Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Skokgolwe nadat Saranti sterf

“Sy is weg. Vanoggend oorlede. Liefste Saranti Reeders. Covid. Sy was vol lig, grappies, superslim en talentvol. My hart gaan uit na haar seun, Cole, en haar geliefdes. Ons stam het ’n groot gees verloor.”

Saranti Reeders Foto: Facebook

So het die sangeres Amanda Strydom op sosiale media geskryf oor die dood van die 60-jarige Reeders Saterdagoggend in die Milpark-hospitaal in Johannesburg.

Reeders was ook bekend as die klavierbegeleier en spanlid in die kykNET-reeks Liriekeraai, waarin sy spelenderwys die “blondine van Bapsfontein” genoem is.

Sy was ook in die sepie Getroud met rugby te sien. Sy het ’n musiekskool bedryf en was die afgelope twee dekades regisseur van verskeie musiekblyspele, waaronder Buddy: The Buddy Holly Story in 2018.

Cole het Saterdag aan Rapport gesê sy ma was die sterkste mens wat hy geken het.

“Sy het by verre nie ’n maklike lewe gehad nie en om ’n enkelouer te wees het nie altyd gehelp nie, maar sy het altyd deurgedruk en seker gemaak dat ons so gelukkig as moontlik kon wees.

“Ek sal haar altyd onthou vir haar vriendelikheid, wonderlike sin vir humor en onvoorwaardelike liefde. Haar vertrek het ’n reuse-leemte in my gelaat, maar ek sal haar lesse onthou.”

Reeders se broer, Ricus, het aan Rapport bevestig sy is aan Covid-19 dood. Hul pa, Henri (84), is met die aanvang van die inperking aan longontsteking oorlede. Hul ma, Mariet (81), het van Covid-19 herstel.

“Woorde kan nie beskryf wat ons verlies beteken nie, want haar eintlike taal was musiek. En haar lewe is ’n onvoltooide simfonie,” sê Ricus.

Die sanger Pedro Kruger was bewoë om oor sy jare lange vriendin se dood te praat, maar het op sosiale media geskryf: “Genoeg nou, Covid! Rus sag, liewe Saranti, jou incredibly talented human. Niemand sal ooit pers so goed soos jy kan afpull nie. Ek sal ‘luister na die bass­line’ en ander goeie memories altyd onthou en koester. Ons was ’n formidabele span.”

Die akteur Denver Vraagom se reaksie was: “Nee! Nie Saranti Reeders ook nie.”

Nog ’n akteur, Anton Dekker, het geskryf: “Rus in vrede, Saranti Reeders. Jou ongelooflike talent het ons betower, en jou wonderlike avant-garde sin vir humor het ons vermaak. Jy het kleur aan ons lewens gegee, en nou is daardie kleur weg en net ’n groot leë, baie seer, plek in my borskas bly oor.”

Reeders het vir Play@Risk ’n Kanna-prys by die KKNK in die kategorie Beste Kabaret en Musikale Teater ontvang. Sy is ook twee keer vir ’n Naledi-toekenning in die kategorie Beste Regisseur benoem.

Meer oor:  Musikant  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.