Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Siek kleuter ‘het almal se gebede nodig’
Die Smith-gesin van Benoni: Chivon en haar man, Steve, saam met Chi-Nelri (3) en Von-Veve (7). Foto: Verskaf

Die ma van ’n driejarige kleuter vra dat almal vir haar bid dat die noodsaaklike leweroorplanting wat sy binnekort moet ondergaan, ’n sukses sal wees.

Volgens Chivon Smith, ’n kleuterskoolonderwyseres van Benoni, het haar dogtertjie, Chi-Nelri, ’n 50-50-kans op oorlewing ná die operasie. “Ek het in Februarie verlede jaar vir die eerste keer onraad vermoed toe ek bruin en geel merkies op haar lyfie gewaar. Dit het aanvanklik op haar handjie begin, maar het vinnig versprei.”

Dokters het aanvanklik gesukkel om uit te vind wat fout was met klein Chi-Nelri. Smith en haar man, Steve, ’n ingenieur, is van bakboord na stuurboord gestuur. Sy is uiteindelik gediagnoseer met hipercholesterolemie – oormatig hoë vlakke van ongesonde cholesterol in haar bloed.

“As jy haar vir ’n rukkie dophou, sou jy nooit sê sy is siek nie – sy is die gelukkigste kind en het altyd ’n huppel in haar stappie en ’n glimlag vir almal,” sê Smith.

Chi-Nelri kry op 9 April onder leiding van prof. Frederick Raal van die Universiteit van die Witwatersrand ’n leweroorplanting by die Donald Gordon- Mediese Sentrum in Johannesburg. Foto: Verskaf

Chi-Nelri is sedert haar diagnosering aangewese op chroniese medikasie en sukkel met ’n uiters kwesbare immuniteitstelsel. Boonop het dié woelige driejarige se hart tydelik in Junie verlede jaar gaan staan. “Ons is die afgelope tyd as gesin deur diepe waters. Sonder die ondersteuning van ons familie en vriende en krag van die Hemelse Vader sou ons dit nooit tot by hierdie punt gemaak het nie,” sê Smith.

Chi-Nelri kry op 9 April onder leiding van prof. Frederick Raal, hoof van die endokrinologiese en metaboliese afdeling van die fakulteit gesondheidswetenskappe aan die Universiteit van die Witwatersrand, ’n leweroorplanting by die Donald Gordon- Mediese Sentrum in Johannesburg. “Een van ons familielede, ’n tannie van die Vrystaat wat anoniem wil bly, se lewer is geskik vir Chi-Nelri. Sy het die leweroorplanting nodig om haar uitermatig hoë cholesteroltelling te verminder. My dogtertjie het nou almal se gebede nodig sodat sy die beste kans op lewe kan hê,” sê Smith.

Intussen het Chi-Nelri se ouer sussie, Von-Veve (7), baie vrae oor die siekte. “Sy trek by tye maar swaar en wil aanhoudend by ons uitvind of haar sussie die operasie gaan oorleef. Ons probeer ons bes om haar gerus te stel, maar ek moet bieg dat party dae moeiliker is as ander,” sê Smith.

“Dit is seker enige ouer se grootste nagmerrie dat jou kind deur so iets moet gaan, maar die Smith-gesin inspireer almal om hulle met hul deursettingsvermoë en geloof,” sê Elaine Martens, ’n jare lange vriendin van Smith.

Martens het intussen ’n geldinsamelingsprojek begin om te help om die hoë koste van Chi-Nelri se daaglikse sorg te dek. “Ek verkoop armbandjies en sleutelhouers. Nie net om geld in te samel nie, maar ook om mense meer bewus te maak van die siekte waaraan sy ly.”

Martens het ook ’n Facebook-blad – Bid saam vir Chi-Nelri Smith – begin waar mense die gesin kan ondersteun. “Al die besonderhede is daar – om betrokke te raak kan mense die Facebook-blad besoek. Enige ondersteuning, geldelik of andersinds, word waardeer,” sê Martens.

Smith sê hulle het voor die operasie deur Chi-Nelri en Von-Veve se wenslysie gegaan. “Dit was om op ’n eenhoring te ry (een van my vriendinne het ’n ponie as ’n eenhoring versier), see toe te vlieg, saam met die maatjies by die kleuterskool partytjie te hou en te bak en te brou. Ons kon almal afmerk. Ons enigste wens nou is dat die operasie suksesvol sal wees,” sê Smith.

’n Facebook-blad – Bid saam vir Chi-Nelri Smith – is begin waar mense hul steun aan die Smith-gesin kan toesê. Foto: Verskaf
Die twee Smith-sussies, Chi-Nelri (3) en Von-Veve (7). Foto: Verskaf
Chi-Nelri (3) en Von-Veve (7) Smith kon voor Chi-Nelri se leweroorplanting deur hul wenslysie gaan. Een daarvan was om op ’n “eenhoring” te ry. Foto: Verskaf

Meer oor:  Siekte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.