit maak hom hartseer dat hulle sy optrede om drie mans te help om hul ondraaglike lyding te beëindig, as ongeskik ag om sy werk as mediese wetenskaplike te verrig.

“Dit is korrek dat ek hulle nie in kennis gestel het dat ek drie mans gehelp het om te sterf voor my skuldigbevinding nie. Dit was ’n private kwessie tussen my en die mans om hulle te help om hul lyding te beëindig. Dit was nie iets om met iemand te deel nie, ook nie met die Raad vir Mediese Wetenskappe nie,” het hy gesê.

Dit is korrek dat ek hulle nie in kennis gestel het dat ek drie mans gehelp het om te sterf voor my skuldigbevinding nie.

Davison sê as ’n Nieu-Seelandse burger in ’n ander land skuldig bevind word, kan die skuldigbevinding na Nieu-Seeland oorgedra word. In sy geval ten spyte daarvan dat hy reeds 25 jaar lank ’n Suid-Afrikaanse burger is.

“Dit is wat gisteraand (Maandag) tydens die verhoor gebeur het. Ek het in werklikheid nog ’n vonnis gekry.”

Davison het in Junie verlede jaar skuld ontken op die aanklagte dat hy drie mense bygestaan het wat hul lewens wou beëindig.

Hulle was Anrich Burger, wat ’n dodelike hoeveelheid dwelms in November 2013 toegedien is; Justin Varian wat met ’n sak oor sy kop en die toediening van helium in Julie 2015 dood is; en Richard Holland wat in November 2015 ’n dodelike hoeveelheid dwelms toegedien is.

Die hooggeregshof in Kaapstad het Davison tot agt jaar gevonnis, wat vir vyf jaar opgeskort is, en hom beveel om drie jaar gemeenskapsdiens te doen. Sy bewegings is hewig ingeperk.

Davison is ’n biochemie-professor wat in 1991 uit Nieu-Seeland geëmigreer het.

Hy het sy terminaal sieklike ma, Patricia Ferguson, in Nieu-Seeland gehelp om met fyngemaakte morfientablette dood te gaan en het daarvoor vyf jaar in huisarres in dié land deurgebring.

Davison, ’n pa van drie, sê sy familie het dit oorweeg om na Nieu-Seeland te trek sodra sy huisarres uitgedien is.

Meer oor:  Stigter  |  Sean Davison  |  Nieu-Seeland  |  Genadedood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.