Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Skoonmakers is ‘doodsvonnis’

Die departement van verdediging het ’n R27 miljoen-kontrak met ’n skoonmaakdiens vir 1 Militêre Hospitaal in Pretoria ná skaars ’n jaar gekanselleer omdat dit vir die hospitaal ’n “doodsvonnis vir alle pasiënte” inhou.

1 Militêre Hospitaal in Pretoria. Foto: Liza van Deventer

Dis die hospitaal waar onder andere die president behandel word.

Die kontrak met Addscapes, wat handel dryf as Searchlight Cleaning, is begin Oktober gekanselleer om “hoërisiko-infeksies te keer weens die higiënestandaard wat gedaal het as direkte gevolg van kontrakbreuk”, sê die departement in hofstukke wat by die hooggeregshof in Pretoria ingedien is.

Die kontrak bepaal die skoonmakers moet veiligheidstewels en -handskoene dra.

“Die meeste van hulle kom egter na 1 Mil sonder behoorlike stewels en hulle het nie eens veiligheidshandskoene nie. Uiteindelik gebruik hulle die hospitaal se gesteriliseerde handskoene wat nie bedoel is vir skoonmaak nie, maar om infeksies te keer.”

Higiëne­standaard het gedaal weens kontrakbreuk.

Toe genl. Solly Shoke, weermaghoof, die hospitaal op 27 Augustus besoek het, “het hy werkers sonder uniforms, stewels en identiteitskaarte teëgekom”, lui die hofstukke.

Dié dag moes daar op die dagskof 84 skoonmakers wees, maar daar was net 64. Op die nagskof was daar vyf, pleks van 12. Op 24 Augustus moes daar 17 werkers wees, maar net tien het opgedaag, en op die nagskof “niemand nie – zero”, sê die departement.

Op vergaderings oor die kontrak is een probleem herhaaldelik bespreek: dat die skoonmakers ’n veiligheidsrisiko inhou omdat hulle sonder identiteitskaarte by die hospitaal instap.

Die departement se logistieke afdeling het die maatskappy in Julie in ’n brief gewaarsku oor sy “onbevredigende en swak diens”. Luidens die brief moet die maatskappy sy sokkies optrek en kry hy kans om sy diens te verbeter.

Addscapes het ontken hy lewer ’n swak diens. Hy het gesê hy het selfs werk gedoen wat nie van hom verwag word nie, soos “herstellende skoonmaakdienste” deur waterskade, wat gebarste pype gelaat het, skoon te maak. Hy het geëis dat die departement sy waarskuwing terugtrek.

Addscapes het ook gekla dat hy sedert Maart nie betaal is nie. Hy het gesê dít strem sy verhouding met sy eie verskaffers en derde partye ernstig.

Die departement sê hy het nie geweier om die maatskappy te betaal nie, want hy moes eers kyk of Addscapes belastinggehoorsaam is voordat enige betaling gemaak kan word.

Nadat Addscapes die driejaarkontrak op 29 November 2018 op tender gekry het, het dit reeds geblyk sy belastingsake was nie in orde nie.

Nog ’n rede wat die departement vir die kansellasie gegee het, was Addscapes se “insolvensie”.

Die maatskappy Cede Capital het in Mei ’n voorlopige likwidasiebevel teen Addscapes gekry omdat dié hom geld geskuld het. Die likwidasie is in September opgehef nadat Addscapes erken het hy skuld Cede Capital geld en toe deur die hof beveel is om die skuld te betaal.

Addscapes is einde Oktober na die dringende hof om die kontrak te probeer terugkry. Hy sê in hofstukke hy is nooit kans gegun om op die bewerings van swak werk te reageer nie. Hy het ook nie kans gekry om die beweerde kontrakbreuk reg te stel nie.

Omdat die likwidasiebevel teen hom opgehef is, is daar geen rede om te sê hy is bankrot nie. Die departement kan nie ’n “vals indruk” wek dat die maatskappy nie die nodige finansies het om sy pligte uit te voer nie.

Die partye het ooreengekom dat die geskil eerder deur bemiddeling of arbitrasie bygelê moet word. Volgens dié skikking wat op 7 November beklink is, mag die kontrakskoonmakers in die hospitaal bly werk totdat die bemiddeling of arbitrasie afgehandel is.

Die werk moet egter kragtens die bepalings in die kontrak gedoen word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.