’n Rekordgetal sterftes is in die Nelson Mandelabaai-metro aangemeld nadat 17 mense binne 24 uur die stryd teen Covid-19 verloor het.
Dié skok-syfer, wat die Oos-Kaapse departement van gesondheid bekend gemaak het, skets ’n donker prentjie vir die metro, waar amptenare daagliks bloed sweet om die virussiekte hok te slaan.
Tshonono Buyeye, die waarnemende burgemeester, het gesê dié 17 sterftes, wat Maandag binne 24 uur aangeteken is, het in hospitale in die stad voorgekom. Hiervan was 14 in private en drie in staatshospitale.
Dit bring sterftes in die metro op 1 788 te staan, terwyl daar tans 3 521 aktiewe positiewe gevalle is.
“Ons wil inwoners aanmoedig om hulle by die regering se isolasiefasiliteite aan te meld indien die situasie by hul huise nie gunstig of geskik is om hulself veilig te isoleer nie. “Die laaste ding wat ons nou wil hê, is meer sterftes.”

Mense word opnuut gemaan om die virussiekte ernstig op te neem en maskers te dra, hande te was en ’n veilige afstand van ander te handhaaf. Foto: Gallo Images
Die aantal Covid-19-pasiënte wat in die stad se waakeenhede opgeneem word, neem daagliks skerp toe, het Buyeye gesê.
Op die oomblik word 109 pasiënte in die waakeenhede behandel – 95 in private en 14 in staatshospitale. Tans is 43 pasiënte (42 in private hospitale) aan ventilators gekoppel.
Die meeste aktiewe gevalle in die metro (per woonbuurt) is in Uitenhage (506), Motherwell (298), Bethelsdorp (253), KwaNobuhle (210), Walmer (201), KwaZakhele (144), Gelvandale (142), New Brighton (131) en Bloemendal (108).
Die inwoners is opnuut gewaarsku om die virussiekte met die nodige erns te hanteer en word weer eens versoek om gesigmaskers te dra, hul hande te was of reiniger te gebruik, en ’n sosiale afstand van ander te handhaaf.
Buyeye het simpatie uitgespreek teenoor die families en vriende wat geliefdes verloor het.
“Hulle is in ons gedagtes en ons gebede. As ’n land rou ons saam met hulle,” het hy gesê.