Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Siya en 13 ander Bokke het Covid

Die Springbokkaptein, Siya Kolisi, en 25 ander spelers en personeel in die Bokkamp is positief vir Covid-19 getoets– ondanks dat die span hulle in ’n Covid-19-vrye “bio-borrel” in ’n hotel in Johannesburg bevind.

Amper ’n hele rugbyspan spelers – 14 – het die virus onder lede, wat ernstige vrae laat oor die Bokke se voorbereiding vir die langverwagte toetsreeks teen die Britse en Ierse Leeus.

Omdat al die spelers en personeel in die Bokgroep ingeënt is, blyk dit dat diegene wat wel die virus onder lede het baie ligte of geen simptome het nie.

Die Bokke wat volgens Rapport se inligting positief getoets is, is Kolisi, Frans Malherbe, Ox Nche, Kwagga Smith, Handre Pollard, Marvin Orie, Scarra Ntubeni, Bongi Mbonambi, Cobus Reinach, Makazole Mapimpi, Thomas du Toit, Frans Steyn, Dan du Preez en Lood de Jager. Nog twee spelers – Vincent Koch en S’bu Nkosi – is twee weke gelede reeds positief getoets, maar omdat dit meer as tien dae gelede is, word daar aanvaar dat hulle weer perdfris is.

Gelukkig lyk dit nie of die reeks teen die Leeus in gevaar is weens die drama nie. Die toerprogram – en die velde waar die toetse gespeel gaan word – is beslis onder bespreking.

Die groter probleem is die invloed wat die siekte op die samestelling vir die Bokspan vir die eerste toets in Kaapstad – net 13 dae van vandag – gaan hê. As Kolisi nie betyds herstel nie, sal Lukhanyo Am waarskynlik die span lei.

Daar is ook vrae oor hoe dit gebeur het dat die virus so vinnig kon versprei in wat veronderstel is om ’n Covid-19-vrye “bio-borrel” in ’n hotel in Rosebank, Johannesburg, te wees. Die span se woordvoerders handhaaf egter 'n stilte en wil geen vrae oor die Covid-19-uitbreking beantwoord nie en die Bokke het verlede naweek laas ’n mediakonferensie gehad.

Daar is talle vrae, onder meer waarom spelers se meisies en vroue toegelaat is om by die span in te trek en of dit die oorsprong van die virus in die bio-borrel is. Verskeie mense het ook die afgelope week teenoor Rapport beweer dat van die Bokke buite die hotel opgemerk is en nie streng by die reëls gehou het nie.

Lukhanyo Am dalk in Siya Kolisi se plek as kaptein.

Rugbybase ontken dit egter.

“Videomateriaal het gewys dat die Bokke nie oortree het nie,” sê ’n ingeligte persoon.

Nietemin het Jurie Roux, SA Rugby se uitvoerende hoof, die span blykbaar die afgelope week goed die kop gewas en hulle gewaarsku dat enige onbesonne optrede die hele toer kan verongeluk, iets wat rampspoedig vir Suid-Afrikaanse rugby sal wees.


Mark Alexander, president van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), het juis onlangs gewaarsku as die toer nie voortgaan nie “SA Rugby sy deure kan toemaak”.

Rory Steyn, die man wat destyds in beheer gestaan het van oudpres. Nelson Mandela se veiligheidspan, is intussen ook na die Bokke se hotel ontbied om die Covid-19-maatreëls op te skerp. Sedert Maandag is die Bokke in ’n “harde bio-borrel”. Oorspronklik was die plan dat ’n “sagte” borrel tot gister sou geld voordat die maatreëls verskerp sou word, maar die planne is ná die uitbreking met ’n  paar dae vorentoe geskuif.

Onder die teorieë hoe die virus die bio-borrel binnegedring het, is daar twee wat begin veld wen.

Die eerste is dat De Jager, die speler wat eerste positief getoets is, die virus gekry het toe hy na die  Sisonke-eenheid by die Chris Hani Baragwanath-hospitaal gereis het om sy tweede Covid-19-inspuiting te kry.

Die ander is dat een van die Bokke dit gekry het van ’n speler van Georgië ij hul wedstryd op Loftus Versfeld. Georgië het vier positiewe Covid-19-gevalle aangemeld, maar die syfer is waarskynlik hoër, ’n vermoede wat versterk word deur die Oos-Europeërs se besluit Vrydag om die toets teen Skotland wat volgende naweek sou plaasvind, af te las.

Die grootste bekommernis is dat die Bokke weens die drama nie die afgelope week kon oefen nie – ’n terugslag omdat die toets op Loftus Versfeld teen Georgië die eerste keer was dat die Bokke in 20 maande saam gespeel het.

Aangesien spelers wat kontak gehad het met enigeen wat positief getoets is óók moet isoleer, is daar op die oomblik net drie spelers wat nie positief of in kwarantyn is nie. Enigeen wat positief getoets is, moet boonop vir tien dae in kwarantyn bly – ongeag hoe erg sy simptome is. Daarna kan dit nog sewe dae neem voordat hy na die oefenveld terugkeer, omdat hy eers intensiewe mediese toetse moet slaag om permanente long- en hartskade te verhoed.

Met net 13 dae voor die eerste toets kan hierdie tydperk van tien dae deurslaggewend wees vir die spelers wat positief getoets is. Die Bokafrigter, Jacques Nienaber, mag dalk selfs gedwing word om spelers van buite die groep te betrek weens al die siekes.

Intussen sit die Bokke nie heeltemal stil nie en is steeds besig met video-sessies en aanlyn vergaderings terwyl hulle in hul kamers vasgekeer is.

Hoe die toerprogram vir die Leeus vorentoe gaan lyk is steeds duister.

“Op die oomblik weet ek nie wat oormôre gaan gebeur nie; ons kan net dag tot dag kyk en aanpas waar ons kan,” het ’n senior amptenaar aan Rapport gesê.

Teen gister het dit wel na ’n uitgemaakte saak gelyk dat die Leeus se wedstryd volgende week teen die WP afgestel sal word en deur ’n wedstryd teen ’n SA A-span vervang sal word.

Die SA A-span sal dan waarskynlik Woensdag en Saterdag teen die Leeus speel wat baie van die spelers in die Bok-groep wedstrydtyd kan gee. (Sien volledige berig in Sport).

Die mediese raadgewende groep, wat uit viroloë en albei spanne se mediese amptenare en uitvoerende hoofde bestaan, was gister nog besig om die toerprogram en die moontlike veranderings te bespreek.

Warren Gatland, die Britse  en Ierse Leeus se afrigter, het Vrydagaand gesê hy verwag die toetsreeks gaan in geheel na Kaapstad skuif. Tans is die plan om die eerste toets in Kaapstad en die ander twee by die FNB-stadion in Johannesburg te speel.

“Niks is nog gefinaliseer nie, maar ek is redelik seker dat die tweede en derde toetse in Kaapstad sal wees,” sê Gatland.

Terwyl die Leeus ten gunste is van so ’n skuif verneem Rapport dat die kwessie bemoeilik word omdat die Gautengse regering geld gegee het sodat die toetse in Johannesburg gespeel kan word. Covid-19-vlakke wat in Gauteng begin afneem terwyl dié in Kaapstad optel, is ’n verdere stok in die wiel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.