Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Selfdood: ‘Jonger kinders ál meer by breekpunt’

Dit is deesdae nie net tieners wat depressief en angstig is nie. Dié gevoelens kom toenemend onder jonger kinders in laerskole voor.

“Adolessensie is ’n oorgangstydperk wat oor die algemeen gekenmerk word deur stres en angs, maar ons kry die afgelope tyd al hoe meer oproepe en versoeke om hulp en ondersteuning van die ouers van laerskoolkinders.

“Dit is vir ons kommerwekkend dat kinders van jonger ouderdomme selfdood oorweeg,” sê Cassey Chambers, bedryfsdirekteur van die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (Sadag).

Volgens Chambers is selfdood steeds ’n taboe onderwerp in skole, onder ouers en in sekere gemeenskappe.

“Daar word oor selfdood geswyg omdat daar so ’n groot stigma daaraan kleef. Baie gesinne en skole is nie bereid om daaroor te praat nie en in sommige gemeenskappe word dit selfs as ’n skande of ’n vloek beskou. Hierdie stilte is dodelik en maak dit nog moeiliker om hulp te kry.”

Daar word oor selfdood geswyg omdat daar so ’n groot stigma daaraan kleef. Baie gesinne en skole is nie bereid om daaroor te praat nie en in sommige gemeenskappe word dit selfs as ’n skande of ’n vloek beskou. Hierdie stilte is dodelik en maak dit nog moeiliker om hulp te kry.

Dit is om dié rede, sê Chambers, dat ’n bewusmakingsweek oor tienerselfdood bestaan wat vanjaar van 16 tot 23 Februarie duur.

“Die meeste tieners en laerskoolkinders wat selfdood oorweeg, toon waarskuwingstekens, maar daar is ook gevalle waar hulle nie enigiets wys nie. Daarom is dit belangrik vir ouers en onderwysers om te weet na watter tekens gekyk moet word en waar hulle om hulp kan aanklop. Kinders gebruik sosiale media om hul gevoelens uit te druk. Dit is belangrik dat ouers weet wat hulle aanlyn plaas, wie hul vriende is, wat by hul skool aangaan en waarmee hulle sukkel,” sê sy.

Dr. Brenda Hattingh, ’n sielkundige van Pretoria, sê ook sy kry al hoe meer oproepe van ouers wie se laerskoolkinders naby breekpunt is en sukkel om die druk wat hulle elke dag ervaar, te hanteer.

“Kinders word van ’n vroeër ouderdom deur allerhande gevoelens en emosies oorval wat hulle nie aldag weet hoe om te hanteer nie. Dan is daar ook druk van hul portuurgroep, boelies, onderwysers en in sommige gevalle hul eie gesin. Sosiale media speel natuurlik ’n belangrike rol in hoe hulle stres en angs verwerk. Ouers moet hieraan aandag gee,” sê Hatting, wat gereeld werksessies aanbied om mense te leer hoe om die gevaartekens uit te ken.

“Dit is belangrik om in gedagte te hou dat depressie ’n kind se gedrag op verskillende maniere kan beïnvloed,” sê Mark de la Rey, ’n kliniese sielkundige wat onder die jeug in Claremont, Kaapstad, werk.

“Depressie kan as oormatige moegheid, ’n verlies aan entoesiasme of belangstelling in dinge wat die kind voorheen geniet het, tot uiting kom, of deur woede of hopeloosheid,” sê De la Rey.

“Ouers moenie net emosionele bystand aan hul kinders bied nie maar ook vroegtydig professionele hulp inroep. Behandeling help om te verhoed dat die situasie eskaleer en uiteindelik tot ’n tragedie lei,” sê hy.

Kyk na die volgende gevaartekens by jou kind:

• ’n Verandering in slaappatroon

• ’n Verandering in eetlus of gewig

• Sosiale onttrekking

• Oormatige moegheid

• Gevoelens van waardeloosheid, selfverwyt en/of skuldgevoelens

• ’n Obsessie met die dood of selfdood

• Angs of oormatige woede

• Gevoelens van hopeloosheid of desperaatheid

* Bel Sadag se Selfdood-krisislyn by 0800 567 567.

Meer oor:  Selfdood  |  Sadag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.