Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Sepsis in snytjie laat man in waakeenheid beland
Roelien en Frederick Nel en Melanie Landsman. Foto: Verskaf

’n Pa van Pretoria moes Woensdag sy verjaardag in die waakeenheid van die Zuid-Afrikaans-hospitaal vier nadat ’n klein snytjie wat hy langs die viswater opgedoen het septies geraak het.

’n Kersie op Frederick Nel (39) se verjaardagkoek was dat die ventilator wat hom met asemhaling gehelp het Dinsdag verwyder is en dat hy op die herdenking van sy geboortedag darem self met sy geliefdes kon praat.

Dit was tot die groot vreugde van sy kleinsus, Melanie Landsman, wat sedert sy opname elke Maandag en Donderdag vanaf Mooinooi, Noordwes, gery het om hom te besoek.

Op sy verjaardag het sy hom met ’n video-oproep gelukgewens.

“Hy het ’n grap gemaak met my man omdat sy baard so lank is. Vir my het hy gesê hy is lief vir my en toe ek moes tot siens sê, het die trane begin loop. Hy is nog baie uitasem en ek kon sien dit is moeite om te praat,” sê Landsman.

Volgens haar het Nel sy been gestamp toe hy die naweek van 13 en 14 Maart by Hartbeespoortdam gaan visvang het.

Nel, ’n pa van ses wat in Kameeldrif woon, was saam met sy seun en sy sussie se seun langs die viswater.

Hy het ’n grap gemaak met my man omdat sy baard so lank is. Vir my het hy gesê hy is lief vir my en toe ek moes tot siens sê, het die trane begin loop. Hy is nog baie uitasem en ek kon sien dit is moeite om te praat.

Landsman verduidelik dat die seuns Nel ’n ruk alleen gelaat het.

“Die hiasinte het hul lyne begin pla. Hy het in die dam ingegaan om die plante van die lyne af te haal. Daar het hy gegly en sy been teen iets in die dam stukkend gestamp,” sê Landsman. Hulle vermoed dit is waar hy vermoedelik ’n kiem of bakterie gekry het.

Nel, wat aan diabetes en hoë bloeddruk ly, het hom aanvanklik nie veel aan die snytjie gesteur nie, maar later gevoel of hy griep of verkoue het en begin kla hy is moeg.

Landsman, wat hom ook elke Donderdag by sy werk besoek, en sy vrou, Roelien, het daarop aangedring dat hy ’n dokter besoek.

Volgens Landsman het Nel se been begin swel.

Op 22 Maart, meer as ’n week nadat hy die sny opgedoen het, het Roelien met hom na die hospitaal gejaag. Hy is opgeneem en dieselfde aand na die waakeenheid oorgeplaas.

Frederick Nel Foto: Verskaf

Volgens Landsman het sy lyf kort daarna in septiese skok oorgegaan en op 24 Maart moes hulle hom in ’n medies-geïnduseerde koma plaas.

Sy sê dat dit was eers met die derde antibiotika-behandeling dat Nel se infeksietelling gedaal het.

Volgens Landsman het die medici Nel vanaf 1 April begin bybring.

“Ek het hom Maandag help skryf, want hy het toe nog die pyp in sy keel gehad, maar dit is gelukkig nou uit. Hy is ’n diabeet en sy liggaam het nie die sepsis beveg soos dit moes nie en toe hy nie daaraan aandag gegee het nie, het dit vererger. Ons is wel bly hy is nou beter.”

Nel is steeds in die waakeenheid.

Omdat hy nie ’n mediese fonds het nie, sal hulle hom volgens Landman waarskynlik na ’n staatshospitaal oorplaas.

Nel se familie en vriende samel tans geld in vir sy behandeling.

Meer oor:  Sepsis  |  Frederick Nel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.