Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Seun ernstig siek ná 'onskuldige' hoofpyn

Toe ’n seun van Pretoria sowat tien dae gelede van hoofpyn kla, kon nie hy of sy ma voorsien op watter wipwarit hulle sou beland en presies hoe ernstig siek hy sou word nie.

Hanru Pienaar (13), vanjaar ’n gr. 8-leerling aan die Afrikaanse Hoër Seunskool, is nou in ’n stabiele toestand in die hospitaal nadat ’n gewas langs sy regternier verwyder is.

Die gewas het waarskynlik daartoe gelei dat sy bloeddruk drasties gestyg het. Hy het bloeding op die brein gehad en later in die hospitaal selfs ’n beroerte.

Hanru Pienaar saam met sy ma, Lizette Pienaar, en ouboet, Lian van Deventer (19). Foto: Verskaf

Hy het Maandag uit ’n geïnduseerde koma gekom en een van die eerste dinge wat hy aan sy ma gesê het, was dat hy “verskriklik honger” is.

“Dit gaan ongelooflik goed met hom,” sê Lizette Pienaar, sy ma.

Hanru het op 10 Januarie van hoofpyn gekla, maar volgens Pienaar was dit niks vreemd nie en het sy vir hom pynpille gegee. Hy het egter begin opgooi en deurmekaar begin raak.

Hy is na die Netcare Waterfall City-hospitaal in Midrand se ongevalle-afdeling geneem, waar hy op ’n drup gesit en bloedtoetse gedoen is.

Die toetse het gewys dat Hanru se witbloedseltelling baie hoog is. Daar is vermoed dat hy breinvliesontsteking het en ’n skandering het bloeding op twee plekke op sy brein gewys.

Omdat die gesin nie lid van ’n mediese fonds is nie, is daar rondgebel na staatshospitale om Hanru so gou moontlik te laat opneem.

Hy sou oorgeplaas word na die Steve Biko-hospitaal in Pretoria, maar die volgende oggend is laat weet dat daar nie meer plek vir hom is nie weens al die Covid-19-pasiënte.

In daardie stadium moes hulle Hanru egter dringend stabiliseer en familielede het R150 000 betaal sodat hy uiteindelik in die Waterfall City-hospitaal opgeneem kon word.

Hy is na die waakeenheid geskuif, gestabiliseer en in ’n geïnduseerde koma geplaas.

Hanru Pienaar Foto: Verskaf

Die Dinsdag is baie toetse gedoen, wat gewys het dat Hanru ’n gewas op ’n baie delikate plek langs sy nier het.

Boonop het hy vroeër die dag weens die hoë bloeddruk ’n beroerte gehad wat die linkerkant van sy liggaam verlam het, sê Pienaar.

Sy is egter hoopvol dat dit sal herstel, want hy het al sy linkerbeen begin beweeg.

Daardie selfde aand het hy twee groot operasies van vier uur lank aan die linker- en regterkant van die brein ondergaan om die drukking te verlig en om die bloeding te dreineer. Die bloeding was bo sy linkerkantse oor en aan die regterkant bo-op sy kop.

Hanru is vir die res van die week onder verdowing gehou.

Hanru Pienaar word deur sy ma beskryf as ’n besige kind wat graag poetse bak. Foto: Verskaf

Die gewas van 2,5 cm in deursnee is die afgelope Sondag suksesvol verwyder en Maandag het hulle Hanru stadig maar seker begin bybring.

Skei te veel adrenalien af

“Die gewas was in die holte van die nier en het teen die bynier gedruk. As gevolg hiervan het sy liggaam ’n oormaat adrenalien afgeskei. Dit het veroorsaak dat sy bloeddruk styg, wat weer die bloeding op die brein veroorsaak het,” sê Pienaar.

Hanru se bloeddruk is nou onder beheer en hy is in ’n stabiele toestand. Daar word gewag op die toetsuitslae om te sien of die gewas kwaadaardig was.

“Hy praat, maar hy praat baie, baie saggies. Hy vra vir my waar sy broer en pappa is. En hy sê vir my ‘Mamma, ek is baie, baie honger’.”

Hanru Pienaar is gaande oor hokkie. Foto: Verskaf

Pienaar beskryf Hanru as ’n grapjas en ’n spontane kind.

Sodra hy weer op die been is, gaan hy sy hoërskoolloopbaan aan Affies begin. “Die laaste ding wat hy vir die pediater gesê het voordat hulle hom onder verdowing geplaas het, was: ‘Het ek al vir jou vertel ek gaan Affies toe?’

“Hy kan nie meer wag nie.”

Pienaar prys die hospitaal vir hul ongelooflike diens.

“As ek nou terugdink, kan ek sien hoe die Here my gedra het, want ek weet nie hoe ek deur hierdie week gekom het nie.”

Vriende van Pienaar het ’n fondsinsamelingsprojek vir Hanru begin, maar intussen het Caring Daisies – ’n organisasie sonder winsbejag – ook betrokke geraak en dié hanteer voortaan alle fondsinsamelings.

Volg die Facebook-blad Hanru’s Miracle vir verdere inligting.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.