Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Skole, drank, saamtrekke: Kenners vra strenger reëls

Die sluiting van skole in provinsies wat die ergste deur Covid-19 geraak word, strenger inperkings op drankverkope en die algehele afskaffing van byeenkomste.

Dít is van die regulasies wat kenners voorstel om die stygende Covid-19-syfers hok te slaan.

Tussen 12 en 13 Junie is 7 657 nuwe gevalle in die land aangeteken, waarvan 4 891 in Gauteng is. Die provinsie steier onder die druk van oorvol hospitale, terwyl die aantal gevalle toeneem.

Prof. Jeffrey Mphahlele, adjunkvoorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMNR). Foto: Argief

Prof. Jeffrey Mphahlele, adjunkvoorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad, sê die virus maak veral ook amok in Noordwes, die Vrystaat en die Noord-Kaap.

“Ek dink die regering moet ’n aangepaste vlak 3 oorweeg wat gevalle verminder maar wat steeds ekonomiese aktiwiteite toelaat. Die sluiting van skole in provinsies wat oorweldig is, moet ook ernstig oorweeg word. Talle van die skole is reeds gesluit,” sê Mphahlele.

Prof. Susan Goldstein, ’n kenner in openbare gesondheid aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits), sê die regering moet oorweeg om die verkope van alkohol te reguleer, maar nie ’n algehele drankverbod instel nie.

“Ek dink hulle kan die verkope op naweke beperk of die ure reguleer waarin verkope mag plaasvind. Verkope in restaurante en kuierplekke kan ook gereguleer word. Ons kan sien daar waar drank betrokke is, dra mense nie hul maskers nie,” sê Goldstein.

Sy sê inperkings kan per provinsie oorweeg word “as dit binne die regering se vermoë is om dit te reguleer”.

Prof. Guy Richards, emeritusprofessor in kritieke sorg verbonde aan Wits, meen dat veral sosiale byeenkomste heeltemal verbied moet word.

Dit sluit volgens hom kerkbyeenkomste, partytjies, troues en begrafnisse in.

Hy sê die styging in infeksies in Gauteng, Noordwes, die Vrystaat en Noord-Kaap is meer as in die ander twee vlae en dat ingryping dringend nodig is.

Volgens hom is hospitale in Gauteng reeds oorvol en veroorsaak die toe Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg groot probleme.

Prof. Guy Richards, emeritusprofessor in kritieke sorg verbonde aan Wits. Foto: Argief

“Mense besef nie die hospitaal het die meerderheid van die provinsie se Covid-19-gevalle behandel nie. Private en openbare hospitale soek radeloos na beddens om pasiënte te behandel,” sê Richards.

Vuyo Mhaga, woordvoerder van die Gautengse premier, David Makhura, sê die hospitaal sal “onbepaald” gesluit wees ná ’n brand.

Volgens Mhaga moet daar eers aan die vereistes van die Johannesburg-metro voldoen word voordat die hospitaal in fases sal heropen.

Makhura het vroeër gesê die onkologie-gedeelte van die hospitaal sou reeds op 7 Junie heropen het.

Mhaga sê verder die provinsie se bevelsraad is besig om strenger regulasies binne vlak 2 van die inperking te bespreek.

Intussen sê Netcare hy het alle niedringende operasies gestaak om kapasiteit vir pasiënte, veral in Gauteng, te bewerkstellig.

“Soms moet pasiënte by ons hospitale se noodeenhede ongelukkig wag as daar skielik ’n toestroming van pasiënte is.

“As deel van ons rampbestuursbeplanning het ons tydelike kliniese besluitnemingseenhede by sekere hospitale in die provinsie ingerig om bykomende pasiënte te akkommodeer,” sê Jacques du Plessis, besturende direkteur van Netcare se hospitaalafdeling.

Meer oor:  Strenger Inperkings  |  Covid-19  |  Skole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.