Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Selfs ná inperking moet ons gedrag verander – minister

“Wat ook al ná die 21 dae van inperking gebeur, Suid-Afrikaners sal hul gedrag moet verander. Dit is ook onwaar dat slegs wit mense deur die virus geraak word. Mense moenie fopnuus glo nie.”

Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Dinsdag op ’n mediakonferensie in Pretoria gesê hy kan nog nie sê hoe lank die staat van inperking sal moet duur nie, en alles sal nie dadelik daarna na normaal kan terugkeer nie.

Die minister het ook bevestig dat daar nou al vyf sterfgevalle weens Covid-19 in Suid-Afrika aangemeld is.

Die nuutste is ’n 46-jarige vrou van Umlazi, KwaZulu-Natal, wat aan hoë bloeddruk gely het, volgens Mkhize. Sy is Dinsdagmiddag dood, net ’n paar uur voordat Mkhize die land toegespreek het.

Die ander sterfgevalle is ’n 48-jarige vrou van die Wes-Kaap, ’n 85-jarige man van die Vrystaat, ’n 79-jarige man van Gauteng, en ’n 74-jarige man van Ladysmith in KwaZulu-Natal.

Zweli Mkhize, minister van gesondheid. Foto: Getty Images

Mkhize het later getwiet dat hy opgemerk het dat die koers van infeksies in die land nie so hoog is as wat aanvanklik verwag is nie. “Ons het 4 000 tot 5 000 gevalle verwag, maar dit is nog nie bereik nie.”

Teen Dinsdagaand is 46 nuwe gevalle aangemeld en staan die aantal positiewe gevalle hier nou op 1 353. Daar is reeds 41 072 toetse op mense gedoen.

Soveel mense is per provinsie positief vir die virus getoets:

• Gauteng – 633;

• Mpumalanga – 12;

• Limpopo – 14;

• Noordwes – 8;

• Vrystaat – 74;

• Noord-Kaap – 6;

• Wes-Kaap – 325;

• Oos-Kaap – 12;

• KwaZulu-Natal – 179.

• Met 90 van die gevalle word die provinsie nie aangedui nie.

Suid-Afrika ondersoek tans ander lande se reaksie op die pandemie, onder meer dié van China en Suid-Korea.

Daar is aanduidings dat daar plaaslik reeds ’n impak gemaak word om die uitbreking te beperk, sê Mkhize.

Hy sê 55 mense is reeds weens Covid-19 in die hospitaal opgeneem, maar die regering wil voorbereid op ’n styging in dié syfer wees.

Om dié rede is daar ook gesprekke om nog meer asemhalingstoestelle te kry indien dit nodig sal wees.

Die regering het reeds hulp van die private sektor en ander belanghebbendes in dié verband ontvang, sê Mkhize.

Hy sê die siekte sal deur die hele samelewing bestry word en nie net deur mediese personeel nie.

“Dit gaan daaroor om die nasie te red. Diegene wat uitdagings weens die inperking ondervind, moet dit asseblief verstaan.”

Dit gaan daaroor om die nasie te red. Diegene wat uitdagings weens die inperking ondervind, moet dit asseblief verstaan.

Terwyl die siekte bestry word, moet daar ook nie Suid-Afrikaners wees wat van die honger doodgaan nie, en daar moet daaraan ook aandag geskenk word, sê Mkhize.

Hy het gewaarsku dat mense nie moet vlug van die brandpunte waar infeksies voorkom nie, maar juis daar moet bly om toetse te ondergaan. Sulke gebiede moet ook nie gestigmatiseer word nie.

Dit is ook onwaarskynlik dat iemand wat van Covid-19 genees is, weer besmet kan word, aldus die minister.

Kitstoetse vir Covid-19 kan ook later uitgevoer word en die vermoë vir toetsing word vergroot om al hoe meer mense te kan insluit.

Mkhize sê daar was aanvanklik nie konsensus onder medici oor of die kitstoetse werk nie. Dit kan egter veral op groot skaal gebruik word, indien dit nodig is.

Hy sê die duurder toetse dui aan of die werklike virus in die liggaam is en die kitstoetse kan wys of die liggaam ’n immuunreaksie op een of ander virus het.

Volgens Mkhize word dit steeds betwis of die virus in die lug kan versprei en hy voer aan dat die dra van maskers werk en dat dit steeds aanbeveel word.

grafika
Grafika: Jongste statistieke

Meer oor:  Koronavirus  |  Zweli Mkhize
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.