Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Sieklike NGV rééds in die waaksaal

Die nasionale gesondheidsversekering (NGV) het die afgelope week sowat R575 miljoen – meer as ’n kwart van hul begroting – weens onbevoegdheid verloor.

Tito Mboweni, minister van finansies.

Luidens die mediumtermyn-begrotingsdokumente het die NGV amptelik R111 miljoen minder gekry vir die jaar. Die totale begroting is nou R2 miljard.

Maar die eintlike gevoelige slag is dat R464 miljoen wat die gesentraliseerde NGV-fonds gehad het om onder meer hospitale op te knap, linne te koop en te betaal vir kritieke kanker- en geestesgesondheidsdienste weggevat is om hoofsaaklik aan die provinsies te gee om hul menslike hulpbronne te versterk.

Hoewel dit amptelik nog deel uitmaak van die NGV-begroting, verloor die NGV-fonds beheer oor dié geld terwyl die hele oogmerk van die NGV-wetsontwerp is dat magte van provinsies oorgedra word aan die nasionale regering wat ’n gesentraliseerde aankoper van alle dienste en goedere word.

Rapport het verlede week berig die NGV het verlede jaar sowat R150 miljoen gekry spesifiek om lakens te koop, maar kon nie ’n enkele laken aankoop nie. Dié geld is deel van die geld wat nou weggevat is.

R464 m. oorgedra aan provinsies.

Prof. Alex van den Heever, gesondheidsekonoom aan die Universiteit van die Witwatersrand, het aan Rapport gesê dié veranderinge is genoodsaak omdat die regering tot dusver klaaglik misluk om NGV-geld te bestee.

“In hierdie stadium kan die nasionale tesourie nie bekostig dat geld verkwis of nie gebruik word nie. Met hierdie veranderinge wys hulle klaarblyklik geld aan programme toe wat veel dringender is vir pasiënte as vir die NGV.”

Hy sê die regering wys met sy begroting wat eintlik prioriteit is en wat die nasionale tesourie van die NGV-planne dink.

Hoewel die begrotingsdokumente verwys na ’n kostestudie wat die tesourie vir die NGV gedoen het, benadruk die tesourie dat hulle hoegenaamd nie hulself verbind om daardie geld in die toekoms beskikbaar te stel nie.

Die kostestudie wys dit sal van 2025-’26 R33 miljard per jaar bo en behalwe die huidige gesondheidsbegroting kos om die mees basiese dienste as deel van die NGV in sy voorgestelde vorm te lewer.

Maarten Ackerman, ekonoom by Citadel, het ook gesê die tesourie sê basies in die begrotingsraamwerk dat daar nie die geld of die kundigheid is om die NGV in werking te stel nie.

' Openbare sittings ’n klug.’

Dít keer nie politici om fluks die NGV te bevorder nie.

Die parlement is tans in ’n paar provinsies besig met openbare sittings oor die NGV-wetsontwerp, maar die DA beskuldig die ANC daarvan dat hulle die proses gekaap het.

By drie van die vergaderplekke in Mpumalanga waar die sittings die laaste week gehou is, is inwoners van die omstreke met busse aangery en is pamflette op die stoele neergesit waar teenwoordiges versoek is om hul steun aan die NGV toe te sê. Verskeie het ANC-T-hemde gedra.

Die pamflette verskaf ’n reeds ingevulde geesdriftige ondersteuningsbrief vir die NGV-wetsontwerp waar mense net moes teken.

Die eerste openbare vergadering is in ’n gemeenskapsaal in die Nkomazi- plaaslike munisipaliteit (wat dorpe soos Baberton en Komatipoort insluit), wat baie naby aan die Mosambiekse grens lê, gehou.

Na wat Rapport verneem, was ANC-lede van die portefeuljekomitee nie tevrede met hoe die vergadering afgeloop het nie.

Ná ’n bra tegniese verduideliking van wat die NGV sou behels, moes LP’s bontstaan om vrae van misnoegde inwoners te beantwoord.

Hulle het deur die bank gekla oor die haglike gesondheidsdienste in hul omgewing en die gebrek aan nooddienste.

Menige inwoner wou weet hoe die NGV hierdie probleme gaan oplos.

By die tweede openbare sitting in Bosbokrand het die mense wat met busse aangekom het, almal hul ondersteuning vir die NGV uitgespreek.

Die aanwesiges is ook gevra om ná die vergadering die voltooide pamflette aan die voorsitter te oorhandig.

Dieselfde pamflette is ook versprei by die daaropvolgende vergaderings in Kwaggafontein en Ermelo.

Siviwe Gwarube, DA-woordvoerder en lid van die gesondheidsportefeuljekomitee, het aan Rapport gesê die openbare vergaderings in Mpumalanga was niks minder as ’n klug nie.

“Met die pamflette wat die ANC versprei het, probeer hy mense mislei om hul steun aan die NGV toe te sê.

“Dit is bo en behalwe pogings om die openbare verhore te kaap deur mense met busse aan te ry.

“Die party misbruik die parlement en sien dit basies as ’n verlenging van Luthuli-huis. Openbare verhore moet onpartydig wees.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.