Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Siemens se hospitaal kry toe wel lisensie

’n Splinternuwe CityMed-daghospitaal op dieselfde vlak in dieselfde gang van die Prellerplein-winkelsentrum in Dan Pienaar in Bloemfontein is bykans voltooi nadat die lisensie vir dié groot uitbreidings bekom is.

So sê Koos Raubenheimer, een van die groot aandeelhouers in die hospitaal.

Die vermoorde Louis Siemens. Foto: Volksblad

Hy sê die nuwe CityMed-hospitaal – op dieselfde terrein en in dieselfde gang as die huidige ligging – waarheen daar eersdaags verhuis word, het nou vier teaters, teenoor twee voorheen.

Raubenheimer sê die Vrystaatse gesondheidsdepartement het reeds ’n eerste inspeksie by die nuwe hospitaal uitgevoer en aanbevelings gemaak oor aanpassings wat gemaak moes word, wat nou gedoen word.

“ ’n Paar taai inspeksies lê nog voor.”

Vir Raubenheimer is die dood van die vermoorde Louis Siemens (54), dié hospitaal se voormalige besturende direkteur, steeds ’n groot raaisel.

Luidens die klagstaat teen Siemens se vermeende moordenaars het die vermoorde sedert 2015 miljoene rande se omkoopgeld betaal om lisensies vir die uitbreiding van die hospitaal te bekom.

Teen die tyd van sy moord vanjaar op 10 Mei in die kelderverdieping van die Prellerplein-winkelsentrum het Siemens reeds minstens R5,6 miljoen betaal aan Kibi Stanley Bakili (37), een van die moordverdagtes, beweer die staat.

Bakili het al ’n paar keer in die hof vir ’n borgtogaansoek verskyn en sal op 9 November weer verskyn. Hy is reeds op die dag van die moord in hegtenis geneem.

Saam met hom sal twee polisiebeamptes, konst. Kagisho Ishael Chabane (39), ’n hofordonnans in die Bloemfonteinse landdroshof, en konst. Molebatsi John Mogoera (40) van die Bayswater-polisiekantoor in die stad, wat op 3 September in hegtenis geneem is, ook moet verskyn.

Kibi Stanley Bakili in die hof in Bloemfontein. Foto: Alzane Narrain

Hulle het ook reeds vroeër saam met Bakili voorgekom.

Intussen verskyn een van die vermeende huurmoordenaars wat ook glo betrokke was en wie se naam nog nie bekend gemaak kan word nie, Vrydag vir die eerste keer in die landdroshof in Bloemfontein nadat hy Woensdagaand in hegtenis geneem is.

Thandi Mbambo, polisiewoordvoerder, het Donderdagaand gesê ’n tweede vermeende huurmoordenaar is nog nie deur die polisie in hegtenis geneem nie.

* Netwerk24 verneem betroubaar die motor wat die vermeende moordenaars gehuur het in die tyd van Siemens se moord, is twee aande voor sy dood in Heuwelsig gesien in die straat waar Siemens gebly het.

Die verdagtes het op 10 Mei met dié motor van die moordtoneel gevlug nadat Siemens vier keer geskiet is.

* Johan Lombard, vriend van die Siemens-gesin, het Donderdag gesê dit gaan onder omstandighede goed met Siemens se vrou en sy twee kinders.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.